Op watter fondament bou jy?
HOE lank ’n gebou sal staan, hang grootliks af van hoe sterk die substruktuur, of fondament, is. Die Bybel gebruik hierdie beginsel soms in figuurlike sin.
Die profeet Jesaja verwys byvoorbeeld na Jehovah God as die een wat “die fondament van die aarde lê” (Jesaja 51:13). Hierdie fondament is die onveranderlike wette van God wat die beweging van die aarde beheer en dit in sy plek hou (Psalm 104:5). God se Woord, die Bybel, praat ook van “die fondamente” waarop die mensegemeenskap rus. Dit is geregtigheid, wet en orde. Wanneer dit deur ongeregtigheid, korrupsie en geweld “afgebreek”, of ondermyn, word, stort die maatskaplike orde inmekaar.—Psalm 11:2-6; Spreuke 29:4.
Hierdie beginsel geld ook op persoonlike vlak. Toe Jesus Christus sy beroemde Bergpredikasie afgesluit het, het hy gesê: “Elkeen wat hierdie woorde van my hoor en dit doen, [sal] vergelyk word met ’n verstandige man, wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het neergestort en die vloedwaters het gekom en die winde het gewaai en aan daardie huis geruk, maar dit het nie ineengestort nie, want dit was op die rots gegrondves. Verder sal elkeen wat hierdie woorde van my hoor en dit nie doen nie, vergelyk word met ’n dwase man, wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het neergestort en die vloedwaters het gekom en die winde het gewaai en daardie huis getref en dit het ineengestort, en sy ineenstorting was groot.”—Matteus 7:24-27.
Op watter fondament bou jy jou lewe? Is dit op die los sand van godlose mensefilosofie, wat tot ’n strukturele ineenstorting sal lei? Of bou jy op die vaste rots van gehoorsaamheid aan die woorde van Jesus Christus, wat jou sal help om die figuurlike storms in die lewe die hoof te bied?