Lojaal en standvastig—Destyds en vandag
In die suide van Pole, waar dit aan Slowakye en die Tsjeggiese Republiek grens, is daar ’n klein dorpie met die naam Wisła. Al het jy miskien nog nooit van Wisła gehoor nie, het dit ’n geskiedenis wat ware Christene waarskynlik fassinerend sal vind. Dit is ’n geskiedenis wat gekenmerk word deur onkreukbaarheid en ywer vir Jehovah se aanbidding. Hoe so?
WISŁA is in ’n pragtige bergstreek geleë, waar die natuurskoon asemrowend is. Snelvloeiende spruite en twee strome sluit aan by die Weichsel-rivier, wat deur die beboste berge en valleie kronkel. Die vriendelike mense en die streek se unieke klimaat maak Wisła ’n gewilde mediese sentrum, ’n somervakansieplek en ’n winteroord.
Dit lyk asof die eerste nedersetting met hierdie naam in die 1590’s gestig is. ’n Saagmeule is opgerig, en kort daarna het nedersetters hulle op die boomlose gedeeltes van die berg gevestig, waar hulle met skape en beeste geboer en die grond bewerk het. Maar hierdie nederige mense was vasgevang in ’n maalkolk van godsdienstige verandering. Die streek is diep geraak deur die godsdienshervormings wat deur Martin Luther begin is, en volgens die navorser Andrzej Otczyk het Lutheranisme “in 1545 die staatsgodsdiens” geword. Maar die Dertigjarige Oorlog en die Teenhervorming wat hierop gevolg het, het ’n dramatiese verandering in die situasie teweeggebring. “In 1654 is al die kerke van die Protestante af weggeneem, is hulle dienste verbied en is daar beslag gelê op Bybels en ander godsdiensboeke”, sê Otczyk verder. Tog het die meerderheid van die plaaslike bevolking Lutherane gebly.
Die eerste saadjies van Bybelwaarheid
Gelukkig het daar ’n belangriker godsdienshervorming voorgelê. In 1928 is die heel eerste saadjies van Bybelwaarheid gesaai deur twee ywerige Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Die volgende jaar het Jan Gomola in Wisła aangekom met ’n grammofoon, waarop hy opnames van skriftuurlike toesprake gespeel het. Daarna het hy na ’n nabygeleë vallei gegaan waar hy iemand gevind het wat aandagtig geluister het—Andrzej Raszka, ’n kort, stewig geboude hooglander met ’n ontvanklike hart. Raszka het onmiddellik sy Bybel uitgehaal om die gedagtes in die grammofoonlesings na te gaan. Toe het hy uitgeroep: “My broer, ek het uiteindelik die waarheid gevind! Ek soek al sedert ek gedurende die Eerste Wêreldoorlog in die loopgrawe was na antwoorde!”
Raszka het oorgeloop van entoesiasme en het Gomola geneem om sy vriende Jerzy en Andrzej Pilch te ontmoet, wat die Koninkryksboodskap gretig aangeneem het. Andrzej Tyrna, wat Bybelwaarheid in Frankryk geleer het, het hierdie mans gehelp om hulle kennis van God se boodskap te verbreed. Kort daarna is hulle gedoop. Om die klein groepie Bybelstudente in Wisła te help, het broers van naburige dorpe hulle gedurende die middel-1930’s besoek. Die resultate was verbasend.
Nuwe belangstellendes het ingestroom. Plaaslike Lutherse gesinne was gewoond daaraan om die Bybel tuis te lees. Daarom kon baie die waarheid van valse leringe onderskei nadat hulle oortuigende skriftuurlike bewysgronde teen die leerstelling van die helse vuur en die Drie-eenheid gesien het. Baie gesinne het besluit om van valse godsdiensleringe weg te breek. Die gemeente in Wisła het dus gegroei, en teen 1939 het dit ongeveer 140 lede gehad. Maar die meeste van die volwassenes in daardie gemeente was, verbasend genoeg, nie gedoop nie. “Dit het nie beteken dat daardie ongedoopte verkondigers hulle nie aan Jehovah se kant kon skaar nie”, sê Helena, een van die vroeë Getuies. Sy voeg by: “Tydens die toetse van geloof waarvoor hulle kort daarna te staan gekom het, het hulle hulle onkreukbaarheid gehandhaaf.”
