Gee God heerlikheid nie mense nie
IN ONLANGSE maande het liefhebbers van regverdigheid in alle wêrelddele geleer hoe om heerlikheid aan God te gee toe hulle vir die “Gee God heerlikheid”-streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies bymekaargekom het. Kom ons hersien die onderrigtingsprogram wat daar aangebied is.
Vir die meeste byeenkomsgangers het die Bybelprogram drie opeenvolgende dae geduur en vir diegene wat die spesiale internasionale samekomste kon bywoon, het dit vier dae geduur. Die byeenkomsgangers het na meer as 30 skriftuurlike programdele geluister, waaronder toesprake wat waardering vir geestelike dinge vergroot het, ondervindinge wat geloof opgebou het, demonstrasies wat die praktiese nut van Bybelbeginsels beklemtoon het en ’n gekostumeerde drama oor die uitdagings waarvoor eerste-eeuse Christene te staan gekom het. As jy een van die byeenkomste bygewoon het, kan jy gerus jou aantekeninge hersien terwyl jy hierdie artikel lees. Ons is seker dat dit goeie herinneringe van ’n ryk geestelike feesmaal sal terugbring en ook leersaam sal wees.
Eerste dag se tema: “U is waardig, Jehovah, om die heerlikheid te ontvang”
Ná die openingslied en -gebed het die eerste spreker almal teenwoordig hartlik verwelkom in ’n toespraak wat die aandag gevestig het op die hoofdoel van die byeenkoms: “Byeen om God te verheerlik.” Die spreker het die byeenkoms se tema beklemtoon en Openbaring 4:11 aangehaal. Hy het gou tot die punt gekom en verduidelik wat dit beteken om God te verheerlik. Deur die boek Psalms te gebruik, het hy beklemtoon dat ons God verheerlik deur hom te “aanbid”, “danksegging” aan hom te gee en hom te “prys”.—Psalm 95:6; 100:4, 5; 111:1, 2.
Die volgende deel se tema was “Geseënd is dié wat heerlikheid aan God gee”. Die spreker het ’n interessante opmerking gemaak. Aangesien daar wêreldwyd meer as sesmiljoen van Jehovah se Getuies in 234 lande is, kan daar gesê word dat die son nooit ondergaan oor dié wat heerlikheid aan Jehovah bring nie (Openbaring 7:15). ’n Onderhoud met ’n aantal Christenbroers en -susters in die een of ander vorm van spesiale voltydse diens was ’n aspek van hierdie programdeel wat die gehoor baie waardeer het en wat hulle harte geraak het.
“Die skepping maak die heerlikheid van God bekend” was die volgende toespraak. Die fisiese hemele verheerlik God se grootheid stilswyend en help ons om groter waardering vir sy liefdevolle sorg te hê. Dit is breedvoerig aan ons verduidelik.—Jesaja 40:26.
Vervolging, teenstand, wêreldse invloede en sondige neigings stel die onkreukbaarheid van ware Christene op die proef. Daarom het die toespraak “Wandel in die weg van onkreukbaarheid” die gehoor se onverdeelde aandag verdien. Dit is gevolg deur ’n vers-vir-vers-bespreking van die 26ste Psalm, asook ’n onderhoud met ’n skoolgaande Getuie wat ferm standpunt vir sedelikheid ingeneem het en met iemand wat te veel tyd aan twyfelagtige vermaak bestee het, maar stappe gedoen het om die probleem te bowe te kom.
Die programrede “Glorieryke profetiese visioene spoor ons aan!” het die oggendprogram afgesluit. Die spreker het die voorbeelde van die profeet Daniël en die apostels Johannes en Petrus genoem as mense wie se geloof versterk is deur glorieryke profetiese visioene wat met die oprigting en werking van God se Messiaanse Koninkryk verband gehou het. Vir enigiemand wat dalk die duidelike bewyse dat ons in die tyd van die einde lewe, uit die oog verloor het, het die spreker gesê: “Ons hoop van harte dat sulke persone weer eens hulle aandag op die werklikheid van Christus se teenwoordigheid in Koninkryksheerlikheid sal vestig en so gehelp sal word om hulle geestelike krag te herwin.”
Die middagprogram het begin met die toespraak “Jehovah se heerlikheid word aan nederiges geopenbaar”. Die spreker het getoon hoe Jehovah die voorbeeld in nederigheid stel, al is hy die hoogste Persoon in die heelal (Psalm 18:35). Jehovah betoon guns aan diegene wat werklik nederig is, maar hy staan diegene teë wat net nederig voorkom wanneer hulle met hulle portuurs of hulle meerderes te doen het, maar dié onder hulle toesig hardvogtig behandel.—Psalm 138:6.
Volgende is Bybelprofesie bespreek in ’n simposium wat verskillende aspekte uitgelig het van die hooftema: “Die profesie van Amos—die boodskap daarin vir ons dag.” Die eerste spreker het na Amos se voorbeeld verwys en die aandag gevestig op ons verantwoordelikheid om mense oor Jehovah se naderende oordeel te waarsku. Die tema van sy toespraak was “Spreek God se woord met vrymoedigheid”. Die tweede spreker het gevra: “Sal Jehovah ooit ’n einde maak aan die goddeloosheid en lyding op die aarde?” Sy deel, “God se oordeel oor die goddeloses”, het getoon dat goddelike oordeel altyd verdiend, altyd onontkombaar en selektief is. Die laaste simposiumspreker het die aandag gevestig op die tema “Jehovah ondersoek die hart”. Diegene wat Jehovah wil behaag, sal ag gee op die woorde in Amos 5:15: “Haat wat sleg is, en wees lief vir wat goed is.”
Alkoholiese drank, soos wyn wat die hart vrolik maak, kan misbruik word. In sy toespraak “Vermy die strik van drankmisbruik” het die spreker die fisiese en geestelike gevare gemeld van die oormatige gebruik van alkohol, selfs al word ’n mens nie dronk nie. Hy het ’n riglyn verskaf: Aangesien alkoholtoleransie van persoon tot persoon verskil, is enige hoeveelheid wat jou “praktiese wysheid en denkvermoë” belemmer, te veel vir jóú.—Spreuke 3:21, 22.
Aangesien ons in kritieke tye lewe, was die volgende tema, “Jehovah, ons ‘vesting in tye van benoudheid’”, vertroostend. Gebed, heilige gees en mede-Christene kan ons help om standvastig te bly.
Die laaste toespraak van die dag, “‘Die goeie land’—’n voorskou van die Paradys”, is afgesluit met ’n aangename verrassing vir almal—’n nuwe publikasie vol Bybelkaarte! Die titel daarvan is Sien die goeie land.
Tweede dag se tema: “Maak onder die nasies sy heerlikheid bekend”
Ná ’n bespreking van die dagteks is die tweede simposium van die byeenkoms aangebied, met die tema “Weerkaats die heerlikheid van Jehovah soos spieëls”. Die eerste deel het die tema “Deur die goeie nuus oral te verkondig” bespreek en demonstrasies van werklike velddiensondervindinge ingesluit. In die tweede toespraak het die spreker ’n demonstrasie van ’n herbesoek ingesluit in die deel “Deur die sluier te verwyder van dié wat verblind is”. Die laaste deel, met die tema “In voller mate in ons bediening”, is aangevul deur interessante onderhoude oor velddiensondervindinge.
Die volgende deel op die program was “Sonder oorsaak gehaat”. Dit het kragtige onderhoude ingesluit met getroue individue wat in God se krag hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het ondanks teenstand.
’n Hoogtepunt van byeenkomste waarna daar baie uitgesien word, is die dooptoespraak gevolg deur algehele onderdompeling in water van alle kandidate wat aan die vereistes voldoen. Waterdoop simboliseer iemand se volkome toewyding aan Jehovah. Die onderwerp was dus baie gepas: “Dit verheerlik God as ons ons toewyding naleef.”
Die middagprogram het met ’n toespraak begin wat selfondersoek aangemoedig het. Die tema was “Kweek ’n Christelike beskouing van grootheid aan”. Die spreker het hierdie interessante punt gemaak: Grootheid lê daarin dat ’n mens die nederigheid van Christus navolg. ’n Christen moet dus nie verantwoordelikheid nastreef om persoonlike ambisie te bevredig nie. Hy moet hom afvra: ‘Is ek gewillig om nuttige takies te verrig wat nie maklik opgemerk sal word nie?’
Voel jy ooit moeg? Die antwoord is vanselfsprekend. Almal het die toespraak “Moeg maar nie vermoeid nie” waardeer. Die onderhoude met Getuies wat al lank in die waarheid is, het getoon dat Jehovah ons “deur middel van sy gees sterk” maak.—Efesiërs 3:16.
Vrygewigheid is nie ’n eienskap waarmee ons gebore word nie, maar wat ons moet aanleer. Hierdie sleutelpunt is uitgelig in die deel “Wees vrygewig, mededeelsaam”. En hierdie gedagteprikkelende vraag is geopper: “Is ons bereid om ’n paar minute van ons dag af te staan aan broers en susters wat bejaard, siek, terneergedruk of eensaam is?”
“Pas op vir ‘die stem van vreemdelinge’” het die gehoor se aandag geboei. Hierdie toespraak het die volgelinge van Jesus vergelyk met skape wat slegs na sy stem as “die goeie herder” luister, en wat nie na “die stem van vreemdelinge” luister wat uit die talle oorde kom wat deur die Duiwel beïnvloed word nie.—Johannes 10:5, 14, 27.
’n Koor moet harmonies saamsing om verstaan te kan word. Om God te verheerlik, moet ware aanbidders oor die hele wêreld verenig wees. “Verheerlik God ‘uit een mond’” het gevolglik nuttige riglyne gegee oor hoe ons almal die een “suiwer taal” kan praat en Jehovah “skouer aan skouer” kan dien.—Sefanja 3:9.
