’n Interessante besoek aan Saba
DIE Nederlandse eiland Saba was vroeër ’n vesting vir seerowers wat op die Karibiese See gevaar het op soek na buit. Vandag het hierdie klein eilandjie, wat 240 kilometer oos van Puerto Rico geleë is, sowat 1 600 bewoners, van wie 5 Jehovah se Getuies is. Maar hierdie moedige bedienaars soek na iets wat baie waardevoller is as buit. Hulle soek ywerig na mense wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het.—Handelinge 13:48.
Die goeie nuus van God se Koninkryk het die eiland aanvanklik op 22 Junie 1952 bereik toe die 18 meter lange seilboot Sibia, wat deur Jehovah se Getuies beman is, naby Saba se kus anker gegooi het (Matteus 24:14). Die sendelinge Gust Maki en Stanley Carter het opgeklim teen The Ladder, ’n paadjie met meer as 500 kliptrappe na The Bottom, Saba se hoofstad.a Hierdie nou paadjie was eeue lank die enigste manier waarop die eilandbewoners bereik kon word.
Die eerste gepubliseerde verslag oor die Christelike getuieniswerk op Saba het in die 1966 Yearbook of Jehovah’s Witnesses verskyn. Volgens daardie verslag was daar net een bedrywige Getuie op die eiland. Later het ’n gesin van Kanada etlike jare lank die goeie nuus daar verkondig. Russel en Kathy, ’n afgetrede egpaar van die Verenigde State, het onlangs na Saba gegaan en die predikingswerk daar gedoen. Lees gerus hulle verhaal.
’n Besoek aan Saba
Ek en my vrou kom per vliegtuig op die eiland aan as gaste van Ronald, wat gedurende die grootste deel van die 1990’s die enigste Getuie daar was. Ons gasheer wag vir ons by die lughawe. Hy is baie bly oor die klein kartondoos met groente wat ons as geskenk vir hom gebring het, want daar is geen kommersiële boerdery op die eiland nie. Ons klim in ’n bakkie en ry stadig met ’n kronkelpad teen die kant van Mount Scenery op na die top van hierdie uitgewerkte vulkaan.
Ons hou stil by die dorpie Hell’s Gate, waar Ronald kyk of ’n uitnodiging na Sondag se openbare toespraak nog op die kennisgewingbord is. Ons is bly om te sien dat dit daar is. Hy klim terug in die bakkie, en ons ry verder boontoe na die eiland se grootste dorpie, Windwardside. Soos die naam aandui, is hierdie skilderagtige dorpie aan die windkant van die eiland geleë, sowat 400 meter bo seespieël. Wanneer ons by die oprit van Ron se huisie inry, sien ons ’n kleurvolle teken op die voorstoep wat sê dat dit ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies is.
Tydens middagete vra ek die vraag wat tot ons besoek aanleiding gegee het: “Hoe het dit gekom dat jy ’n Koninkryksverkondiger op Saba is?”
“Toe die bouwerk aan die takkantoor van Jehovah se Getuies in Puerto Rico in 1993 klaar was”, sê Ron, “wou ek en my vrou graag in ’n buitelandse toewysing bly. Ons het Saba vroeër saam met ’n ander pionieregpaar besoek en uitgevind dat daar 1 400 bewoners is maar geen Getuies nie. Ons het dus met die Takkomitee in Puerto Rico gepraat oor die moontlikheid om hierheen te trek.
“Alles het goed verloop, en ons het uiteindelik toestemming gekry om te trek. Ongelukkig het my vrou twee jaar later ernstig siek geword, en ons het na Kalifornië teruggekeer. Ná haar dood het ek teruggekom na Saba, want ek hou nie daarvan om iets te begin en dit nie klaar te maak nie.”
Huis-tot-huis-getuieniswerk op Saba
Die woonkamer van Ron se honderd jaar oue huis dien ook as ’n Koninkryksaal.b Terwyl ons ontbyt eet en voorberei om in die bediening uit te gaan, reën die opelugkombuis effens nat. Ná ontbyt is daar verspreide wolke in die lug wanneer ons vertrek om die oggend in die deur-tot-deur-getuieniswerk in The Bottom deur te bring. By elke huis groet Ron die huisbewoner by name. Ons bespreking draai om ’n plaaslike gebeurtenis wat onlangs in die nuus was. Die meeste mense is vertroud met Ron en die werk wat hy doen, en baie neem graag Bybellektuur.
Dit kan ’n uitdaging wees om aantekening te hou van diegene wat in die Koninkryksboodskap belangstel as jy nie die dorpsbewoners ken nie. Waarom? Want “die wet vereis dat al die huise dieselfde kleur geverf moet wees”, sê Ron. En jou waarlik, ek kyk om my rond en sien dat al die huise op Saba wit is met rooi dakke.
Ná ons Bybelbespreking nooi ons die huisbewoner om die openbare Bybeltoespraak Sondag by die Koninkryksaal by te woon. Wanneer Ron op die eiland is, hou hy elke week ’n openbare toespraak. Op die oomblik word 17 Bybelstudies op Saba gehou. Twintig mense het die Herdenking van Christus se dood in 2004 bygewoon. En al klink dit miskien na min, verteenwoordig dit 1 persent van Saba se hele bevolking!
Ja, Jehovah se Getuies ontsien geen moeite om soveel mense moontlik met God se boodskap van redding te bereik nie. Of dit nou ’n klein eilandjie soos Saba of ’n hele vasteland is, Jehovah se Getuies voer getrou die opdrag uit om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak’.—Matteus 28:19.
Ongelukkig is ons aan die einde van ons besoek. Terwyl ons op die vliegtuig klim, waai ons om te groet. Ons sal altyd ons besoek aan Saba onthou, asook die ondervinding om na The Bottom te klim!
[Voetnote]
a Seerowers het dit blykbaar The Bottom genoem omdat hulle gedink het dat dit aan die voet van ’n krater was.
b Op 28 September 2003 het vrywilligers van Florida, VSA, na Saba gegaan en ’n nabygeleë gebou opgeknap, wat nou as die Koninkryksaal dien.
[Kaarte op bladsy 10]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
PUERTO RICO
[Foto-erkenning op bladsy 10]
Agtergrond: www.sabatourism.com