Hoe moet ons mense beskou namate Jehovah se dag nader kom?
“Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte . . . nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom.”—2 PETRUS 3:9.
1, 2. (a) Hoe beskou Jehovah mense wat vandag lewe? (b) Watter vrae kan ons ons afvra?
JEHOVAH se knegte het die opdrag ontvang om “dissipels van mense van al die nasies [te maak]” (Matteus 28:19). Terwyl ons hierdie toewysing uitvoer en “die groot dag van Jehovah” verwag, moet ons sy beskouing van mense hê (Sefanja 1:14). En hoe beskou hy hulle? Die apostel Petrus sê: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). God beskou mense as individue met die potensiaal om tot berou te kom. Sy “wil . . . is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). Ja, Jehovah is verheug wanneer “’n goddelose hom van sy weg afkeer en bly lewe”!—Esegiël 33:11.
2 Het ons as individue Jehovah se beskouing van mense? Beskou ons, soos hy, mense uit elke ras en nasie as potensiële “skape van sy weiding”? (Psalm 100:3; Handelinge 10:34, 35). Kom ons kyk na twee voorbeelde wat toon hoe belangrik dit is om God se beskouing te hê. In albei gevalle was vernietiging op hande, en Jehovah se knegte is vooraf hiervan in kennis gestel. Hierdie voorbeelde is veral betekenisvol terwyl ons Jehovah se groot dag verwag.
Abraham het Jehovah se beskouing gehad
3. Wat was Jehovah se beskouing van die inwoners van Sodom en Gomorra?
3 Die eerste voorbeeld is dié van die getroue aartsvader Abraham en die goddelose stede Sodom en Gomorra. Toe Jehovah “die klaaggeroep oor Sodom en Gomorra” gehoor het, het hy daardie stede en hulle inwoners nie onmiddellik vernietig nie. Hy het eers ondersoek ingestel (Genesis 18:20, 21). Twee engele is na Sodom gestuur, waar hulle by die regverdige man Lot tuisgegaan het. Die aand toe die engele daar aangekom het, “het die manne van die stad, . . . die huis omsingel, seun sowel as ou man, die hele volk in een oproerige skare”, omdat hulle homoseksuele omgang met die engele wou hê. Die verdorwe toestand van die stad se inwoners was ’n duidelike bewys dat hulle vernietiging verdien het. Tog het die engele vir Lot gesê: “Het jy enigiemand anders hier? ’n Skoonseun en jou seuns en jou dogters en almal wat joune is in die stad, bring hulle uit die plek uit!” Jehovah het dit moontlik gemaak vir ander inwoners van daardie stad om gered te word, maar op die ou end het net Lot en sy twee dogters die vernietiging oorleef.—Genesis 19:4, 5, 12, 16, 23-26.
4, 5. Waarom het Abraham ten behoewe van die inwoners van Sodom gepleit, en was sy beskouing van mense in ooreenstemming met dié van Jehovah?
4 Kom ons gaan nou terug na die tyd toe Jehovah sy voorneme bekend gemaak het om die stede Sodom en Gomorra te ondersoek. Dit was by daardie geleentheid dat Abraham gepleit het: “Gestel daar is vyftig regverdiges binne-in die stad. Sal u hulle dan wegvee en die plek nie vergewe ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie? Dit is ondenkbaar van u dat u op hierdie manier handel om die regverdige saam met die goddelose dood te maak, sodat dit met die regverdige moet gaan soos met die goddelose! Dit is ondenkbaar van u. Sal die Regter van die hele aarde nie doen wat reg is nie?” Abraham het twee keer die uitdrukking “dit is ondenkbaar van u” gebruik. Uit ondervinding het Abraham geweet dat Jehovah nie die regverdiges saam met die goddeloses sal vernietig nie. Toe Jehovah gesê het dat hy Sodom nie sou vernietig as daar “vyftig regverdiges binne-in die stad” was nie, het Abraham die getal geleidelik verminder tot net tien.—Genesis 18:22-33.
5 Sou Jehovah na Abraham se smekinge geluister het as dit nie in ooreenstemming met sy eie beskouing was nie? Natuurlik nie. As “Jehovah se vriend” het Abraham klaarblyklik geweet wat Jehovah se beskouing is, en hy het dieselfde beskouing gehad (Jakobus 2:23). Toe Jehovah sy aandag op Sodom en Gomorra gevestig het, was hy bereid om Abraham se versoek in ag te neem. Waarom? Omdat ons hemelse Vader “nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom”.
