Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 4/1 bl. 25-28
  • Maak Jehovah jou God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maak Jehovah jou God
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Abraham het “geloof in Jehovah” gestel
  • Geloof soos dié van Abraham in ons dag
  • ’n Man na Jehovah se hart
  • Wanneer ons foute begaan
  • “’n Mens met gevoelens soos ons s’n”
  • Ons emosionele stryd
  • Ons moet Jehovah ons God maak
  • Hy het vertroosting in sy God gevind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Hy het vertroosting in sy God gevind
    Volg hulle geloof na
  • Sal jy getrou wees soos Elia?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Voel jy ooit eensaam en bang?
    Leer jou kinders
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 4/1 bl. 25-28

Maak Jehovah jou God

IN Bybeltye het sekere persone so ’n hegte verhouding met Jehovah geniet dat daar van hom gepraat word as hulle God. In die Skrif word Jehovah byvoorbeeld as “die God van Abraham”, ‘die God van Dawid’ en “die God van Elia” beskryf.—Genesis 31:42; 2 Konings 2:14; 20:5.

Hoe het elkeen van hierdie manne ’n hegte verhouding met God verkry? Wat kan ons by hulle leer sodat ons ook ’n sterk persoonlike verhouding met die Skepper kan bou en handhaaf?

Abraham het “geloof in Jehovah” gestel

Abraham is die eerste persoon van wie die Bybel sê dat hy geloof in Jehovah gestel het. Geloof was die vernaamste eienskap van Abraham wat vir hom God se goedkeuring meegebring het. Trouens, Abraham het Jehovah se guns in so ’n mate geniet dat die Skepper homself later aan Moses bekend gemaak het as “die God van Abraham” en van sy seun en kleinseun, Isak en Jakob.—Genesis 15:6; Eksodus 3:6.

Hoe het Abraham hierdie soort geloof in God verkry? In die eerste plek het Abraham sy geloof op ’n vaste grondslag gebou. Hy is moontlik in Jehovah se weë onderrig deur Noag se seun Sem, wat ’n ooggetuie van God se reddingsdade was. Sem was ’n lewende bewys dat Jehovah “Noag, ’n prediker van regverdigheid, met sewe ander veilig bewaar het toe hy ’n watervloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het” (2 Petrus 2:5). Abraham het moontlik by Sem geleer dat die vervulling van iets seker is wanneer Jehovah dit belowe het. Hoe dit ook al sy, toe Abraham ’n belofte van God ontvang het, het hy hom verheug en sy lewenswyse gegrond op die vaste wete dat die belofte vervul sou word.

Aangesien Abraham se geloof ’n vaste grondslag gehad het, is dit deur sy werke versterk. Die apostel Paulus het geskryf: “Deur geloof was Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam deur weg te trek na ’n plek wat hy bestem was om as erfenis te ontvang; en hy het weggetrek, hoewel hy nie geweet het waarheen hy gaan nie” (Hebreërs 11:8). Daardie daad van gehoorsaamheid het Abraham se geloof opgebou, waarvan die dissipel Jakobus geskryf het: “Jy sien dat sy geloof met sy werke saamgewerk het en dat sy geloof deur sy werke tot volmaaktheid gebring is.”—Jakobus 2:22.

Daarbenewens het Jehovah toegelaat dat Abraham se geloof getoets word, wat dit verder versterk het. Paulus het bygevoeg: “Deur geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak so goed as geoffer.” Toetse louter en versterk geloof en maak dat dit “van baie groter waarde is as goud”.—Hebreërs 11:17; 1 Petrus 1:7.

Alhoewel Abraham nie in sy leeftyd die vervulling gesien het van alles wat God belowe het nie, het hy die vreugde gesmaak om te sien hoe ander sy voorbeeld volg. Sy vrou, Sara, en drie ander lede van sy familie—Isak, Jakob en Josef—word ook in die Bybel vir hulle uitsonderlike geloof geprys.—Hebreërs 11:11, 20-22.

