Vind die beste raad
’N SUKSESVOLLE lewe is beslis iets begeerliks. Goeie raad en die bereidwilligheid om dit te volg, is sleutels tot so ’n lewe in hierdie komplekse wêreld. Maar mense is nie altyd gewillig om aandag te skenk aan nuttige raad nie. Baie het al beweer dat die mens volgens sy eie voorkeure moet lewe. Trouens, die Bybelverslag toon dat Satan, die oorspronklike vyand van God se soewereiniteit, vir die eerste mense onafhanklikheid aangebied het. In Genesis 3:5 is sy woorde aan Eva opgeteken: “God weet dat die dag as julle [van die boom van die kennis van goed en kwaad] eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken.”
Was Adam en Eva hierna in staat om ’n suksesvolle lewe te lei, sonder slegte gevolge, deur slegs hulle eie menings te volg? Nouliks. Hulle het gedink dat hulle self tussen goed en kwaad kon onderskei, maar is onmiddellik teleurgestel deur die resultate. Hulle het hulle God se regverdige misnoeë op die hals gehaal, en ’n harde lewe in onvolmaaktheid het vir hulle begin, wat uiteindelik tot die dood gelei het (Genesis 3:16-19, 23). Die dood raak ons almal. Die Bybel sê: ‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het.’—Romeine 5:12.
Ten spyte van die slegte gevolge van Adam en Eva se keuse is baie nog steeds nie oortuig dat dit verstandig is om die raad van die mens se Maker toe te pas nie. Die Bybel sê egter dat dit ‘deur God geïnspireer en nuttig is’, en dit kan ons help om “volkome bevoeg [te] wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 3:16, 17). Ons sal beslis gelukkiger wees as ons die raad van die Bybel volg. ’n Belangrike gebied waarop dit van toepassing is, is die gesin.
Getrouheid in die huwelik
Volgens die Bybel was dit God se voorneme dat die huwelik permanent moet wees (Genesis 2:22-24; Matteus 19:6). Verder sê die Skrif dat “die huweliksbed sonder verontreiniging” moet wees, wat beteken dat hierdie band nie deur geslagsomgang buite die huwelik besoedel moet word nie (Hebreërs 13:4). Maar soos jy waarskynlik weet, voldoen baie huwelike vandag nie aan hierdie standaard nie. Sommige mense het die gewoonte om by die werk te flankeer met persone wat nie hulle huweliksmaat is nie. Ander vertel leuens vir hulle gesin sodat hulle tyd saam met ’n minnaar of minnares kan deurbring. Party verlaat selfs hulle huweliksmaat vir iemand wat jonger is en beweer dat dit hulle jonger en gelukkiger laat voel, soos in die geval van Verónica, wat in die vorige artikel genoem is.
Maar dit sal nie blywende geluk meebring as jy jouself ten alle koste wil behaag nie. Ronald kan die waarheid hiervan bevestig. Hy was oortuig dat hy sy lewe sou verbeter as hy sy vrou verlaat en ’n nuwe gesinslewe begin saam met die vrou wat ses jaar lank sy minnares was en by wie hy reeds twee kinders gehad het. ’n Rukkie nadat hy sy huwelik beëindig het, het sy minnares hom egter verlaat! Ronald het uiteindelik by sy ouers gaan bly. Hy het sy situasie as “vernederend” beskryf. Dit is maar net een voorbeeld. Hierdie soort gedrag, wat deur selfsugtige begeertes aangedryf word, het gelei tot egskeiding en gesinsverbrokkeling op ongeëwenaarde skaal, en tallose individue—volwassenes sowel as kinders—ly as gevolg daarvan.
Aan die ander kant het die toepassing van Bybelraad ware geluk tot gevolg. Dit was die geval met Roberto, wat sê: “Danksy die raad van die Bybel het ek nie my vrou verloor nie. Ons verkry nie ware geluk deur toe te gee aan ’n versoeking om ontrou te wees aan ons huweliksmaat nie, selfs al lyk die ander persoon baie sjarmant. Bybelonderrigting het my gehelp om my maat, wat al soveel jare aan my sy is, as kosbaar te beskou.” Die Bybelraad: “Met die vrou van jou jeug mag geeneen van julle verraderlik handel nie”, het ’n belangrike rol in Roberto se lewe gespeel (Maleagi 2:15). In watter ander opsigte kan ons baat vind by God se raad?
Ons kinders se opvoeding
Dekades gelede het die idee gewild geraak dat ouers nie baie beperkings moet stel in die grootmaak van kinders nie. Dit het redelik gelyk om kinders toe te laat om hulle eie besluite te maak oor hoe hulle wil dink en optree. Die doel was om te voorkom dat hulle ontwikkeling onderdruk word. Op party plekke is selfs buigsamer skoolstelsels in werking gestel waarin leerlinge onder meer kon besluit of hulle klasse wou bywoon of nie en kon kies hoeveel ontspanning of onderrigting hulle wou hê. Die beleid van een van hierdie skole was “om kinders toe te laat om vryelik uiting te gee aan al hulle gevoelens sonder die kritiek of inmenging van ’n volwassene”. Vandag bevraagteken party voorligters oor mensegedrag nog steeds die voordele van party vorme van dissipline, selfs in gevalle waar die ouers dit nodig ag om liefdevolle dissipline te gee.
Wat was die gevolg? Daar is baie mense wat meen dat permissiewe metodes van kinderopvoeding kinders te veel vryheid toegelaat het. Dit het volgens hulle tot ’n toename in misdaad en dwelmverslawing gelei. ’n Opname in die Verenigde State het aan die lig gebring dat bykans 70 persent van die respondente gemeen het dat kinders en jongmense nie soveel ouerlike leiding kry as wat hulle nodig het nie. Wanneer mense verduidelikings probeer vind vir skietvoorvalle by skole en ander verskriklike tienermisdade, skryf baie dit toe aan “lakse beheer deur ouers”. En selfs wanneer die gevolge nie so tragies is nie, pluk ouers en kinders die wrange vrugte van onwyse opvoedingsmetodes.
Wat sê die Bybel in dié verband? Die skriftuurlike raad is dat ouers hulle gesag met liefde sowel as met fermheid moet uitoefen. Die Bybel sê: “Dwaasheid sit vas in die hart van ’n seun; die roede van dissipline sal dit ver van hom af verwyder” (Spreuke 22:15). Alle ouerlike dissipline moet natuurlik gepas wees vir die situasie. Sagmoedigheid, selfbeheersing en bedagsaamheid moet met enige dissipline gepaardgaan. Dan sal dit ’n blyk van liefde wees. Ouerlike gesag wat op ’n liefdevolle wyse uitgeoefen word, en nie op ’n harde, wrede manier nie, bied die grootste kans op sukses.
Die goeie resultate wat die toepassing van hierdie raad meebring, kan duidelik gesien word. Arturo, ’n 30-jarige man in Mexiko wat onlangs getrou het, sê: “My pa het my en my broers duidelik laat verstaan dat hy en my ma die gesag in die gesin het. Hulle het nooit gehuiwer om ons te dissiplineer nie. Maar hulle het altyd tyd gehad om met ons te gesels. Noudat ek ’n volwassene is, waardeer ek die stabiele lewe wat ek geniet, en ek weet dat dit hoofsaaklik te danke is aan die goeie leiding wat ek ontvang het.”
Maak gebruik van die beste raad
God se Woord, die Bybel, bevat die beste raad wat daar vir die mensdom is. Dit gee nie net leiding oor gesinslewe nie. Dit rus ons op baie maniere toe, want dit leer ons hoe om op te tree in ’n wêreld waar die meeste nie bereid is om te aanvaar dat ’n verhewe Bron van wysheid hulle lewe tot hulle eie beswil moet rig nie.
Jehovah God, die Skepper van die mensdom, het hierdie versekering deur die psalmis Dawid gegee: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou” (Psalm 32:8). Kan jy jou voorstel wat dit beteken om die Skepper se oog op ons te hê om ons teen gevare te beskerm? Die vraag wat elkeen van ons ons egter moet afvra, is: ‘Sal ek Jehovah se beskermende leiding nederig aanvaar?’ Sy Woord spoor ons liefdevol aan: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”—Spreuke 3:5, 6.
Dit verg inspanning en toegewydheid om Jehovah te leer ken, maar deur middel van die Bybel is dit vir die mensdom moontlik. Die lewenswyse wat hy aanbeveel, ‘hou belofte in vir die teenswoordige en die toekomstige lewe’. Dit is waarlik ’n middel tot groot gewin as ’n mens in ag neem watter voordele dit bied.—1 Timoteus 4:8; 6:6.
As jy aangetrek word deur die insig wat die Bybel bied en deur die seëninge wat dit meebring as ’n mens in ooreenstemming daarmee lewe, moet jy voorkeur daaraan gee om God se Woord te lees en daaroor te peins. Dit sal jou help om die uitdagings van vandag die hoof te bied, sowel as enige wat nog voorlê. Wat meer is, jy sal die hoop vind om in God se nuwe wêreld te lewe, waar almal deur Jehovah geleer sal word en hulle vrede oorvloedig sal wees.—Jesaja 54:13.
[Prent op bladsy 5]
Die Bybel se raad kan die huweliksband versterk
[Prente op bladsy 6]
Bybelraad is die grondslag vir goeie leiding, maar dit laat ook ruimte vir plesier
[Prente op bladsy 7]
Diegene wat Bybelraad toepas, kan ’n gebalanseerde lewe geniet