Jona se beskouing van mense—’n skerp teenstelling
6. Hoe het die Nineviete op Jona se boodskap gereageer?
6 Kom ons kyk nou na die tweede voorbeeld—dié van Jona. Hierdie keer was Nineve die stad wat tot vernietiging gedoem is. Die profeet Jona is gestuur om bekend te maak dat die slegtheid van daardie stad ‘voor Jehovah opgekom het’ (Jona 1:2). Saam met al sy voorstede was Nineve ’n groot stad, “drie dagreise te voet”. Toe Jona uiteindelik sy opdrag gehoorsaam het en Nineve ingegaan het, het hy bly verkondig: “Nog net veertig dae, en Nineve sal verwoes word.” Toe het “die manne van Nineve . . . geloof in God begin stel, en hulle het ’n vas uitgeroep en hulle met saklinne beklee”. Selfs die koning van Nineve het berou getoon.—Jona 3:1-6.
7. Hoe het Jehovah die berouvolle gesindheid van die Nineviete beskou?
7 Dit het ’n skerp teenstelling gevorm met die reaksie in Sodom! Hoe het Jehovah die berouvolle Nineviete beskou? Jona 3:10 sê: “Die ware God [het] spyt gevoel oor die rampspoed wat hy gesê het hy oor hulle sou bring; en hy het dit nie gebring nie.” Jehovah het “spyt gevoel” in die sin dat hy sy handelinge met die Nineviete aangepas het omdat hulle hulle weë verander het. Goddelike standaarde het nie verander nie, maar Jehovah het van besluit verander toe hy sien dat die Nineviete berouvol is.—Maleagi 3:6.
8. Waarom het Jona ergerlik geraak?
8 Het Jona, toe hy besef het dat Nineve nie vernietig gaan word nie, Jehovah se beskouing van sake gehad? Nee, want ons lees: “Jona was baie ontevrede hieroor, en hy het kwaad geword.” Wat het Jona nog gedoen? Die verslag sê: “Hy het derhalwe tot Jehovah gebid en gesê: ‘Ag, o Jehovah, was ek nie hieroor besorg terwyl ek in my eie land was nie? Daarom het ek vroeër na Tarsis gevlug; want ek het geweet dat u ’n genadige en barmhartige God is, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en spyt voel oor die rampspoed’” (Jona 4:1, 2). Jona het Jehovah se eienskappe geken. Maar op daardie tydstip het die profeet ergerlik geraak en nie God se beskouing van die berouvolle inwoners van Nineve gehad nie.
9, 10. (a) Van watter les het Jehovah Jona voorsien? (b) Waarom kan ons aanneem dat Jona uiteindelik Jehovah se beskouing van die Nineviete verkry het?
9 Jona het uit Nineve gegaan, ’n hut gemaak en in die skaduwee daarvan gaan sit “totdat hy sou sien wat van die stad sou word”. Jehovah het ’n kalbasplant laat groei sodat dit Jona van skaduwee kon voorsien. Maar die volgende dag het die plant verdroog. Toe Jona kwaad daaroor geword het, het Jehovah gesê: “Jý het jammer gevoel vir die kalbasplant . . . En behoort ék nie jammer te voel vir Nineve, die groot stad, waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat glad nie die verskil tussen hulle regter- en hulle linkerhand ken nie, benewens talle mak diere?” (Jona 4:5-11). Wat ’n les was dit tog vir Jona oor hoe Jehovah mense beskou!
10 Jona se reaksie op God se woorde om jammer vir die mense van Nineve te voel, is nie opgeteken nie. Dit is nietemin duidelik dat die profeet sy beskouing van die berouvolle Nineviete aangepas het. Ons kom tot hierdie slotsom omdat Jehovah hom gebruik het om dié geïnspireerde verslag neer te skryf.
Watter gesindheid het jy?
11. Watter beskouing sou Abraham heel waarskynlik van mense in ons tyd gehad het?
11 Vandag is daar ook ’n vernietiging op hande—die vernietiging van die huidige goddelose stelsel van dinge gedurende die groot dag van Jehovah (Lukas 17:26-30; Galasiërs 1:4; 2 Petrus 3:10). Watter beskouing sou Abraham gehad het van mense in hierdie wêreld wat binnekort vernietig gaan word? Hy sou heel waarskynlik besorg gewees het oor diegene wat nog nie die “goeie nuus van die koninkryk” gehoor het nie (Matteus 24:14). Abraham het herhaaldelik by God gepleit vir die mense in Sodom wat moontlik regverdig was. Voel ons as individue besorg oor mense wat die weë van hierdie wêreld onder Satan se beheer sal verwerp as hulle die geleentheid kry om berou te toon en God te dien?—1 Johannes 5:19; Openbaring 18:2-4.
12. Waarom is dit maklik om ’n gesindheid soos dié van Jona te ontwikkel teenoor mense wat ons in ons bediening ontmoet, en wat kan ons daaromtrent doen?
