Hoop te midde van wanhoop—’n byeenkoms in ’n vlugtelingkamp
DIE Kakuma-vlugtelingkamp is in die noorde van Kenia, naby die grens met Soedan. Meer as 86 000 mense woon daar. Dit is ’n dorre gebied, met dagtemperature van tot 50 °C. Geweld tussen die ontwortelde gemeenskappe is iets alledaags. Vir baie is die kamp ’n plek van wanhoop. Maar ander het hoop.
Onder die vlugtelinge is ’n aantal Getuies van Jehovah, wat die goeie nuus van die Koninkryk ywerig verkondig. Hulle is deel van ’n klein gemeentetjie in Lodwar, 120 kilometer na die suide. Die volgende gemeente is agt uur per motor daarvandaan.
Aangesien die vlugtelinge nie vryelik buite die kamp kan rondreis nie, kan baie nie die kring- en streekbyeenkomste bywoon wat deur Jehovah se Getuies gehou word nie. Om hierdie rede is reëlings getref om ’n spesiale byeenkomsdag binne-in die kamp te hou.
Die reis na die noorde
Om die byeenkoms te ondersteun, het 15 Getuies in die dorp Eldoret, 480 kilometer suid van die kamp, aangebied om die moeilike reis na die dorre noorde te onderneem, saam met ’n Bybelstudent wat die gebruik van sy minibus en bestuurder aangebied het. Hulle hartsbegeerte was om hulle broers aan te moedig en te versterk.
Die reis het vroeg een koue oggend in die westelike hoogland van Kenia begin. Die stamperige pad het deur landerye en woude geklim en toe afgedaal na ’n snikhete gebied vol woestynbossies. Troppe bokke en kamele het op die onherbergsame terrein gewei. Mense uit plaaslike stamme het in hulle tradisionele klere rondgeloop, baie van hulle met knopkieries, boë en pyle. Ná ’n reis van 11 uur het die Getuies by Lodwar aangekom, ’n warm en stowwerige dorpie met byna 20 000 inwoners. Die reisigers is hartlik verwelkom deur hulle Getuiegashere en het ’n bietjie gaan rus sodat hulle gereed sou wees vir ’n besige naweek.
Die volgende oggend het die besoekers na party van die gebied se besienswaardighede gaan kyk. Die Turkana-meer, die grootste in Kenia, was ’n moet. Dit word omring deur kilometers van woestynplantegroei en huisves die wêreld se grootste krokodilbevolking. Die alkaliese water help om die yl bevolking langs die oewer te onderhou. Dit was aangenaam om daardie aand die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering saam met die plaaslike gemeente by te woon. Hulle het ’n pragtige Koninkryksaal, wat in 2003 gebou is deur middel van die Getuies se bouprogram vir lande met beperkte middele.
Die spesiale byeenkomsdag
Sondag was vir die spesiale byeenkomsdag opsygesit. Die Lodwar-gemeente en die besoekende broers het toestemming gekry om teen 08:00 in die kamp in te gaan, en daarom was die Getuies gretig om vroeg in die pad te val. Die pad het deur die dorre landskap na die Soedannese grens gekronkel. Ruwe berge het bo die pad uitgetoring. By die dorpie Kakuma was die uitsig weer onbelemmerd. Dit het gereën, en die grondpad na die kamp was plek-plek onder water. Die meeste huise was van kleistene met sink- of seildakke. Groepe Etiopiërs, Somaliërs, Soedannese en ander woon almal in hulle eie deel van die kamp. Die vlugtelinge het die reisigers geesdriftig gegroet.
Die byeenkoms is in ’n opleidingsentrum gehou. Op die mure was daar tekeninge wat getuig het van die afgryslikhede van die lewe as ’n vlugteling, maar die gees wat daardie dag in die saal geheers het, was ’n gees van hoop. Elke toespraak is in Engels en Swahili gehou. Party sprekers wat albei tale vlot kan praat, het selfs vir hulleself getolk. ’n Vlugtelingbroer uit Soedan het die openingstoespraak, “Ons moet ons figuurlike hart ondersoek”, gehou. Ander dele is deur besoekende ouer manne behartig.
’n Spesiale hoogtepunt van elke byeenkoms is die doopplegtigheid. Aan die einde van die dooptoespraak was alle oë op die een kandidaat gerig toe hy opstaan. Gilbert het gedurende die volksmoord van 1994 saam met sy pa uit hulle tuisland gevlug. Hulle het aanvanklik gehoop dat hulle in Burundi veilig sou wees, maar het gou besef dat hulle nog steeds in gevaar verkeer het. Gilbert het na Zaïre gevlug, toe na Tanzanië—soms moes hy in die oerwoud wegkruip—en uiteindelik na Kenia. Baie oë was vol trane toe die spreker hom as ’n broer in die gemeente verwelkom het. Gilbert het voor die klein byeenkoms van 95 mense gestaan en in ’n duidelike stem vol vertroue “Ndiyo!”—Swahili vir “Ja!”—geantwoord op die twee vrae wat die spreker aan hom gestel het. Hy en ’n paar ander broers het met die hand ’n dammetjie uitgegrawe en dit met die seil uitgevoer wat vroeër sy skuiling in die kamp bedek het. Hy het getoon hoe gretig hy was om gedoop te word deur daardie oggend die doopbad sonder enige hulp, emmer vir emmer, vol water te maak!
Een van die hoogtepunte van die middagsessie was die ondervindinge wat vertel is oor die unieke situasie van die Getuies wat vlugtelinge is. Een broer het verduidelik hoe hy ’n man genader het wat onder ’n boom gerus het.
“Sê vir my, is dit altyd veilig om onder ’n boom te sit?”
“Ja”, het die man geantwoord. Toe voeg hy by: “Maar nee, nie snags nie.”
Die broer het toe vir hom Miga 4:3, 4 gelees: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie.” “Sien jy”, het hy verduidelik, “in God se nuwe wêreld, sal dit altyd veilig wees.” Die man het ’n Bybelstudiehulp geneem.
Een suster wat na Kakuma toe gereis het, het kort tevore drie naasbestaandes deur die dood verloor. Sy het kommentaar gelewer oor die broers in die kamp en gesê: “Dit is ’n plek met soveel moeilikhede; en tog het hulle hulle geloof sterk gehou. Hulle lewe in ’n ongelukkige plek, maar hulle dien Jehovah blymoedig. Hulle geniet vrede met God. Ek is aangemoedig om dié vrede te bewaar en Jehovah te dien. Ek het niks om oor te kla nie!”
Die byeenkoms was alte gou verby. In die slottoespraak het die spreker daarop gewys dat verteenwoordigers uit agt lande teenwoordig was. Een van die Getuies wat ’n vlugteling is, het opgemerk dat hierdie byeenkoms bewys gelewer het van die eenheid en liefde onder Jehovah se Getuies in ’n verdeelde wêreld. Hulle geniet ’n ware Christenbroederskap.—Johannes 13:35.
[Venster/Prent op bladsy 25]
DIE VERLORE SEUNS VAN SOEDAN
Sedert die begin van die burgeroorlog in Soedan in 1983 is vyfmiljoen mense al uit hulle huise verdryf. Onder hulle was sowat 26 000 kinders wat van hulle gesinne geskei is. Duisende van hulle het na vlugtelingkampe in Etiopië gevlug, waar hulle omtrent drie jaar lank gebly het. Hulle is gedwing om weer te trek en het ’n jaar lank te voet deur Soedan na Noord-Kenia gereis, ’n reis waartydens hulle deur soldate, rowers, siektes en wilde diere geteister is. Net die helfte van die kinders het hierdie veeleisende reis oorleef, en hulle het uiteindelik die kern van die Kakuma-kamp geword. Noodlenigingsorganisasies het hulle die verlore seuns van Soedan begin noem.
Die Kakuma-vlugtelingkamp is nou ’n veelvolkige tuiste vir vlugtelinge uit baie lande, onder meer Soedan, Somalië en Etiopië. Wanneer ’n vlugteling by die kamp aankom, kry hy basiese materiaal om ’n huis mee te bou en ’n seil vir ’n dak. Twee keer per maand kry elke vlugteling omtrent ses kilogram meel, een kilogram bone sowel as olie en sout. Baie vlugtelinge ruil ’n deel van hulle rantsoen vir ander noodsaaklikhede.
Party van hierdie verlore seuns is met hulle gesinne herenig of in ander lande hervestig. Maar volgens die Kantoor vir Vlugtelinghervestiging “het duisende ander agtergebly in die stowwerige vlugtelingkamp in Kakuma wat van die vlieë wemel, waar hulle nog altyd moes soek na kos en sukkel om ’n geleerdheid te verkry”.
[Erkenning]
Courtesy Refugees International
[Kaart op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
KENIA
Kakuma-kamp
Turkana-meer
Lodwar
Eldoret
Nairobi
[Prent op bladsy 23]
Lewenstoestande in die kamp is ’n uitdaging
[Prent op bladsy 23]
Water word in die Kakuma-kamp gerantsoeneer
[Prent op bladsy 23]
Keniaanse Getuies onderneem die moeilike reis na die noorde om hulle broers aan te moedig
[Prent op bladsy 24]
’n Sendeling tolk by ’n toespraak wat deur ’n plaaslike spesiale pionier gehou word
[Prent op bladsy 24]
Doopbad
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Waterrantsoenering en Kakuma-vlugtelingkamp: Courtesy Refugees International