Die Here se Aandmaal—Hoe moet dit herdenk word?
DIE Christenapostel Paulus werp lig op die herdenking van die Here se Aandmaal en skryf: “Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgedra het, dat die Here Jesus in die nag waarin hy oorgelewer sou word, ’n brood geneem het, en nadat hy gedank het, het hy dit gebreek en gesê: ‘Dit beteken my liggaam, wat vir julle is. Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.’ Nadat hy die aandmaal geëet het, het hy ook dieselfde met betrekking tot die beker gedoen en gesê: ‘Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed. Hou aan om dit, so dikwels as julle dit drink, tot my gedagtenis te doen.’ Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, hou julle aan om die dood van die Here te verkondig, totdat hy kom.”—1 Korintiërs 11:23-26.
Soos Paulus sê, het Jesus die Here se Aandmaal ingestel “in die nag waarin [Jesus] oorgelewer sou word” deur Judas Iskariot aan die Joodse godsdiensleiers wat druk op die Romeine uitgeoefen het om Christus aan die paal te hang. Daardie maaltyd het laat Donderdagaand, 31 Maart 33 G.J., plaasgevind. Jesus het Vrydagmiddag, 1 April, aan ’n folterpaal gesterf. Aangesien die dae van die Joodse kalender van die aand van een dag tot die aand van die volgende dag geduur het, het die Here se Aandmaal en die dood van Jesus Christus op dieselfde dag—14 Nisan 33 G.J.—plaasgevind.
Diegene wat die brood en wyn gebruik, moes ‘aanhou om dit te doen’ tot Jesus se gedagtenis. Volgens ’n ander vertaling het Jesus gesê: “Doen dit ter herdenking aan my” (1 Korintiërs 11:24, The Jerusalem Bible). Die Here se Aandmaal word ook die herdenking van Christus se dood genoem.
Waarom Jesus se dood herdenk?
Die antwoord word gevind in wat met daardie dood verband hou. Jesus het gesterf as die vernaamste verdediger van Jehovah se soewereiniteit. So het hy bewys dat Satan, wat beweer het dat mense God net uit selfsugtige beweegredes dien, ’n leuenaar is (Job 2:1-5; Spreuke 27:11). Deur sy dood as ’n volmaakte mens het Jesus ook ‘sy siel gegee as ’n losprys in ruil vir baie’ (Matteus 20:28). Toe Adam teen God gesondig het, het hy volmaakte menselewe en die vooruitsigte wat dit gebied het, verbeur. Maar “God het die [mense]wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Ja, “die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here”.—Romeine 6:23.
Die dood van Jesus Christus hou dus verband met die twee grootste liefdeblyke—die groot liefde wat Jehovah aan die mensdom betoon het deur sy Seun te gee en die selfopofferende liefde wat Jesus aan die mensdom betoon het deur sy menselewe gewillig af te lê. Die herdenking van Jesus se dood vergroot ons waardering vir hierdie twee liefdeblyke. Behoort ons nie ons dankbaarheid te toon vir hierdie liefde wat ons ontvang het nie? Een manier waarop ons dit kan doen, is deur teenwoordig te wees vir die herdenking van die Here se Aandmaal.
Die betekenis van die brood en die wyn
Toe Jesus die Here se Aandmaal ingestel het, het hy brood en ’n beker rooiwyn as embleme, of simbole, gebruik. Jesus het ’n brood geneem en “nadat hy gedank het, het hy dit gebreek en gesê: ‘Dit [die brood] beteken my liggaam, wat vir julle is’” (1 Korintiërs 11:24). Die brood moes gebreek word om uitgedeel en geëet te word, want dit was ’n redelike bros brood wat van meel en water gemaak is en geen suurdeeg bevat het nie. In die Skrif is suurdeeg ’n simbool van sonde (Matteus 16:11, 12; 1 Korintiërs 5:6, 7). Jesus het geen sonde gehad nie. Sy volmaakte menseliggaam was derhalwe ’n geskikte losprysoffer vir die mensdom (1 Johannes 2:1, 2). Hoe gepas is dit tog dat ongesuurde brood gebruik word om Christus se sondelose vleeslike liggaam voor te stel!
Jesus het ook ’n dankgebed gedoen vir die beker suiwer rooiwyn en gesê: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed” (1 Korintiërs 11:25). Die rooiwyn in die beker stel Jesus se bloed voor. Net soos die bloed van geofferde bulle en bokke die Wetsverbond tussen God en die nasie Israel in 1513 v.G.J. bekragtig het, so het Jesus se bloed wat in die dood uitgestort is, die nuwe verbond bekragtig.
