Is goeie raad nodig?
VANDAG meen baie dat hulle tussen goed en kwaad kan onderskei en dat hulle die reg het om te doen net wat hulle wil. Ander sê dat byna enigiets veroorloof is solank dit ’n mens goed laat voel. Die huwelik en gesinslewe, wat lank reeds as die grondslae van die mensegemeenskap beskou word, word drasties hierdeur geraak.—Genesis 3:5.
Beskou die geval van Verónica,a wat in Mexiko woon. Sy vertel: “Kort voor ons 15de huweliksherdenking het my man vir my gesê dat hy ’n verhouding met ’n ander vrou het. Hy het gesê dat hy nie van hierdie vrou wou afsien nie omdat sy jonger was en hom beter laat voel het. Die gedagte dat my beste vriend nie langer aan my sy sou wees nie, was vir my ’n skok. Ek het altyd gedink dat die dood van ons geliefdes die grootste pyn veroorsaak. Maar vir my was egbreuk ’n harder slag, want ek het nie net iemand verloor wat ek innig liefgehad het nie, maar hy het dinge bly doen wat my seergemaak het.”
Dan is daar die geval van ’n 22-jarige man wat reeds geskei is en ’n seun het, maar wat nie sy verantwoordelikhede as ’n vader wil aanvaar nie. Hy verwag dat sy moeder vir hom en sy seun moet sorg. As sy nie toegee aan al sy eise nie, word hy woedend en skel hy op haar, soos ’n ongemanierde kind sou doen. Sy moeder voel hulpeloos wanneer hy hom so aanstootlik gedra.
Dit is nie seldsame gevalle nie. Geregtelike skeiding en egskeiding is oral aan die toeneem. Baie kinders sien hoe een van hulle ouers weggaan om ’n nuwe lewe te begin. Party jonges het alle respek vir ander, waaronder hulle ouers, verloor en gedra hulle op ’n wyse wat in die verlede byna ondenkbaar was. Seksuele eksperimentering, dwelmmisbruik, jeugdiges wat ander aanval en kinders wat onderwysers of ouers vermoor, het in baie lande redelik algemeen geword. En jy het moontlik opgemerk dat die opvoeding van kinders en die huwelik nie die enigste gebiede is waarop daar in vandag se wêreld probleme ondervind word nie.
Terwyl ons hierdie verwikkelinge sien, wonder ons dalk wat met die gemeenskap gebeur het. Waarom is daar soveel probleme sonder oplossings as mense werklik tussen goed en kwaad kan onderskei? Is daar ’n behoefte aan goeie raad? Is daar ’n bron wat sulke nuttige raad voorsien, een wat betroubaar is? Hoewel baie sê dat hulle in God en sy geskrewe Woord glo, het dit skynbaar geen invloed op hulle besluite nie. Maar watter voordele kan dit vir ons inhou wanneer ons God om raad vra en dit verkry? Kom ons ondersoek dit in die volgende artikel.
[Voetnoot]
a Naam is verander.