Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 4/1 bl. 4-7
  • Hoe om die wilde dier en sy merk te identifiseer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om die wilde dier en sy merk te identifiseer
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bybelname—nie net etikette nie
  • Die dier word ontmasker
  • “’n Mens se getal”
  • Ses word drie keer herhaal—Waarom?
  • Die merk word geïdentifiseer
  • God se Koninkryk—die mensdom se enigste hoop
  • Wat beteken 666?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • 666—Nie net ’n raaisel nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • ’n Stryd teen twee wrede diere
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Wat is die wilde dier met sewe koppe van Openbaring hoofstuk 13?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 4/1 bl. 4-7

Hoe om die wilde dier en sy merk te identifiseer

HOU jy daarvan om ’n raaisel op te los? Om dit te kan doen, moet jy na leidrade soek wat jou sal help om uiteindelik die oplossing te vind. In sy geïnspireerde Woord voorsien God die nodige leidrade in verband met die getal 666, die naam, of merk, van die wilde dier van Openbaring hoofstuk 13.

In hierdie artikel gaan ons kyk na vier redenasies—belangrike leidrade—wat die betekenis van die merk van die dier sal openbaar. Ons gaan kyk na (1) hoe Bybelname soms gekies word, (2) die identiteit van die wilde dier, (3) wat bedoel word met die feit dat 666 “’n mens se getal” is en (4) die betekenis van die getal 6 en waarom dit drie keer herhaal word, naamlik 600 plus 60 plus 6, of 666.—Openbaring 13:18.

Bybelname—nie net etikette nie

Bybelname het dikwels spesiale betekenis, veral wanneer dit deur God gegee is. Byvoorbeeld, Abram sou die vader van nasies word, en daarom het God die aartsvader se naam na Abraham verander, wat “Vader van ’n menigte” beteken (Genesis 17:5, voetnoot in NW). God het vir Josef en Maria gesê om Maria se toekomstige kind Jesus te noem, wat “Jehovah is redding” beteken (Matteus 1:21, voetnoot in NW; Lukas 1:31). In ooreenstemming met daardie betekenisvolle naam het Jehovah, deur Jesus se bediening en offerdood, ons redding moontlik gemaak.—Johannes 3:16.

Gevolglik moet die godgegewe getalnaam 666 dit simboliseer wat God as kenmerkende eienskappe van die dier beskou. As ons wil verstaan wat daardie eienskappe is, is dit vanselfsprekend dat ons die dier moet identifiseer en moet kyk by watter werksaamhede hy betrokke is.

Die dier word ontmasker

Die Bybelboek Daniël werp baie lig op die betekenis van simboliese diere. Hoofstuk 7 bevat ’n duidelike beskrywing van “vier yslike diere”—’n leeu, ’n beer, ’n luiperd en ’n vreeswekkende dier met groot ystertande (Daniël 7:2-7). Daniël sê vir ons dat hierdie diere “konings”, of politieke koninkryke, verteenwoordig wat ná mekaar oor groot ryke heers.—Daniël 7:17, 23.

Aangaande die dier van Openbaring 13:1, 2 toon The Interpreter’s Dictionary of the Bible dat “die gesamentlike karaktertrekke van die vier diere van Daniël se visioen in hom vervat is . . . Gevolglik beeld hierdie eerste dier [van Openbaring] die gekombineerde magte af van al die politieke heerskappye in die wêreld wat hulle teen God verset.” Hierdie mening word deur Openbaring 13:7 bevestig, wat van die dier sê: “Hy is gesag oor elke stam en volk en taal en nasie gegee.”a

Waarom gebruik die Bybel diere as simbole van menseheerskappy? Daar is ten minste twee redes. Eerstens, weens die dierlike rekord van bloedvergieting wat regerings deur die eeue heen opgebou het. Die geskiedskrywers Will en Ariel Durant het gesê: “Oorlog is een van die konstante kenmerke van die geskiedenis en het nie afgeneem met die ontwikkeling van die beskawing of demokrasie nie.” Hoe waar is dit tog dat “die mens oor die mens geheers het tot sy nadeel”! (Prediker 8:9). Die tweede rede is dat “die draak [Satan] aan die dier sy krag en sy troon en groot gesag gegee” het (Openbaring 12:9; 13:2). Menseheerskappy het dus sy oorsprong by die Duiwel en weerspieël gevolglik sy dierlike, draakagtige gesindheid.—Johannes 8:44; Efesiërs 6:12.

