Mexiko se inheemse volke hoor die goeie nuus
OP 10 November 2002 het ’n groep Mixe, ’n inheemse volk van Mexiko, in San Miguel, Quetzaltepec, byeengekom. Dit is ’n dorp in die pragtige suidelike staat Oaxaca. Die groep het ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon. Die hoogtepunt van die program daardie oggend was ’n Bybeldrama.
Toe die eerste woorde van die Bybeldrama oor die klankstelsel kom, was die gehoor verstom. Hulle het hande begin klap en baie van hulle was in trane. Die drama is in die Mixe-taal aangebied! Baie het agterna hulle innige waardering vir hierdie onverwagse seën uitgespreek. “Vir die eerste keer kon ek die drama verstaan. Dit het my hart bereik”, het een persoon gesê. “Selfs al sou ek nou sterf, sal ek gelukkig wees omdat Jehovah my die voorreg gegee het om die drama in my eie taal te hoor”, het ’n ander gesê.
Wat daardie oggend gebeur het, was deel van ’n intensiewe poging wat onlangs deur Jehovah se Getuies in Mexiko aangewend is om inheemse volke met die goeie nuus van die Koninkryk te bereik.—Matteus 24:14; 28:19, 20.
Jehovah het hulle gebede verhoor
Die inheemse bevolking in Mexiko bestaan uit meer as 6 000 000 mense—genoeg om ’n nasie op hulle eie te vorm, ’n multikulturele nasie met 62 verskillende tale. Vyftien van daardie tale word elk deur meer as 100 000 mense gepraat. Meer as 1 000- 000 mense onder die inheemse bevolking praat nie Spaans, Mexiko se amptelike taal, nie. En baie van dié wat wel Spaans praat, kan Bybelwaarhede makliker in hulle eie taal leer (Handelinge 2:6; 22:2). Party het jare lank die Bybel bestudeer en Christelike vergaderinge getrou bygewoon, en tog was hulle begrip beperk. Om die boodskap van waarheid in hulle eie taal te hê, is dus iets waarvoor hulle al lank bid.
Om hierdie uitdaging die hoof te bied, het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexiko in 1999 reëlings begin tref om gemeentelike vergaderinge in inheemse tale te hou. Vertaalspanne is ook gevorm. Teen die jaar 2000 is die drama by die streekbyeenkoms in Maja aangebied, en later in etlike ander tale.
Die volgende stap was om met die vertaling van Bybelstudiehulpe van Jehovah se Getuies te begin. Eerstens is die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! vertaal in Huave, Maja, Mazatec, Totonac, Tzeltal en Tzotzil. Hierna is nog publikasies vertaal, insluitende gereelde nommers van Ons Koninkryksbediening in Maja. Bandopnames van sommige van die publikasies is ook gemaak. ’n Brosjure met die titel Apply Yourself to Reading and Writing word vir plaaslike gebruik aangepas om mense onder die inheemse bevolking hulle eie taal te leer lees en skryf. Bybellektuur word tans in 15 van die inheemse tale uitgegee, en nog publikasies is op pad.
‘Hulle doen alles in hulle vermoë’
Die vertaalwerk is nie maklik nie. Om maar een ding te noem, daar is baie min sekulêre literatuur in die inheemse tale van Mexiko beskikbaar. Dit is dikwels moeilik om woordeboeke te vind. Boonop het party van die tale ook heelwat dialekte. Byvoorbeeld, in Zapotec word ten minste vyf dialekte gebruik. Hierdie dialekte verskil só van mekaar dat Zapotecs van verskillende gebiede mekaar nie kan verstaan nie.
Daarbenewens moet die vertalers, wanneer daar geen reëls vir ’n taal bestaan nie, hulle eie maak. Dit vereis baie navorsing en beraadslaging. Geen wonder dat baie van hulle aanvanklik soos Élida, van die Huave-span, gevoel het nie! Sy sê: “Toe ek na die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexiko genooi is om vertaalwerk te doen, het ek twee emosies ervaar—blydskap en vrees.”
Die vertalers moet ook rekenaarvaardighede, werkbeplanning en vertaaltegnieke leer. Die taak was werklik vir hulle ’n groot uitdaging. Hoe voel hulle hieroor? Gloria, ’n lid van die Maja-span, sê: “Ons kan nie in woorde beskryf hoeveel vreugde dit ons verskaf om Bybelpublikasies in Maja, ons moedertaal, te vertaal nie.” En ’n opsiener in die Vertaaldepartement sê aangaande die vertalers: “Die begeerte om Bybelpublikasies in hulle eie taal te hê, is so sterk dat hulle alles in hulle vermoë doen om die uitdaging die hoof te bied.” Was dit die moeite werd?
