“Voer jou bediening ten volle uit”
“Wees deeglik in jou diens.”—2 TIMOTEUS 4:5, Byington.
1, 2. Wat is ’n skriftuurlike vereiste vir ouer manne, hoewel alle Christene evangeliedienaars is?
IS JY ’n Koninkryksverkondiger? Indien wel, kan jy Jehovah God dank vir hierdie wonderlike voorreg. Is jy ’n ouer man in die gemeente? Dit is ’n verdere voorreg van Jehovah af. Maar ons moet nooit vergeet dat nóg sekulêre geleerdheid nóg welsprekendheid enigeen van ons bekwaam maak vir die bediening of vir ’n opsienersposisie in die gemeente nie. Jehovah is die een wat ons voldoende bekwaam maak vir die bediening, en omdat sommige manne onder ons aan spesifieke skriftuurlike vereistes voldoen, het hulle die voorreg om as opsieners te dien.—2 Korintiërs 3:5, 6; 1 Timoteus 3:1-7.
2 Alle toegewyde Christene doen die werk van evangeliedienaars, maar veral opsieners, of ouer manne, behoort ’n goeie voorbeeld in die bediening te stel. Ouer manne “wat hard werk in woord en onderrigting”, word deur God en Christus raakgesien, asook deur mede-Getuies van Jehovah (1 Timoteus 5:17; Efesiërs 5:23; Hebreërs 6:10-12). ’n Ouer man se onderrigting moet onder alle omstandighede geestelik opbouend wees, want die apostel Paulus het vir die opsiener Timoteus gesê: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes vir hulle onderrigters sal versamel sodat hulle ore gestreel kan word; en hulle sal hulle ore van die waarheid afkeer en hulle tot valse stories wend. Bly jy egter in alles nugter van verstand, ly kwaad, doen die werk van ’n evangeliedienaar, voer jou bediening ten volle uit.”—2 Timoteus 4:3-5.
3. Wat moet gedoen word sodat valse leringe nie ’n bedreiging vir die geestelikheid van die gemeente inhou nie?
3 Om seker te maak dat valse leringe nie ’n bedreiging vir die geestelikheid van die gemeente inhou nie, moet ’n opsiener op Paulus se raad ag slaan: “Bly in alles nugter, . . . wees deeglik in jou diens” (2 Timoteus 4:5, Byington). Ja, ’n ouer man moet ‘sy bediening ten volle uitvoer’. Hy moet dit deeglik, of in volle mate, doen. ’n Ouer man wat sy bediening ten volle uitvoer, skenk noukeurig aandag aan al sy verantwoordelikhede en sorg dat hy niks verwaarloos of half doen nie. So ’n man is getrou, selfs in klein dingetjies.—Lukas 12:48; 16:10.
4. Wat kan ons help om die bediening ten volle uit te voer?
4 Om ons bediening ten volle uit te voer, verg nie altyd meer tyd nie, maar wel dat tyd goed gebruik word. ’n Goeie pas kan alle Christene help om hulle bediening uit te voer. As ’n ouer man meer tyd aan die veldbediening wil bestee, moet hy goed georganiseerd wees sodat hy ’n gebalanseerde rooster kan hê en kan weet wat om te delegeer en hoe om dit te doen (Hebreërs 13:17). ’n Gerespekteerde ouer man doen natuurlik ook sý deel, soos Nehemia, wat persoonlik betrokke geraak het by die herbouing van Jerusalem se mure (Nehemia 5:16). En alle knegte van Jehovah moet gereeld aan die Koninkrykspredikingswerk deelneem.—1 Korintiërs 9:16-18.