Dit beteken egter nie dat elke menseheerser ’n direkte werktuig van Satan is nie. Trouens, in ’n sekere sin dien menseregerings as “God se dienaar” deur stabiliteit aan die mensegemeenskap te gee, waarsonder daar chaos sou gewees het. En party leiers het fundamentele menseregte beskerm, insluitende die reg om ware aanbidding te beoefen—iets wat Satan nie wil hê nie (Romeine 13:3, 4; Esra 7:11-27; Handelinge 13:7). Maar weens die Duiwel se invloed was geen mens of menslike instelling nog ooit in staat om blywende vrede en veiligheid teweeg te bring nie.b—Johannes 12:31.

“’n Mens se getal”

’n Derde leidraad om die betekenis van 666 te verstaan, lê daarin dat dit “’n mens se getal” is. Hierdie uitdrukking kan nie na ’n individuele mens verwys nie, want Satan—nie ’n mens nie—het gesag oor die dier (Lukas 4:5, 6; 1 Johannes 5:19; Openbaring 13:2, 18). Die feit dat die dier “’n mens se getal”, of merk, het, gee eerder te kenne dat dit ’n menslike en nie ’n geestelike of demoniese entiteit is nie, en dat dit gevolglik sekere menslike kenmerke openbaar. Watter kenmerke? Die Bybel antwoord: “Almal [alle mense] het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Die feit dat die dier “’n mens se getal” het, dui dus daarop dat regerings die gevalle toestand van die mens weerspieël, naamlik die merk van sonde en onvolmaaktheid.

Die geskiedenis bevestig dit. “Elke beskawing wat nog ooit bestaan het, het uiteindelik in duie gestort”, het die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, Henry Kissinger, gesê. “Die geskiedenis is ’n verhaal van mislukte pogings, van onvervulde ideale . . . As ’n geskiedkundige moet ’n mens dus aanvaar dat tragedie onvermydelik is.” Kissinger se eerlike gevolgtrekking bevestig hierdie fundamentele Bybelwaarheid: “Ek weet . . . dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

Noudat ons die dier geïdentifiseer het en uitgevind het hoe God hom beskou, kan ons die laaste deel van ons raaisel ondersoek—die getal ses en waarom dit drie keer herhaal word—dit wil sê, 666, of 600 plus 60 plus 6.

Ses word drie keer herhaal—Waarom?

In die Skrif het sekere getalle simboliese betekenis. Die getal sewe word byvoorbeeld dikwels gebruik om iets te simboliseer wat volkome, of volmaak, in God se oë is. Byvoorbeeld, God se skeppingsweek bestaan uit sewe ‘dae’, of lang tydperke, waartydens God sy voorneme met die skepping van die aarde volkome uitvoer (Genesis 1:3–2:3). God se “woorde” is soos silwer wat “sewe keer gesuiwer” is, en dus volmaak gelouter is (Psalm 12:6; Spreuke 30:5, 6). Daar is vir die melaatse Naäman gesê om sewe keer in die Jordaanrivier te bad, waarna hy volkome genees was.—2 Konings 5:10, 14.

Ses is een minder as sewe. Sou dit dan nie ’n gepaste simbool wees van iets wat onvolmaak, of gebrekkig, in God se oë is nie? Ja, beslis! (1 Kronieke 20:6, 7). Wat meer is, aangesien ses drie keer herhaal word, naamlik 666, beklemtoon dit daardie onvolmaaktheid op kragtige wyse. Dat dít die regte beskouing is, word gesteun deur die feit dat 666 “’n mens se getal” is, soos ons al bespreek het. Daarom kan die dier se rekord, die feit dat dit “’n mens se getal” het en die getal 666 self op net een ding dui—absolute onvolmaaktheid en mislukking in Jehovah se oë.

Die beskrywing van die dier se tekortkominge laat ons dink aan wat oor koning Belsasar van eertydse Babilon gesê is. Deur middel van Daniël het Jehovah vir daardie heerser gesê: “U is op die weegskaal geweeg en te lig bevind.” In daardie selfde nag is Belsasar doodgemaak en het die Babiloniese Ryk geval (Daniël 5:27, 30). God se oordeel oor die politieke dier en diegene wat sy merk het, beteken eweneens dat hierdie dier en sy ondersteuners tot ’n einde gaan kom. God sal egter in hierdie geval nie net een politieke stelsel uitwis nie, maar elke spoor van menseheerskappy (Daniël 2:44; Openbaring 19:19, 20). Hoe belangrik is dit dus dat ons nie die dodelike merk van die dier kry nie!

Die merk word geïdentifiseer

Onmiddellik nadat Openbaring die getal 666 meld, praat dit van 144 000 volgelinge van die Lam, Jesus Christus, wat sy naam en die naam van sy Vader, Jehovah, op hulle voorkoppe het. Hierdie name bevestig dat die draers behoort aan Jehovah en sy Seun, van wie hulle met trots getuig. Net so verkondig diegene wat die merk van die dier het dat hulle sy knegte is. Die merk, of dit nou figuurlik gesproke op die regterhand of op die voorkop is, is dus ’n simbool wat die draer as iemand identifiseer wat die dierlike politieke stelsels van die wêreld as ’t ware aanbid. Diegene wat die merk het, gee aan “die keiser” wat tereg aan God behoort (Lukas 20:25; Openbaring 13:4, 8; 14:1). Hoe so? Deur die politieke staat, sy simbole en sy militêre mag, waartoe hulle hulle wend vir hoop en redding, te vereer op ’n manier wat aan aanbidding grens. Enige aanbidding wat hulle aan die ware God gee, is bloot lippediens.