12 Dit is gepas om na die einde van goddeloosheid te smag (Habakuk 1:2, 3). Tog is dit so maklik om ’n gesindheid soos dié van Jona te ontwikkel en onbesorg te wees oor die welsyn van mense wat nog berou kan toon. Dit is veral waar as ons voortdurend mense ontmoet wat onverskillig, vyandiggesind of selfs aggressief is wanneer ons hulle met die Koninkryksboodskap besoek. Ons vergeet dalk dat daar nog mense is wat Jehovah uit hierdie goddelose stelsel van dinge sal red (Romeine 2:4). As ’n ernstige selfondersoek toon dat ons selfs in geringe mate die gesindheid het wat Jona aanvanklik teenoor die Nineviete gehad het, kan ons bid vir hulp om ons beskouing in ooreenstemming met Jehovah s’n te bring.
13. Waarom kan ons sê dat Jehovah besorg is oor mense wat vandag lewe?
13 Jehovah is besorg oor diegene wat hom nog nie dien nie, en hy luister na die smekinge van sy toegewyde knegte (Matteus 10:11). Hy sal byvoorbeeld “reg laat geskied” in antwoord op hulle gebede (Lukas 18:7, 8). Wat meer is, Jehovah sal al sy beloftes en voornemens op sy bestemde tyd vervul (Habakuk 2:3). Dit sluit in dat hy alle boosheid van die aarde sal verwyder, net soos hy Nineve vernietig het nadat die inwoners daarvan weer in goddeloosheid verval het.—Nahum 3:5-7.
14. Wat moet ons doen terwyl ons Jehovah se groot dag verwag?
14 Sal ons geduldig wag en aanhou om sy wil te doen totdat hierdie goddelose stelsel van dinge gedurende die groot dag van Jehovah vernietig word? Ons weet nie tot watter mate die predikingswerk nog gedoen moet word voor die koms van Jehovah se dag nie, maar ons weet wel dat die goeie nuus van die Koninkryk na God se goeddunke verkondig sal word in die hele bewoonde aarde voordat die einde kom. En ons moet beslis besorg wees oor die “begeerlike dinge” wat nog ingebring moet word namate Jehovah voortgaan om sy huis met heerlikheid te vul.—Haggai 2:7.
Ons dade toon ons beskouing
15. Wat kan ons meer bewus maak van die belangrikheid van die predikingswerk?
15 Dalk woon ons in ’n gemeenskap waar mense nie gunstig op die predikingswerk reageer nie en is ons nie in staat om na ’n gebied te trek waar meer Koninkryksverkondigers nodig is nie. Gestel tien mense kan in ons gebied gevind word voordat die einde kom. Dink ons dat dit die moeite werd is om na daardie tien te soek? Jesus het “innig jammer gevoel” vir mense, “want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). As ons die Bybel bestudeer en die artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! aandagtig lees, kan ons groter insig kry in die benarde toestand waarin hierdie wêreld verkeer. Dit kan ons dan meer bewus maak van die feit dat ons die goeie nuus moet verkondig. En as ons met waardering gebruik maak van die Bybelpublikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word, kan ons met groter oorredingskrag getuig in gebiede wat dikwels gedek word.—Matteus 24:45-47; 2 Timoteus 3:14-17.
16. Hoe kan ons groter welslae in ons bediening behaal?
16 Ons besorgdheid oor diegene wat dalk nog nie op die lewegewende Bybelboodskap gereageer het nie, sal ons laat dink aan verskillende tye en maniere om huisbewoners in ons gebied te nader. Vind ons dat baie nie tuis is nie wanneer ons hulle besoek? Indien wel, sal ons moontlik groter welslae in ons bediening behaal as ons ons getuieniswerk op verskillende tye en plekke doen. Vissermanne gaan uit om vis te vang wanneer en waar die vis sal byt. Kan ons iets soortgelyks doen in ons geestelike visvangwerk? (Markus 1:16-18). Waarom nie aand- of telefoongetuieniswerk probeer as dit wettig is nie? Party het gevind dat parkeerterreine, stilhouplekke vir vragmotors, vulstasies en winkels produktiewe ‘visvangplekke’ is. As ons ’n gesindheid soos dié van Abraham teenoor mense het, sal ons geleenthede aangryp om informeel te getuig.
17. Op watter maniere kan ons sendelinge en ander wat in die buiteland dien, aanmoedig?
17 Miljoene het nog nie die Koninkryksboodskap gehoor nie. Kan ons, benewens in ons predikingswerk, besorgdheid oor sulke mense toon selfs sonder om ons huis te verlaat? Ken ons dalk sendelinge of voltydse bedienaars wat in ander lande dien? As dit die geval is, kan ons vir hulle briewe skryf waarin ons waardering vir hulle werk uitspreek. Hoe sal dit besorgdheid oor mense in die algemeen toon? Ons briewe waarin ons die sendelinge aanmoedig en prys, kan hulle versterk om in hulle toewysing te bly, en sodoende kan meer mense gehelp word om tot ’n kennis van die waarheid te kom (Rigters 11:40). Ons kan ook bid vir sendelinge en vir diegene in ander lande wat na die waarheid honger (Efesiërs 6:18-20). Nog ’n manier waarop ons besorgdheid kan toon, is deur geldelike bydraes vir die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies te gee.—2 Korintiërs 8:13, 14; 9:6, 7.
Kan jy verhuis?
18. Wat het party Christene gedoen om Koninkryksbelange te bevorder in die land waar hulle woon?
18 Diegene wat verhuis het na plekke waar meer Koninkryksverkondigers nodig is, word geseën vir hulle selfopofferende pogings. Ander Getuies van Jehovah bly in hulle eie land, maar leer ’n ander taal sodat hulle geestelike hulp aan immigrante kan gee. Sulke pogings werp inderdaad vrugte af. Byvoorbeeld, sewe Getuies wat Chinese mense in ’n stad in Texas, VSA, gehelp het, het 114 by die herdenking van die Here se Aandmaal in 2001 verwelkom. Diegene wat hierdie groepe help, het gevind dat die oes reg is om ingesamel te word.—Matteus 9:37, 38.
19. Wat moet jy doen as jy dit oorweeg om na ’n ander land te verhuis om die Koninkrykspredikingswerk daar te bevorder?
19 Miskien dink jy en jou gesin daaraan om na ’n plek te verhuis waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Dit is natuurlik verstandig om eers te ‘gaan sit en die koste te bereken’ (Lukas 14:28). Dit is veral noodsaaklik as iemand dit oorweeg om na ’n ander land te verhuis. Enigeen wat hierdie moontlikheid oorweeg, kan hom gerus afvra: ‘Sal ek my gesin kan onderhou? Kan ek die nodige visums kry? Ken ek reeds die taal van die land, of is ek bereid om dit te leer? Het ek al gedink aan die klimaat en die kultuur? Kan ek werklik “’n versterkende hulp” vir medegelowiges in daardie land wees, en nie ’n las nie?’ (Kolossense 4:10, 11). Om uit te vind hoeveel hulp nodig is in die land waarheen jy wil verhuis, is dit altyd gepas om te skryf aan die takkantoor van Jehovah se Getuies wat toesig hou oor die predikingswerk in daardie gebied.a
20. Hoe het ’n jong Christen wat in ’n ander land gaan help het, hom ingespan tot voordeel van medegelowiges en ander?
20 Een Christen wat gehelp het om Koninkryksale in Japan te bou, het gehoor dat geskoolde werkers nodig was om ’n plek van aanbidding in Paraguay te bou. Aangesien hy ongetroud en vol jeugdige krag was, het hy na daardie land verhuis en agt maande lank as die enigste voltydse werker by die projek gewerk. Gedurende sy verblyf het hy Spaans geleer en tuisbybelstudies gehou. Hy kon sien dat meer Koninkryksverkondigers in daardie land nodig was. Hoewel hy na Japan teruggekeer het, het hy kort daarna teruggegaan na Paraguay en gehelp om mense na daardie einste Koninkryksaal te bring.
21. Wat moet ons vernaamste strewe en ons beskouing wees terwyl ons Jehovah se groot dag verwag?
21 God sal toesien dat die predikingswerk ten volle uitgevoer word, in ooreenstemming met sy wil. Vandag bespoedig hy die finale werk om die geestelike oes in te samel (Jesaja 60:22). Laat ons dan, terwyl ons Jehovah se dag verwag, ywerig deelneem aan die oeswerk en mense beskou soos ons liefdevolle God hulle beskou.
[Voetnoot]
a Dit is nie altyd goed om op jou eie na ’n land te verhuis waar die predikingswerk verbied of beperk is nie. Dit kan selfs die Koninkryksverkondigers daar benadeel wat versigtig te werk moet gaan onder sulke omstandighede.
Onthou jy?
• Hoe moet ons mense beskou terwyl ons Jehovah se dag verwag?
• Wat was Abraham se beskouing van regverdiges wat dalk in Sodom gelewe het?
• Hoe het Jona die berouvolle mense van Nineve beskou?
• Hoe kan ons toon dat ons Jehovah se beskouing het van mense wat nog nie die goeie nuus gehoor het nie?
[Prent op bladsy 16]
Abraham het Jehovah se beskouing van mense gehad
[Prent op bladsy 17]
Jona het later Jehovah se beskouing van die berouvolle Nineviete verkry
[Prente op bladsy 18]
Besorgdheid oor mense laat ons aan verskillende tye en maniere dink om die goeie nuus bekend te maak