“Dankie, Jehovah!”
Jehovah se seën op die werk onder die inheemse bevolking is duidelik. Bywoning van Christelike vergaderinge en byeenkomste het toegeneem. Byvoorbeeld, in 2001 het die 223 Mixe-sprekende Getuies bymekaargekom om die herdenking van Christus se dood te vier. Maar die bywoningsyfer was altesaam 1 674—sewe en ’n half keer die aantal Getuies!
Sommige mense wat die waarheid aanneem, kan dit nou van die begin af goed verstaan. Mirna onthou wat met haar gebeur het voordat die vergaderinge in Maja gehou is. “Ek is gedoop nadat ek drie maande lank die Bybel gestudeer het”, sê sy. “Ek het geweet dat ek gedoop moet word, maar ek moet erken dat ek Bybelwaarhede nie werklik so goed verstaan het as wat ek moes nie. Ek dink die rede daarvoor is dat Maja my moedertaal is en ek Spaans nie baie goed verstaan het nie. Dit het ’n ruk geneem voordat ek die waarheid werklik verstaan het.” Vandag is sy en haar man bly om deel van die Maja-vertaalspan te wees.
Almal in die gemeentes is baie verheug om die publikasies in hulle eie taal te ontvang. Toe die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! in Tzotzil vertaal en vrygestel is, het ’n vrou wat Christelike vergaderinge begin bywoon het, dit teen haar bors gedruk en gesê: “Dankie, Jehovah!” Verslae toon dat baie Bybelstudente vinniger tot doop vorder, dat onbedrywige verkondigers weer bedrywig word en dat baie Christenbroers nou bekwaam voel om verantwoordelikhede in die gemeente te aanvaar. Party huisbewoners is gewilliger om Bybellektuur in hulle eie taal te neem en te bestudeer.
Eenkeer het ’n Getuie ’n Bybelstudie gaan hou, maar die student was nie tuis nie. Toe die student se man na die deur toe kom, het die suster aangebied om uit ’n brosjure te lees. “Ek wil niks hê nie”, het hy geantwoord. Die suster het in Totonac vir hom gesê dat die brosjure in hulle taal is. Toe hy dít hoor, het die man ’n bankie nader getrek en gaan sit. Terwyl sy vir hom gelees het, het hy bly sê: “Dit is waar. Ja, dit is waar.” Hy woon nou Christelike vergaderinge by.
In Yucatán was die man van ’n Getuievrou gekant teen die waarheid, en soms het hy haar geslaan wanneer sy van die vergaderinge af huis toe kom. Toe die broers vergaderinge in Maja begin hou het, het sy besluit om hom te nooi. Hy het saamgegaan en dit werklik geniet. Hy woon nou die vergaderinge gereeld by, studeer die Bybel en slaan natuurlik nie meer sy vrou nie.
’n Totonac-sprekende man het vir twee Getuies gesê dat hy nooit bid nie omdat die Katolieke priester vir hom gesê het dat God net na gebede in Spaans luister. Trouens, hy moes die priester betaal om namens die Totonacs te bid. Die Getuies het verduidelik dat God na gebede in alle tale luister en het vir hom ’n brosjure in Totonac gegee, wat hy met groot vreugde geneem het.—2 Kronieke 6:32, 33; Psalm 65:2.
“Kualtsin Tajtoua”
Baie Koninkryksverkondigers is so opgewonde oor hierdie verwikkelinge dat hulle ’n inheemse taal probeer aanleer of hulle kennis van een probeer verbeter. Dit is presies wat ’n kringopsiener doen wat vyf Nahuatl-sprekende gemeentes in noordelike Puebla bedien. Hy vertel: “Kinders wat gewoonlik in die vergaderinge aan die slaap geraak het, bly nou wakker en luister aandagtig wanneer ek in Nahuatl praat. Ná een vergadering het ’n vierjarige seuntjie na my toe gekom en gesê: ‘Kualtsin tajtoua’ (jy praat mooi). Dít het my laat voel dat dit beslis die moeite werd was.”