In teenstelling hiermee spoor die Bybel ons aan: “Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy grond; op daardie dag vergaan sy gedagtes” (Psalm 146:3, 4). Diegene wat hierdie wyse raad ter harte neem, word nie teleurgestel wanneer regerings nie hulle beloftes nakom of wanneer charismatiese leiers in onguns verval nie.—Spreuke 1:33.

Dit beteken nie dat ware Christene terugsit en niks doen omtrent die treurige toestand waarin die mens hom bevind nie. Inteendeel, hulle verkondig ywerig die een regering wat die mensdom se probleme sal oplos—God se Koninkryk, waarvan hulle verteenwoordigers is.—Matteus 24:14.

God se Koninkryk—die mensdom se enigste hoop

Toe Jesus op die aarde was, het hy God se Koninkryk die hooftema van sy predikingswerk gemaak (Lukas 4:43). In sy modelgebed, wat soms die Onse Vader genoem word, het Jesus sy volgelinge geleer om te bid dat daardie Koninkryk moet kom en dat God se wil hier op die aarde moet geskied (Matteus 6:9, 10). Die Koninkryk is ’n regering wat oor die hele aarde sal heers, nie vanuit die een of ander aardse hoofstad nie, maar vanuit die hemel. Daarom het Jesus dit “die koninkryk van die hemele” genoem.—Matteus 11:12.

Wie is beter geskik om die Koning van daardie Koninkryk te wees as Jesus Christus, die een wat vir sy toekomstige onderdane gesterf het? (Jesaja 9:6, 7; Johannes 3:16). Binnekort sal hierdie volmaakte Heerser, wat nou ’n magtige geespersoon is, die dier, sy konings en sy leërs in “die vuurpoel [slinger] wat met swael brand”, ’n simbool van algehele vernietiging. Maar dit is nie al nie. Jesus sal ook van Satan ontslae raak, iets wat geen mens ooit kon doen nie.—Openbaring 11:15; 19:16, 19-21; 20:2, 10.

God se Koninkryk sal vrede bring vir al sy gehoorsame onderdane (Psalm 37:11, 29; 46:8, 9). Selfs droefheid, pyn en die dood sal daar nie meer wees nie. Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog vir diegene wat sorg dat hulle nie die merk van die dier kry nie!—Openbaring 21:3, 4.

[Voetnote]

a Sien hoofstuk 28 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n uitvoerige bespreking van hierdie verse.

b Hoewel ware Christene besef dat menseheerskappy dikwels dierlik is, onderwerp hulle hulle aan die regerende “hoër owerhede”, soos die Bybel ons beveel om te doen (Romeine 13:1). Maar wanneer hierdie owerhede hulle beveel om in stryd met God se wet op te tree, is hulle “eerder aan God as heerser gehoorsaam . . . as aan mense”.—Handelinge 5:29.

[Venster op bladsy 5]

Leidrade om die betekenis van 666 te verstaan

1. Bybelname sê dikwels iets omtrent die draer se karaktertrekke of sy lewe, soos in die geval van Abraham, Jesus en talle ander. Die dier se getalnaam simboliseer eweneens sy kenmerke.

2. In die Bybelboek Daniël word opeenvolgende menslike koninkryke, of ryke, deur verskeie diere afgebeeld. Die saamgestelde dier van Openbaring 13:1, 2 simboliseer die wêreldwye politieke stelsel, wat krag van Satan ontvang en deur hom beheer word.

3. Die feit dat die dier “’n mens se getal” het, dui daarop dat hy ’n menslike en nie ’n demoniese entiteit is nie. Hy weerspieël dus menslike swakhede wat die gevolg is van sonde en onvolmaaktheid.

4. In God se oë dui die getal ses op onvolmaaktheid, aangesien dit minder is as die Bybelse volkome, of volmaakte, sewe. Die merk 666 beklemtoon daardie onvolmaaktheid deur die getal drie keer te herhaal.

[Prente op bladsy 6]

Menseheerskappy was ’n mislukking en word heel gepas deur die getal 666 afgebeeld

[Erkenning]

Verhongerde kind: UNITED NATIONS/Photo by F. GRIFFING

[Prente op bladsy 7]

Jesus Christus sal volmaakte heerskappy na die aarde bring

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel