Vrae van lesers
Waarom is Israelitiese mans toegelaat om met uitlandse vroue te trou wat hulle gevange geneem het, as die Mosaïese Wet beveel het dat geen huweliksverbintenis met sekere uitlanders aangegaan mag word nie?—Deuteronomium 7:1-3; 21:10, 11.
Dit is weens spesiale omstandighede toegelaat. Jehovah het die Israeliete beveel om die stede van sewe nasies in die land Kanaän te vernietig en al hulle inwoners dood te maak (Deuteronomium 20:15-18). In die geval van ander nasies sou die enigste volwasse oorlewendes waarskynlik gevange maagde wees (Numeri 31:17, 18; Deuteronomium 20:14). ’n Israelitiese man kon met so ’n vrou trou, maar net as sy sekere stappe geneem het.
Aangaande die stappe wat so ’n vrou moes neem, sê die Bybel: “Sy moet haar kop skeer en haar naels versorg en die mantel van haar gevangenskap van haar verwyder en in jou huis woon en ’n volle maanmaand oor haar vader en haar moeder huil; en daarna moet jy gemeenskap met haar hê, en jy moet haar as jou bruid in besit neem, en sy moet jou vrou word.”—Deuteronomium 21:12, 13.
’n Gevange maagd met wie ’n Israeliet wou trou, moes haar kop skeer. Die feit dat sy haar hare afgeskeer het, was ’n blyk van rou of droefheid (Jesaja 3:24). Toe die aartsvader Job byvoorbeeld al sy kinders en eiendom verloor het, het hy die hare van sy hoof afgeskeer as ’n teken van rou (Job 1:20). Die uitlandse vrou moes ook haar naels versorg, miskien deur ‘haar naels kort te knip’ sodat haar hande nie aantreklik sou lyk nie, selfs al was haar naels geverf (Deuteronomium 21:12, Knox). Wat was “die mantel van haar gevangenskap” wat die gevange vrou moes verwyder? Dit was gebruiklik vir die vroue van Kanaänitiese stede wat verower sou word, om hulle beste klere aan te trek. Hulle het dit gedoen in die hoop dat hulle die guns van hulle veroweraars sou wen. Hierdie klere moes verwyder word deur ’n gevange vrou wat gerou het.
’n Gevange vrou wat met ’n Israelitiese man sou trou, moes ’n maanmaand lank oor haar afgestorwe dierbares rou. Die vernietiging van Kanaänitiese stede moes so volkome wees dat haar vorige familie- en sosiale bande glad nie meer sou bestaan nie. Aangesien die Israelitiese soldate die beelde van haar gode vernietig het, sou sy nie meer haar voorwerpe van aanbidding hê nie. Die maand van rou het ook as ’n reinigingstydperk gedien waartydens ’n gevange vrou haar kon losmaak van alle aspekte van haar vorige godsdiens.
Maar die situasie was anders in die geval van uitlandse vroue oor die algemeen. In hierdie verband het Jehovah beveel: “Jy mag geen huweliksverbintenis met hulle aangaan nie. Jou dogter mag jy nie aan sy seun gee nie, en sy dogter mag jy nie vir jou seun neem nie” (Deuteronomium 7:3). Wat was die rede vir hierdie beperking? Deuteronomium 7:4 sê: “Want hy sal jou seun daarvan afkeer om my te volg, en hulle sal beslis ander gode dien.” Die doel van die verbod was dus om die Israeliete teen godsdiensverontreiniging te beskerm. Maar ’n uitlandse vrou in die omstandighede wat in Deuteronomium 21:10-13 beskryf word, het glad nie so ’n gevaar ingehou nie. Al haar familielede was dood, en die beelde van haar gode is vernietig. Sy het geen kontak met beoefenaars van valse godsdiens gehad nie. ’n Israeliet is toegelaat om onder hierdie omstandighede met ’n uitlander te trou.