Ja, die veld is werklik ‘wit vir die oes’ onder die inheemse bevolking, en almal wat aan die oeswerk deelneem, vind dit baie aanmoedigend (Johannes 4:35). Roberto, wat gehelp het om die vertaalspanne te organiseer, som dit in die volgende woorde op: “Dit is ’n onvergeetlike ondervinding om die trane van vreugde van ons broers en susters te sien terwyl hulle na die waarheid in hulle moedertaal luister en die sin daarvan begryp. Ek kry ’n knop in my keel as ek daaraan dink.” Dit maak ongetwyfeld ook Jehovah se hart bly om te sien hoe hierdie opregte mense gehelp word om ’n standpunt vir die Koninkryk in te neem.—Spreuke 27:11.
[Venster op bladsy 10]
Ontmoet van die vertalers
● “My ouers het my van kleins af die waarheid geleer. Ongelukkig het my pa die Christengemeente verlaat toe ek 11 jaar oud was. Twee jaar later het my ma ons verlaat. Aangesien ek die oudste van vyf kinders is, moes ek my ma se verantwoordelikhede oorneem, al was ek nog op skool.
“Ons het die liefdevolle ondersteuning van ons geestelike broers en susters gehad, maar die lewe was moeilik. Soms het ek gewonder: ‘Waarom gebeur dit met my? Ek is so jonk!’ Dit was net met Jehovah se hulp dat ek die mas kon opkom. Nadat ek met hoërskool klaargemaak het, het ek ’n voltydse bedienaar geword, en dit het my baie gehelp. Toe die Nahuatl-vertaalspan gevorm is, is ek genooi om deel daarvan te wees.
“My pa is nou terug in die gemeente, en my jonger broers en susters dien Jehovah. Dit was werklik die moeite werd om aan Jehovah getrou te bly. Hy het ons gesin baie geseën.”—Alicia.
● “’n Getuie in my klas het ’n voordrag gehou oor die oorsprong van die lewe. Ek was afwesig vir daardie klas en was bekommerd oor die eksamen, en daarom het ek haar gevra om die onderwerp aan my te verduidelik. Ek het altyd gewonder waarom mense sterf. Toe sy vir my die Skepping-boeka en ’n Bybelstudie aanbied, het ek dit aanvaar. Ek is diep geraak deur die Skepper se voorneme en sy liefde.
“Toe ek my skoolloopbaan voltooi het, het ek die geleentheid gehad om ’n tweetalige onderwyser in Spaans en Tzotzil te word. Maar dit sou vereis het dat ek ver weg trek, oor naweke klas loop en van Christelike vergaderinge af wegbly. Ek het toe eerder as ’n messelaar gewerk. My pa, wat nie ’n Getuie was nie, het glad nie van my besluit gehou nie. Later, terwyl ek as ’n pionierbedienaar gedien het, is ’n span georganiseer om Bybellektuur in Tzotzil te vertaal. Ek moes eenvoudig deel daarvan wees.
“Die feit dat ons broers en susters publikasies in hulle eie taal het, laat hulle geliefd voel en verleen waardigheid aan hulle. Dít is baie bevredigend. Ek voel werklik bevoorreg om hierdie toewysing te hê.”—Humberto.
● “Toe ek ses was, het my ma ons verlaat. Tydens my tienerjare het my pa met Jehovah se Getuies begin studeer. Eendag het ’n suster my ’n Bybelstudie aangebied wat raad vir jongmense ingesluit het. As ’n tiener sonder ’n ma het ek gevoel dat dit presies is wat ek nodig het. Ek is gedoop toe ek 15 was.
“In 1999 is my pa deur wrede mense vermoor wat sy grond wou hê. Ek was verpletter. Ek het baie neerslagtig geraak en gevoel dat ek nie langer kan voortgaan nie. Maar ek het tot Jehovah bly bid om my krag te gee. Die reisende opsiener en sy vrou het my baie aangemoedig. Kort voor lank het ek ’n gewone pionier geword.
“Eenkeer het ek ’n groep gesien wat ses uur lank geloop het om na ’n 20 minute lange toespraak in Totonac te luister, al was die res van die vergadering in Spaans, wat hulle nie kon verstaan nie. Ek was dus verheug toe ek genooi is om Bybelpublikasies in Totonac te help vertaal.
“Ek het altyd vir my pa gesê dat dit my droom is om by die takkantoor van Jehovah se Getuies te dien. Hy het vir my gesê dat dit nie maklik sal wees vir ’n ongetroude meisie van my ouderdom nie. Hoe verheug sal hy tog wees wanneer hy in die opstanding terugkom en hoor dat ek dit wel kon doen, deur Bybellektuur in ons taal te vertaal!”—Edith.
[Voetnoot]
a Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? in 1985 uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 9]
Lede van die Tzotzil-vertaalspan bespreek ’n woord wat moeilik is om te vertaal