Ouers, veral diegene met jong kinders, was verheug oor die laaste toespraak van die dag, “Ons kinders—’n kosbare erfenis”. Die gehoor is aangenaam verras toe ’n nuwe publikasie met 256 bladsye vrygestel is. Leer by die Groot Onderwyser is ’n boek wat ouers sal help om geestelik opbouende tye deur te bring saam met hulle kinders, ’n gawe van God.
Derde dag se tema: “Doen alles tot heerlikheid van God”
Die herinneringe in die dagteks het die laaste dag van die byeenkoms op ’n geestelike noot laat begin. Die eerste deel van hierdie dag se program het verdere aandag aan die gesinsreëling geskenk. Die eerste toespraak, “Ouers, bou julle gesin op”, het die toon aangegee. Nadat die spreker die verantwoordelikhede van ouers hersien het om in die materiële behoeftes van hulle gesin te voorsien, het hy bewys dat dit ouers se vernaamste verantwoordelikheid is om in hulle kinders se geestelike behoeftes te voorsien.
Die volgende spreker het met die kinders gepraat oor “Hoe jongmense Jehovah loof”. Hy het gesê dat jongmense soos “doudruppels” is omdat hulle talryk en hulle jeugdige krag verkwikkend is. Volwassenes is bly om saam met hulle in Jehovah se diens te werk (Psalm 110:3). Hierdie deel het pragtige onderhoude met voorbeeldige jongmense ingesluit.
Gekostumeerde Bybeldramas is altyd ’n opwindende deel van streekbyeenkomste, en hierdie een was geen uitsondering nie. Die drama “Getuig met vrymoedigheid ondanks teenstand” het eerste-eeuse volgelinge van Jesus uitgebeeld. Dit was nie net interessant nie, maar nog belangriker, dit was leersaam. Ná die drama het die toespraak “Maak die goeie nuus ‘sonder ophou’ bekend” die hoofpunte van die drama uitgelig.
Almal in die gehoor het uitgesien na ’n hoogtepunt van Sondag se program, die openbare toespraak “Wie gee God vandag heerlikheid?” Die spreker het bewyse aangevoer wat toon dat die wetenskaplike en godsdiensgemeenskappe oor die algemeen God nie verheerlik het nie. Dit is slegs die volk vir sy naam, diegene wat die waarheid oor Jehovah verkondig en leer, wat werklik vandag sy naam verheerlik.
Die openbare toespraak is gevolg deur ’n opsomming van Die Wagtoring-studie vir daardie week. Toe het die tyd aangebreek vir die laaste toespraak, “‘Hou aan om veel vrug te dra’ tot heerlikheid van Jehovah”. Die spreker het aan almal in die gehoor ’n resolusie van tien punte voorgelê. Dit het verskillende maniere uiteengesit waarop heerlikheid aan Jehovah, die Skepper, gegee kan word. Dit is aangeneem met ’n eenparige “Ja”, wat gehoor is by al die byeenkomste van die een kant van die aarde af tot reg aan die ander kant.
Aan die einde van die byeenkoms het die tema “Gee God heerlikheid” dus in die ore van elke byeenkomsganger weerklink. Ja, mag ons met die hulp van Jehovah se gees en die sigbare deel van sy organisasie altyd daarna streef om God heerlikheid te gee en nie mense nie.
[Venster/Prente op bladsy 23]
Internasionale byeenkomste
Internasionale byeenkomste van vier dae elk is in Afrika, Asië, Australië, Europa en Noord- en Suid-Amerika gehou. Verskillende Getuies is uit alle wêrelddele gekies om afgevaardigdes by hierdie samekomste te wees. Op hierdie manier was daar “wedersydse aanmoediging” tussen die besoekers en hulle gashere (Romeine 1:12). Ou vriendskapsbande is hernieu, en nuwes is gesmee. ’n Spesiale aspek van die internasionale byeenkomste was die programdeel met die tema “Verslae uit ander lande”.
[Venster/Prente op bladsy 25]
Nuwe publikasies wat God heerlikheid gee
Twee nuwe publikasies is by die “Gee God heerlikheid”-streekbyeenkoms vrygestel. Die Bybel-atlas Sien die goeie land het ’n duursame buiteblad en 36 bladsye met kaarte en foto’s van plekke waarna die Bybel verwys. Elke bladsy is in volkleur en het kaarte van die ryksgebiede van Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland en Rome. Daar is afsonderlike kaarte wat Jesus se bediening en die uitbreiding van die Christelike godsdiens dek.
Leer by die Groot Onderwyser is ’n boek met 256 bladsye en sowat 230 prente. Talle aangename sessies kan saam met kinders deurgebring word deur bloot na die prente te kyk en gedagteprikkelende vrae in die boek te beantwoord. Hierdie nuwe publikasie is ontwerp om die aanval teë te werk wat Satan teen ons kinders loods en wat daarop gemik is om hulle sedes te verderf.
[Prent op bladsy 23]
Sendelinge het geloofversterkende ondervindinge vertel
[Prente op bladsy 24]
Die doopplegtigheid was ’n hoogtepunt van die “Gee God heerlikheid”- streekbyeenkomste
[Prente op bladsy 24]
Bybeldramas is deur oud en jonk geniet