Wat van die kinders? Hulle het gesien dat hulle ouers die waarheid gevind het. Franciszek Branc vertel: “Toe my pa besef dat hy die waarheid gevind het, het hy dit by my en my broer begin inskerp. Ons was onderskeidelik agt en tien jaar oud. My pa het ons eenvoudige vrae gevra, soos: ‘Wie is God, en wat is sy naam? Wat weet jy van Jesus Christus?’ Ons moes ons antwoorde neerskryf en dit met Bybeltekste staaf.” ’n Ander Getuie sê: “Omdat my ouers die Koninkryksboodskap aangeneem het en in 1940 uit die Lutherse Kerk bedank het, het ek teenstand by die skool ondervind en is ek geslaan. Ek is dankbaar dat my ouers Bybelbeginsels by my ingeskerp het. Dit het ’n noodsaaklike rol daarin gespeel om my deur hierdie moeilike tye te help.”
Hulle geloof word beproef
Toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek en die Nazi’s die gebied beset het, was hulle vasbeslote om Jehovah se Getuies uit te roei. Aanvanklik is volwassenes—veral vaders—aangemoedig om ’n lys te teken wat hulle nasionaliteit as Duits aangegee het sodat hulle sekere voorregte kon kry. Die Getuies het geweier om hulle met die Nazi’s te vereenselwig. Baie broers en belangstellendes wat dienspligtig was, het voor ’n dilemma te staan gekom: Hulle kon by die leër aansluit, of hulle kon streng neutraliteit handhaaf maar erg gestraf word. “As jy geweier het om militêre diens te doen, het dit beteken dat jy na ’n konsentrasiekamp, gewoonlik Auschwitz, gestuur word”, verduidelik Andrzej Szalbot, wat in 1943 deur die Gestapo in hegtenis geneem is. “Ek was nog nie gedoop nie, maar ek het geweet van die versekering wat Jesus in Matteus 10:28, 29 gegee het. Ek het geweet dat Jehovah my sou kon opwek as ek weens my geloof in hom sou sterf.”
Vroeg in 1942 het die Nazi’s 17 broers van Wisła in hegtenis geneem. Binne drie maande het 15 van hulle in Auschwitz gesterf. Watter uitwerking het dit op die Getuies gehad wat in Wisła agtergebly het? Dit het hulle nie hulle geloof laat prysgee nie, maar het hulle eerder aangespoor om aan Jehovah getrou te bly! Gedurende die volgende ses maande het die aantal verkondigers in Wisła verdubbel. Kort daarna was daar nog inhegtenisnemings. Altesaam 83 broers, belangstellendes en kinders is deur Hitler se vernietigingsveldtog geraak. Drie-en-vyftig van hulle is na konsentrasiekampe (hoofsaaklik Auschwitz) of strafkampe by myne en steengroewe in Pole, Duitsland en Boheme gestuur.
Lojaal en standvastig
In Auschwitz het die Nazi’s die Getuies met die vooruitsig op onmiddellike vryheid probeer verlok. ’n SS-wag het vir een broer gesê: “As jy net ’n dokument teken wat sê dat jy nie meer een van die Bybelstudente is nie, sal ons jou vrylaat, en dan kan jy huis toe gaan.” Daardie aanbod is talle kere herhaal, maar die broer het getrou aan Jehovah gebly. Gevolglik is hy geslaan en gespot en moes hy slawearbeid verrig in Auschwitz sowel as in Mittelbau-Dora, in Duitsland. Net voordat hy bevry is, het hierdie broer naelskraap aan die dood ontkom toe die kamp waar hy aangehou is, gebombardeer is.
Paweł Szalbot, ’n Getuie wat onlangs oorlede is, het eenkeer vertel: “Gedurende ondervragings het die Gestapo aanhoudend vir my gevra waarom ek weier om by die Duitse leër aan te sluit en om ‘heil Hitler’ te sê.” Nadat hy die Bybelse grondslag vir sy Christelike neutraliteit verduidelik het, is hy gevonnis om in ’n wapenfabriek te gaan werk. “My gewete het my natuurlik nie toegelaat om hierdie soort werk te aanvaar nie, en daarom het hulle my gestuur om in ’n myn te gaan werk.” Hy het nogtans getrou gebly.
Diegene wat nie in hegtenis geneem is nie—vroue en kinders—het kospakkies aan dié in Auschwitz gestuur. “In die somer het ons bosbessies in die woud gepluk en dit dan vir koring verruil”, sê ’n broer wat toe nog ’n seun was. “Die susters het broodrolletjies gebak en dit in vet geweek. Dan het ons die broodrolletjies in klein hoeveelhede na medegelowiges in die kamp gestuur.”