Geloof soos dié van Abraham in ons dag

Geloof is noodsaaklik vir enigeen wat Jehovah sy God wil maak. “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees”, het Paulus geskryf (Hebreërs 11:6). Hoe kan ’n kneg van God vandag sterk geloof soos dié van Abraham ontwikkel?

Soos in die geval van Abraham, moet ons geloof op ’n vaste grondslag gebou word. Die beste manier om dit te doen, is deur die Bybel en Bybelpublikasies gereeld te bestudeer. As ons die Bybel lees en peins oor wat ons lees, kan dit ons die versekering gee dat God se beloftes vervul sal word. Ons word dan beweeg om ons lewenswyse te verander op grond van daardie versekerde verwagting. Ons geloof word verder opgebou deur dade van gehoorsaamheid, wat ’n deelname aan die openbare bediening en die bywoning van Christelike vergaderinge insluit.—Matteus 24:14; 28:19, 20; Hebreërs 10:24, 25.

Ons geloof sal vir seker getoets word, miskien deur teenstand, ernstige siekte, die dood van ’n geliefde of iets anders. Wanneer ons onder beproewing lojaal bly aan Jehovah, versterk dit ons geloof en maak dit ons geloof waardevoller as goud. Of ons die vervulling van al God se beloftes in ons leeftyd sien of nie, ons geloof sal ons nader aan Jehovah laat kom. Wat meer is, ons voorbeeld sal ander aanmoedig om ons geloof na te volg (Hebreërs 13:7). Dit was die geval met Ralph, wat die geloof van sy ouers gesien en nagevolg het. Hy verduidelik:

“Toe ek nog in die huis was, het my ouers ons hele gesin aangemoedig om soggens vroeg op te staan sodat ons die Bybel saam kon lees. Op dié manier het ons die hele Bybel deurgelees.” Ralph lees nog steeds elke oggend die Bybel, en dit is vir hom ’n goeie manier om sy dag te begin. Ralph het elke week saam met sy pa velddiens gedoen. “Dit is waar ek geleer het om herbesoeke te doen en om tuisbybelstudies te hou.” Ralph dien nou as ’n vrywilliger by een van die takkantore van Jehovah se Getuies in Europa. Wat ’n wonderlike beloning vir sy ouers se geloof!

’n Man na Jehovah se hart

Dawid, wat ongeveer 900 jaar ná Abraham gebore is, is ’n uitsonderlike man onder die knegte van Jehovah wat in die Skrif genoem word. Aangaande Jehovah se keuse van Dawid as die toekomstige koning het die profeet Samuel gesê: “Jehovah sal beslis vir hom ’n man na sy hart vind.” Die band tussen Jehovah en Dawid was so heg dat die profeet Jesaja later met koning Hiskia gepraat het oor “Jehovah, die God van jou voorvader Dawid”.—1 Samuel 13:14; 2 Konings 20:5; Jesaja 38:5.

Hoewel Dawid na aan Jehovah se hart was, het hy by tye toegelaat dat sy begeertes die oorhand oor hom kry. Hy het drie keer ernstige foute begaan: Hy het toegelaat dat die verbondsark op die verkeerde manier vervoer word op pad na Jerusalem; hy het egbreuk met Batseba gepleeg en die dood van haar man, Uria, bewerkstellig; en hy het ’n telling van Israel en Juda gehou, wat Jehovah nie beveel het nie. By elkeen van hierdie geleenthede het Dawid die Wet van God oortree.—2 Samuel 6:2-10; 11:2-27; 24:1-9.

Wanneer Dawid se sondes aan hom uitgewys is, het hy egter verantwoordelikheid daarvoor aanvaar en nie die skuld op iemand anders probeer afskuif nie. Hy het erken dat die vervoer van die Ark nie behoorlik gereël was nie en het bygevoeg: “Ons het [Jehovah] nie volgens die gebruik gesoek nie.” Toe die profeet Natan Dawid se egbreuk blootgelê het, het Dawid vir hom gesê: “Ek het teen Jehovah gesondig”. En toe Dawid besef hoe dwaas dit was om die mense te tel, het hy erken: “Ek het grootliks gesondig deur wat ek gedoen het.” Dawid het berou gehad oor sy sondes en na aan Jehovah gebly.—1 Kronieke 15:13; 2 Samuel 12:13; 24:10.