Wie mag die embleme gebruik?
Om vas te stel wie die Gedenkmaalembleme mag gebruik, moet ons verstaan wat die nuwe verbond behels en wie deelgenote daarin is. Die Bybel sê: “‘Kyk! Daar kom dae’, is die woord van Jehovah, ‘en ek sal met die huis van Israel en met die huis van Juda ’n nuwe verbond sluit . . . Ek sal my wet in hulle binneste sit, en in hulle hart sal ek dit skryf. En ek sal hulle God word, en hulle sal my volk word. . . . Ek sal hulle oortreding vergewe, en aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie.’”—Jeremia 31:31-34.
Die nuwe verbond maak ’n spesiale soort verhouding met Jehovah God moontlik. Deur middel van hierdie verbond word ’n sekere groep individue sy volk, en hy word hulle God. Jehovah se wet is in hulle binneste geskryf, in hulle hart, en selfs persone wat nie fisies besnede Jode is nie, kan in die nuwe verbondsverhouding met God kom (Romeine 2:29). Die Bybelskrywer Lukas praat van God se voorneme om ‘Sy aandag op die nasies te rig om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem’ (Handelinge 15:14). Hulle was, volgens 1 Petrus 2:10, “eens nie ’n volk nie, maar is nou God se volk”. Die Skrif noem hulle “die Israel van God”, dit wil sê geestelike Israel (Galasiërs 6:16; 2 Korintiërs 1:21). Die nuwe verbond is dus ’n verbond tussen Jehovah God en geestelike Israel.
Op sy laaste nag saam met sy dissipels het Jesus self ook ’n ander verbond met hulle gesluit. “Ek sluit ’n verbond met julle”, het hy vir hulle gesê, “net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk” (Lukas 22:29). Dit is die Koninkryksverbond. Die getal onvolmaakte mense wat opgeneem word in die Koninkryksverbond, is 144 000. Nadat hulle tot hemelse lewe opgewek word, sal hulle as konings en priesters saam met Christus heers (Openbaring 5:9, 10; 14:1-4). Diegene wat in die nuwe verbond met Jehovah God is, is dus ook in die Koninkryksverbond met Jesus Christus. Hulle is die enigstes wat die embleme van die Here se Aandmaal mag gebruik.
Hoe weet diegene wat die reg het om die Gedenkmaalembleme te gebruik dat hulle ’n unieke verhouding met God het en mede-erfgename van Christus is? Paulus verduidelik: “Die [heilige] gees self getuig met ons gees [ons geestesgesindheid] dat ons God se kinders is. As ons dan kinders is, is ons ook erfgename: ja, erfgename van God, maar mede-erfgename met Christus, mits ons saam ly, sodat ons ook saam verheerlik kan word.”—Romeine 8:16, 17.
Deur middel van sy heilige gees, of werkende krag, salf God die mede-erfgename van Christus. Dit oortuig hulle daarvan dat hulle Koninkrykserfgename is. Dit wek ’n hemelse hoop in gesalfde Christene. Hulle beskou alles wat die Bybel oor hemelse lewe sê, as woorde wat tot hulle gerig is. Hulle is ook bereid om alle aardse bande prys te gee, onder meer lewe op aarde en alle menseverhoudings. Hoewel geesgesalfde Christene besef dat die lewe op die aardse Paradys wonderlik sal wees, koester hulle nie daardie hoop nie (Lukas 23:43). Dit is nie as gevolg van valse godsdiensbeskouings nie, maar as gevolg van die werking van God se gees dat hulle ’n onveranderlike hemelse hoop het en derhalwe die Gedenkmaalembleme tereg gebruik.
Gestel iemand is nie absoluut seker of hy in die nuwe verbond en die Koninkryksverbond is nie. Sê nou God se gees het ook nie getuienis daarvan gegee dat hy ’n mede-erfgenaam met Christus is nie? Dan sal dit verkeerd van hom wees om die Gedenkmaalembleme te gebruik. Trouens, dit sal God mishaag as iemand hom opsetlik voordoen as een van diegene wat geroep is om ’n hemelse koning en priester te wees, sonder dat hy werklik so ’n roeping het.—Romeine 9:16; Openbaring 22:5.