5. Hoe moet ons oor die bediening voel?
5 Wat ’n vreugdevolle taak het ons tog as verkondigers van die opgerigte hemelse Koninkryk! Ons waardeer beslis ons voorreg om deel te neem aan die verkondiging van die goeie nuus in die hele bewoonde aarde voordat die einde kom (Matteus 24:14). Hoewel ons onvolmaak is, gee Paulus se woorde ons moed: “Ons het . . . hierdie skat [van die bediening] in erdehouers, sodat die krag wat bo die normale is, God s’n kan wees en nie dié uit onsself nie” (2 Korintiërs 4:7). Ja, ons kan aanneemlike diens verrig—maar slegs met godgegewe krag en wysheid.—1 Korintiërs 1:26-31.
Weerkaats God se heerlikheid
6. Watter kontras is daar tussen natuurlike Israel en geestelike Israel?
6 Paulus het na gesalfde Christene verwys en gesê dat God hulle “voldoende bekwaam gemaak het om bedienaars van ’n nuwe verbond te wees”. Die apostel toon die kontras tussen die nuwe verbond wat met geestelike Israel deur middel van Jesus Christus gesluit is en die ou Wetsverbond wat met natuurlike Israel deur middel van Moses gesluit is. Paulus sê verder dat Moses se gesig so geblink het toe hy met die tafels van die Tien Gebooie teen die berg Sinai afgekom het, dat die Israeliete nie stip na hom kon kyk nie. Mettertyd het iets veel ernstiger gebeur, want “hulle verstandelike vermoëns is afgestomp” en ’n sluier het oor hulle harte gekom. Wanneer persone hulle egter in heelhartige toegewydheid tot Jehovah keer, word die sluier opgelig. Paulus verwys vervolgens na die bediening wat aan diegene in die nuwe verbond gegee is en sê: “Ons [almal weerkaats] met ongesluierde gesigte die heerlikheid van Jehovah soos spieëls” (2 Korintiërs 3:6-8, 14-18; Eksodus 34:29-35). Ook Jesus se “ander skape” het vandag die voorreg om Jehovah se heerlikheid te weerkaats.—Johannes 10:16.
7. Hoe kan mense God se heerlikheid weerkaats?
7 Hoe kan sondige mense God se heerlikheid weerkaats, as geen mens Sy aangesig kan sien en lewe nie? (Eksodus 33:20). Wel, nie net Jehovah se persoonlike heerlikheid is betrokke nie, maar ook sy glorieryke voorneme om deur middel van sy Koninkryk sy soewereiniteit te regverdig. Waarhede wat met die Koninkryk verband hou, maak deel uit van “die luisterryke dinge van God” wat diegene op wie die heilige gees op Pinkster 33 G.J. uitgestort is, begin verkondig het (Handelinge 2:11). Onder die leiding van die gees kon hulle die bediening wat aan hulle toevertrou is, ten volle uitvoer.—Handelinge 1:8.
8. Wat was Paulus vasbeslote om aangaande die bediening te doen?
8 Paulus was vasbeslote om nie toe te laat dat enigiets hom keer om sy bediening ten volle uit te voer nie. Hy het geskryf: “Aangesien ons hierdie bediening het ooreenkomstig die barmhartigheid wat aan ons bewys is, gee ons nie moed op nie; maar ons het afstand gedoen van die agterbakse dinge waaroor ’n mens jou moet skaam en wandel nie met listigheid nie en vervals ook nie die woord van God nie, maar deur die waarheid openbaar te maak, beveel ons ons by elke menslike gewete voor die aangesig van God aan” (2 Korintiërs 4:1, 2). Deur “hierdie bediening”, soos Paulus dit noem, word die waarheid geopenbaar en word geestelike lig oral versprei.
9, 10. Hoe kan ons Jehovah se heerlikheid weerkaats?
9 Paulus skryf aangaande die Bron van fisiese en geestelike lig: “Dit is God wat gesê het: ‘Laat die lig uit die duisternis skyn’, en hy het op ons harte geskyn om hulle met die glorieryke kennis van God deur die aangesig van Christus te verlig” (2 Korintiërs 4:6; Genesis 1:2-5). Aangesien ons die onskatbare voorreg ontvang het om God se bedienaars te wees, moet ons onsself rein hou sodat ons soos spieëls Jehovah se heerlikheid kan weerkaats.
10 Mense in geestelike duisternis kan nie Jehovah se heerlikheid of Jesus Christus, die Grotere Moses, se weerkaatsing daarvan sien nie. Maar as Jehovah se knegte ontvang ons die glorieryke lig van die Skrif en weerkaats ons dit na ander. As diegene wat nou in geestelike duisternis is, vernietiging wil vryspring, het hulle lig van God af nodig. Met groot vreugde en ywer gehoorsaam ons dus die goddelike opdrag om lig uit die duisternis te laat skyn tot heerlikheid van Jehovah.
Laat jou lig by tuisbybelstudies skyn
11. Hoe het Jesus ons aangespoor om ons lig te laat skyn, en wat is een manier waarop ons dit in ons bediening kan doen?
11 Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Julle is die lig van die wêreld. ’n Stad kan nie weggesteek word wanneer dit op ’n berg geleë is nie. Mense steek ’n lamp op en sit dit nie onder die maatemmer nie, maar op die lampstaander, en dit skyn op almal in die huis. Laat julle lig net so voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:14-16). Ons goeie gedrag kan daartoe lei dat ander God verheerlik (1 Petrus 2:12). En die verskillende aspekte van ons evangelisasiewerk gee ons talle geleenthede om ons lig te laat skyn. Een van ons hoofdoelwitte is om die geestelike lig van God se Woord te weerkaats deur doeltreffende tuisbybelstudies te hou. Dit is ’n baie belangrike manier waarop ons ons bediening ten volle kan uitvoer. Watter wenke kan ons help om Bybelstudies op so ’n manier te hou dat dit die harte van waarheidsoekers raak?
12. Hoe hou gebed verband met tuisbybelstudies?
12 Gebed tot Jehovah in hierdie verband toon ons opregte begeerte om Bybelstudies te hou. Dit toon ook dat ons die belangrikheid daarvan sien om ander te help om kennis van God op te doen (Esegiël 33:7-9). Jehovah sal beslis ons gebede beantwoord en ons pligsgetroue pogings in die bediening seën (1 Johannes 5:14, 15). Maar ons bid nie net om iemand te vind met wie ons ’n tuisbybelstudie kan hou nie. Nadat ons ’n studie begin het, sal gebed en bepeinsing oor die Bybelstudent se spesifieke behoeftes ons help om elke sessie op ’n doeltreffende manier te hou.—Romeine 12:12.
13. Wat kan ons help om doeltreffende tuisbybelstudies te hou?
13 Om doeltreffende tuisbybelstudies te hou, moet ons vir elke sessie goed voorberei. As ons ietwat onbevoeg voel, kan dit baie nuttig wees om te let op hoe die Gemeentelike Boekstudieopsiener elke week se les behartig. Dalk kan ons nou en dan Koninkryksverkondigers vergesel wat al goeie resultate met tuisbybelstudies behaal het. Die gesindheid en onderrigmetodes van Jesus Christus verdien natuurlik veral ons aandag.
14. Hoe kan ons die hart van ’n Bybelstudent bereik?
14 Jesus het behae daarin geskep om sy hemelse Vader se wil te doen en met ander oor God te praat (Psalm 40:8). Hy was saggeaard en het daarin geslaag om die harte te bereik van diegene wat na hom geluister het (Matteus 11:28-30). Laat ons dus daarna streef om die harte van ons Bybelstudente te bereik. As ons dit wil doen, moet ons vir elke studie voorberei met die student se spesifieke omstandighede in gedagte. As hy byvoorbeeld aan ’n kultuur behoort wat nie ’n Bybelse agtergrond het nie, sal ons hom dalk moet oortuig dat die Bybel waar is. In so ’n geval sal ons natuurlik baie tekste moet lees en dit aan hom moet verduidelik.
Help studente om illustrasies te verstaan
15, 16. (a) Hoe kan ons ’n student help wat nie ’n illustrasie verstaan wat in die Bybel gebruik word nie? (b) Wat kan ons doen as een van ons publikasies ’n illustrasie gebruik wat vir ’n sekere Bybelstudent moeilik is om te verstaan?
15 ’n Bybelstudent is moontlik nie bekend met ’n spesifieke illustrasie wat in die Skrif gebruik word nie. Dalk verstaan hy byvoorbeeld nie wat Jesus bedoel het toe hy gepraat het van ’n lamp wat op ’n lampstaander geplaas word nie (Markus 4:21, 22). Jesus het na ’n eertydse olielamp met ’n brandende pit verwys. So ’n lamp is op ’n spesiale staander geplaas en kon dus ’n deel van ’n huis verlig. Navorsing oor die onderwerpe Lamp en Lampstand in ’n publikasie soos Insight on the Scripturesa sal miskien nodig wees om Jesus se illustrasie te verduidelik. Maar hoe lonend is dit tog om na die Bybelstudie toe te kom met ’n verduideliking wat die student sal verstaan en waardeer!
16 ’n Bybelstudiehulp gebruik moontlik ’n illustrasie wat vir ’n sekere student moeilik is om te snap. Neem tyd om dit te verduidelik, of gebruik ’n ander illustrasie wat dieselfde punt toelig. Dalk beklemtoon ’n publikasie dat ’n goeie maat en samewerking belangrik is in ’n huwelik. Om dit toe te lig, word daar dalk verwys na ’n man wat aan ’n sweefstok swaai, dit los en op sy maat staatmaak om hom te vang. Iets anders wat ook die behoefte aan ’n goeie maat en samewerking kan toelig, is die manier waarop manne saamwerk wanneer hulle kratte vir mekaar aangee terwyl hulle ’n boot aflaai.
17. Wat kan ons by Jesus leer aangaande illustrasies?
17 As ’n mens ’n ander illustrasie wil gebruik, sal dit dalk goeie voorbereiding verg. Tog is dit ’n manier om ons persoonlike belangstelling in ’n Bybelstudent te toon. Jesus het eenvoudige illustrasies gebruik om moeilike onderwerpe te verduidelik. Sy Bergpredikasie gee voorbeelde hiervan, en die Bybel toon dat sy onderrigting ’n goeie uitwerking op sy toehoorders gehad het (Matteus 5:1–7:29). Jesus het dinge geduldig verduidelik omdat hy ’n opregte belangstelling in ander gehad het.—Matteus 16:5-12.
18. Wat word ons aangespoor om met die teksverwysings in ons publikasies te doen?
18 Ons belangstelling in ander sal ons beweeg om met hulle ‘uit die Skrif te redeneer’ (Handelinge 17:2, 3). Dit verg biddende studie en die verstandige gebruik van publikasies wat deur “die getroue bestuurder” voorsien word (Lukas 12:42-44). Die boek Kennis wat tot die ewige lewe leib haal byvoorbeeld talle tekste aan. Weens beperkte ruimte word party net aangegee. Gedurende ’n Bybelstudie is dit belangrik dat ten minste sommige van hierdie teksverwysings gelees en verduidelik word. Ons onderrigting is immers op God se Woord gegrond, en dit het groot krag (Hebreërs 4:12). Verwys met elke studie deurgaans na die Bybel en maak goed gebruik van die tekste wat in die paragrawe gevind word. Help die student om te sien wat die Bybel oor ’n sekere onderwerp of handelswyse sê. Wys hom hoe hy by gehoorsaamheid aan God baat sal vind.—Jesaja 48:17, 18.
Vra gedagteprikkelende vrae
19, 20. (a) Waarom moet ons beskouingsvrae gebruik wanneer ons ’n tuisbybelstudie hou? (b) Wat kan gedoen word as ’n spesifieke onderwerp verdere bespreking vereis?
19 Jesus se bedrewe gebruik van vrae het mense gehelp om te redeneer (Matteus 17:24-27). Beskouingsvrae wat ’n Bybelstudent nie in die verleentheid sal stel nie, kan openbaar wat hy oor ’n sekere onderwerp dink. Ons vind moontlik uit dat hy nog steeds onskriftuurlike beskouings huldig. Hy glo dalk aan die Drie-eenheid. In hoofstuk 3 wys die Kennis-boek daarop dat die woord “Drie-eenheid” nie in die Bybel voorkom nie. Die boek haal tekste aan en gee teksverwysings wat toon dat Jehovah en Jesus aparte persone is en dat die heilige gees God se werkende krag is, nie ’n persoon nie. Miskien sal dit voldoende wees om hierdie Bybeltekste te lees en te bespreek. Maar gestel meer is nodig. Moontlik kan jy ná die volgende studiesessie ’n tydjie afstaan aan ’n nuttige bespreking van hierdie onderwerp soos dit in ’n ander publikasie van Jehovah se Getuies bespreek word, byvoorbeeld die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo? Daarna kan die studie in die Kennis-boek voortgesit word.
20 Sê nou die antwoord op ’n beskouingsvraag verbaas ons of stel ons selfs teleur. As dit handel oor die rookgewoonte, of ’n ander sensitiewe onderwerp, kan ons voorstel dat ons aangaan met die studie en die saak op ’n ander tyd bespreek. Omdat ons weet dat die student nog steeds rook, kan ons gepubliseerde inligting probeer vind wat hom kan help om geestelik vooruitgang te maak. Terwyl ons die student se hart probeer bereik, kan ons bid dat Jehovah hom help om geestelik te groei.
21. Wat kan die resultaat wees wanneer ons ons onderrigmetodes by ’n Bybelstudent se spesifieke behoeftes aanpas?
21 Met goeie voorbereiding en Jehovah se hulp sal ons ongetwyfeld ons onderrigmetodes by die spesifieke behoeftes van die Bybelstudent kan aanpas. Dalk sal ons hom mettertyd help om ’n innige liefde vir God te ontwikkel. Ons slaag miskien ook daarin om respek en waardering vir Jehovah se organisasie by hom op te bou. En hoe verblydend is dit tog wanneer Bybelstudente erken dat ‘God werklik onder ons is’! (1 Korintiërs 14:24, 25). Mag ons derhalwe doeltreffende Bybelstudies hou en alles in ons vermoë doen om ander te help om Jesus se dissipels te word.
’n Skat wat bewaar moet word
22, 23. Wat is nodig as ons ons bediening ten volle wil uitvoer?
22 Om ons bediening ten volle uit te voer, moet ons op godgegewe krag staatmaak. Paulus het met verwysing na die bediening vir medegesalfde Christene geskryf: “Ons het . . . hierdie skat in erdehouers, sodat die krag wat bo die normale is, God s’n kan wees en nie dié uit onsself nie.”—2 Korintiërs 4:7.
23 Hetsy ons van die gesalfdes of van die “ander skape” is, ons is soos swak erdehouers (Johannes 10:16). Tog kan Jehovah ons die nodige krag gee om ons toewysings uit te voer, ongeag watter druk op ons uitgeoefen word (Johannes 16:13; Filippense 4:13). Laat ons dus volkome op Jehovah vertrou, ons diensvoorreg as ’n skat bewaar en ons bediening ten volle uitvoer.
[Voetnote]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat kan ouer manne doen om hulle bediening ten volle uit te voer?
• Hoe kan ons doeltreffender tuisbybelstudies hou?
• Wat sal jy doen as ’n Bybelstudent nie ’n illustrasie verstaan nie of verdere inligting oor ’n sekere onderwerp nodig het?
[Prent op bladsy 16]
Christen- ouer manne onderrig in die gemeente en help om medegelowiges in die bediening op te lei
[Prent op bladsy 18]
Een manier om ons lig te laat skyn, is om doeltreffende tuisbybelstudies te hou