Wanneer ons foute begaan

In ons pogings om Jehovah ons God te maak, is Dawid se voorbeeld bemoedigend. As ’n man wat só na Jehovah se hart was, sulke ernstige sondes kon pleeg, hoef ons nie mismoedig te word as ons, ten spyte van ons beste pogings, partykeer iets verkeerds doen of selfs ernstige foute begaan nie (Prediker 7:20). Ons kan moed skep uit die feit dat Dawid se sondes vergewe is toe hy berou getoon het. Dít het etlike jare gelede met Uwea gebeur.

Uwe het as ’n ouer man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies gedien. By een geleentheid het hy voor verkeerde begeertes geswig en hom aan onsedelikheid skuldig gemaak. Uwe het, net soos koning Dawid, eers die saak probeer wegsteek, in die hoop dat Jehovah sy oortreding sou ignoreer. Uiteindelik het Uwe se gewete hom só gepla dat hy sy oortreding aan ’n mede- ouer man bely het, en stappe is toe gedoen om Uwe van sy geestelike rampspoed te help herstel.

Uwe het berou getoon oor sy sondes en na aan Jehovah en die gemeente gebly. Hy was so dankbaar vir die hulp wat hy ontvang het dat hy ’n paar weke later aan die ouer manne geskryf het om sy opregte en diepe waardering vir hulle bystand uit te spreek. “Julle het my gehelp om Jehovah se naam van smaad te suiwer”, het hy geskryf. Uwe kon sy verhouding met Jehovah behou en is mettertyd weer as ’n kneg in dieselfde gemeente aangestel.

“’n Mens met gevoelens soos ons s’n”

Elia, wat in die eeu ná Dawid gelewe het, was een van Israel se vernaamste profete. Elia was ’n voorstander van ware aanbidding gedurende ’n tydperk van wydverspreide verdorwenheid en onsedelikheid, en hy het nooit gewankel in sy toegewydheid aan Jehovah nie. Dit is geen wonder dat sy opvolger, Elisa, Jehovah eenkeer “die God van Elia” genoem het nie!—2 Konings 2:14.

Elia was nogtans nie bomenslik nie. Jakobus het geskryf: “Elia was ’n mens met gevoelens soos ons s’n” (Jakobus 5:17). Byvoorbeeld, nadat hy Baälaanbidders in Israel ’n groot nederlaag toegedien het, het koningin Isebel gedreig om hom dood te maak. Hoe het hy gereageer? Hy het bang geword en die wildernis in gevlug. Terwyl hy daar onder ’n besemstruik gesit het, het Elia geweeklaag en gesê: “Dit is genoeg! Neem nou my siel weg, o Jehovah, want ek is nie beter as my voorvaders nie.” Elia wou eerder sterf as om langer ’n profeet te wees.—1 Konings 19:4.

Jehovah het egter begrip getoon vir Elia se gevoelens. God het Elia versterk en hom verseker dat hy nie alleen is nie, aangesien daar ander is wat lojaal aan ware aanbidding gebly het. Wat meer is, Jehovah het nog steeds vertroue in Elia gehad en het vir hom werk gehad.—1 Konings 19:5-18.

Elia se emosionele ontwrigting was nie ’n aanduiding dat hy God se guns verloor het nie. Wie het Jehovah ongeveer 1 000 jaar later gekies om langs Christus Jesus in die visioen te verskyn toe Jesus voor Petrus, Jakobus en Johannes van gedaante verander het? Moses en Elia (Matteus 17:1-9). Jehovah het Elia klaarblyklik as ’n voorbeeldige profeet beskou. Hoewel Elia net “’n mens met gevoelens soos ons s’n” was, het God sy harde werk om rein aanbidding te herstel en Sy naam te heilig, waardeer.