Hoe dikwels moet dit herdenk word?
Moet Jesus se dood weekliks of dalk selfs daagliks herdenk word? Wel, Christus het die Here se Aandmaal ingestel en is ten onregte doodgemaak op die Pasgadag. Die Pasgaviering is net een keer per jaar gehou, op 14 Nisan, om Israel se verlossing uit Egiptiese slawerny te herdenk (Eksodus 12:6, 14; Levitikus 23:5). Die dood van “Christus, ons pasga”, moet dus net een keer per jaar herdenk word, nie weekliks of daagliks nie (1 Korintiërs 5:7). Wanneer Christene die Here se Aandmaal vier, volg hulle dieselfde prosedure as Jesus toe hy dit ingestel het.
Maar wat beteken Paulus se woorde dan: “So dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, hou julle aan om die dood van die Here te verkondig, totdat hy kom”? (1 Korintiërs 11:26). In hierdie teks gebruik Paulus ’n woord wat “elke keer dat”, of “wanneer ook al”, beteken. Hy het dus gesê dat gesalfde Christene, wanneer hulle ook al van die embleme gebruik, hulle geloof in Jesus se losprysoffer sou verkondig.
Gesalfde Christene sou Christus se dood herdenk “totdat hy kom”. Hierdie viering sou voortduur tot Jesus se koms om sy gesalfde volgelinge deur middel van ’n opstanding tot geeslewe in die hemel te ontvang gedurende sy “teenwoordigheid” (1 Tessalonisense 4:14-17). Dit stem ooreen met Christus se woorde aan die 11 lojale apostels: “As ek gaan en vir julle ’n plek berei, kom ek weer en sal julle tuis ontvang by my, sodat julle ook kan wees waar ek is.”—Johannes 14:3.
Wat beteken dit vir jou?
Moet ’n mens van die Gedenkmaalembleme gebruik om deur Jesus se offer gedek te word en ewige lewe op die aarde te ontvang? Nee. Niks in die Bybel gee te kenne dat godvresende mense soos Noag, Abraham, Sara, Isak, Rebekka, Josef, Moses en Dawid ná hulle opstanding op die aarde ooit hierdie embleme sal gebruik nie. Maar hulle en alle ander mense wat graag eindelose lewe op die aarde wil beërf, sal geloof moet beoefen in God en Christus en in Jehovah se voorsiening van Jesus se losprysoffer (Johannes 3:36; 14:1). As jy die ewige lewe wil ontvang, moet jy ook hierdie geloof beoefen. Jou teenwoordigheid by die jaarlikse herdenking van Christus se dood sal jou herinner aan daardie groot offerande en sal jou waardering daarvoor vergroot.
Die apostel Johannes het die belangrikheid van Jesus se offerande beklemtoon toe hy gesê het: “Ek skryf hierdie dinge aan julle [medegesalfdes] sodat julle nie ’n sonde begaan nie. En tog, as iemand ’n sonde begaan, het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus, ’n regverdige. En hy is ’n soenoffer vir ons sondes, en tog nie net vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Johannes 2:1, 2). Gesalfdes kan tereg sê dat Jesus se offer ’n soenoffer vir hulle sondes is. Maar dit is ook ’n offer vir die sondes van die hele wêreld, wat die ewige lewe moontlik maak vir die gehoorsame mensdom!
Sal jy op 4 April 2004 teenwoordig wees om Jesus se dood te herdenk? Dit sal wêreldwyd deur Jehovah se Getuies gevier word by hulle vergaderplekke. As jy dit bywoon, sal jy baat vind by ’n baie belangrike Bybeltoespraak. Jy sal herinner word aan hoeveel Jehovah God en Jesus Christus vir ons gedoen het. Dit sal ook geestelik lonend wees om saam met diegene te vergader wat diepe waardering het vir God en Christus en vir Jesus se losprysoffer. Die geleentheid sal heel moontlik jou begeerte versterk om God se onverdiende goedhartigheid te ontvang, wat tot die ewige lewe lei. Laat niks in jou pad staan nie. Wees teenwoordig vir hierdie hartverblydende herdenking wat ons hemelse Vader, Jehovah God, tot eer strek en behaag.
[Prent op bladsy 5]
Die dood van Jesus hou verband met die twee grootste liefdeblyke
[Prent op bladsy 6]
Die ongesuurde brood en die wyn is gepaste simbole van Jesus se sondelose liggaam en sy vergote bloed