Altesaam 53 volwasse Getuies van Wisła is na konsentrasiekampe en strafkampe gestuur. Agt-en-dertig van hulle het gesterf.
’n Jonger geslag
Die kinders van Jehovah se Getuies is ook deur die onderdrukkende maatreëls van die Nazi’s geraak. Party is saam met hulle moeders na tydelike kampe in Boheme gestuur. Ander is van hulle ouers af weggeneem en na die berugte kinderkamp in Lodz gestuur.
“In die eerste groep wat die Duitsers na Lodz geneem het”, vertel drie van hulle, “was daar tien van ons, tussen die ouderdomme van vyf en nege. Ons het mekaar aangemoedig deur te bid en Bybelonderwerpe te bespreek. Dit was nie maklik om te volhard nie.” In 1945 het al daardie kinders teruggekeer huis toe. Hulle het gelewe, maar was uitgeteer en getraumatiseer. Nietemin kon niks hulle hulle onkreukbaarheid laat prysgee nie.
Wat het toe gebeur?
Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog was die Getuies van Wisła nog steeds sterk in die geloof en gereed om hulle predikingswerk met ywer en vasbeslotenheid te hervat. Groepe broers het mense besoek wat tot 40 kilometer van Wisła af gewoon het, om vir hulle te getuig en Bybellektuur te versprei. “Kort voor lank was daar drie bedrywige gemeentes in ons dorp”, sê Jan Krzok. Maar godsdiensvryheid het nie lank geduur nie.
Die Kommunistiese regering, wat die Nazi’s vervang het, het in 1950 die bedrywigheid van Jehovah se Getuies in Pole verbied. Die plaaslike broers moes dus vindingryk in hulle bediening wees. Partykeer het hulle mense by hulle huise besoek onder die voorwendsel dat hulle vee of graan wou koop. Christelike vergaderinge is gewoonlik snags in klein groepies gehou. Nietemin het die veiligheidspolisie daarin geslaag om baie van Jehovah se aanbidders in hegtenis te neem, op aanklag dat hulle vir ’n buitelandse intelligensiediens werk—’n aantyging wat heeltemal ongegrond was. Sekere amptenare het Paweł Pilch gedreig deur sarkasties te sê: “Hitler het jou nie gebreek nie, maar ons sal.” Tog het hy lojaal aan Jehovah gebly, al was hy vyf jaar lank opgesluit. Toe ’n paar jonger Getuies geweier het om ’n sosialistiese politieke dokument te teken, is hulle uit die skool geskors of by die werk afgedank.
Jehovah was altyd met hulle
In die jaar 1989 het die politieke klimaat verander, en Jehovah se Getuies het wetlike erkenning in Pole ontvang. Standvastige aanbidders van Jehovah in Wisła het hulle bediening uitgebrei, soos gesien kon word aan die aantal pioniers, of voltydse bedienaars. Sowat 100 broers en susters uit hierdie gebied het aan die pionierdiens begin deelneem. Dit is dus geen wonder dat die dorp die bynaam die Pionierfabriek gegee is nie.
Die Bybel sê van God se ondersteuning van sy knegte in die verlede: “As Jehovah nie vir ons was toe mense teen ons opgestaan het nie, dan sou hulle ons lewend verswelg het” (Psalm 124:2, 3). Ten spyte van wydverspreide onverskilligheid en onsedelike wêreldse neigings onder die algemene bevolking streef Jehovah se hedendaagse aanbidders in Wisła daarna om hulle onkreukbaarheid te handhaaf, en hulle word ryklik geseën. Opeenvolgende geslagte Getuies in daardie gebied kan getuig van die waarheid van die apostel Paulus se stelling: “As God vir ons is, wie sal teen ons wees?”—Romeine 8:31.
[Prent op bladsy 26]
Emilia Krzok is saam met haar kinders Helena, Emilia en Jan na ’n tydelike kamp in Boheme gestuur
[Prent op bladsy 26]
Toe Paweł Szalbot geweier het om militêre diens te doen, is hy gestuur om in ’n myn te werk
[Prent op bladsy 27]
Toe broers na Auschwitz gestuur is en daar gesterf het, het die werk in Wisła nie ophou uitbrei nie
[Prent op bladsy 28]
Paweł Pilch en Jan Polok is na ’n kinderkamp in Lodz geneem
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Bessies en blomme: © R.M. Kosinscy/www.kosinscy.pl