Ons emosionele stryd

Hedendaagse knegte van Jehovah kan soms mismoedig of angstig voel. Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Elia soortgelyke gevoelens ervaar het! En dit is gerusstellend om te weet dat Jehovah ons emosionele stryd verstaan, net soos hy Elia se gevoelens verstaan het.—Psalm 103:14.

Aan die een kant is ons lief vir God en ons medemens en wil ons graag Jehovah se werk doen om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Aan die ander kant is ons dalk teleurgesteld omdat mense nie gunstig op ons predikingswerk reageer nie of kwel ons ons selfs oor die dreigemente van vyande van ware aanbidding. Maar net soos Jehovah Elia toegerus het om voort te gaan, rus Hy vandag ook sy knegte toe. Beskou byvoorbeeld die geval van Herbert en Gertrud.

In 1952 is Herbert en Gertrud in Leipzig, in die voormalige Duitse Demokratiese Republiek, as Jehovah se Getuies gedoop. Die lewe was destyds moeilik vir knegte van God omdat hulle openbare bediening verbied was. Hoe het Herbert daaroor gevoel om van huis tot huis te getuig?

“Ons was partykeer baie bekommerd. Wanneer ons van huis tot huis gegaan het, het ons nie geweet of die owerheid skielik sou opdaag en ons in hegtenis sou neem nie.” Wat het Herbert en ander gehelp om hulle vrees te oorkom? “Ons het baie persoonlike Bybelstudie gedoen. En Jehovah het vir ons die krag gegee om voort te gaan met ons predikingswerk.” Herbert het in sy openbare bediening ’n aantal ondervindinge gehad wat hom versterk—en selfs vermaak—het.

Herbert het ’n middeljarige vrou ontmoet wat belangstelling in die Bybel getoon het. Toe Herbert haar ’n paar dae later weer gaan besoek het, was daar ’n jong man teenwoordig wat na die gesprek geluister het. Ná ’n paar minute het Herbert iets gesien wat hom laat sidder het. Op ’n stoel in die hoek van die vertrek het die hoed van ’n polisiebeampte gelê. Dit het aan die jong man behoort, wat klaarblyklik ’n polisieman was wat Herbert beslis in hegtenis sou wou neem.

“Jy is een van Jehovah se Getuies!” het die jong man uitgeroep. “Laat ek jou identiteitskaart sien.” Herbert het dit aan hom oorhandig. Toe het die onverwagte gebeur. Die vrou het na die polisieman toe gedraai en hom gewaarsku: “As enigiets met hierdie man van God gebeur, is jy nie meer welkom in hierdie huis nie.”

Die jong man het ’n oomblik gehuiwer, toe die identiteitskaart aan Herbert teruggegee en hom laat gaan. Herbert het later uitgevind dat die polisieman by die vrou se dogter gekuier het. Hy het klaarblyklik gevoel dat dit beter sou wees om sy verhouding met die meisie voort te sit as om Herbert oor te gee.

Ons moet Jehovah ons God maak

Wat kan ons uit hierdie gebeure leer? Soos Abraham moet ons sterk geloof in Jehovah se beloftes hê. Soos Dawid moet ons ons tot Jehovah wend en opreg berou toon wanneer ons sondig. En soos Elia moet ons in tye van benoudheid op Jehovah vertrou. As ons dit doen, maak ons Jehovah nou en tot in alle ewigheid ons God, aangesien hy “’n lewende God [is], wat ’n Redder is van alle soorte mense, veral van getroues”.—1 Timoteus 4:10.

[Voetnoot]

a Naam is verander.

[Prente op bladsy 25]

Dade van gehoorsaamheid het Abraham se geloof versterk

[Prent op bladsy 26]

Soos Dawid moet ons berou toon wanneer ons sondig

[Prent op bladsy 28]

Net soos Jehovah Elia se gevoelens verstaan het, verstaan hy ons s’n

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel