Vrae van lesers
Waarom is Dawid en Batseba nie tereggestel omdat hulle egbreuk gepleeg het nie, maar het hulle pasgebore seun gesterf?
Die Mosaïese Wet het bepaal: “As ’n man betrap word terwyl hy by ’n vrou lê wat aan ’n eienaar behoort, dan moet hulle twee saam sterf, die man wat by die vrou gelê het, en die vrou. So moet jy die kwaad uit Israel wegruim” (Deuteronomium 22:22). As Jehovah God toegelaat het dat die regsaak van Dawid en Batseba se sonde deur menseregters onder die Wet hanteer word, sou die owerspelige paar tereggestel gewees het. Aangesien die menseregters nie harte kon lees nie, moes hulle regspreek op grond van die gedrag van die oortreders soos dit deur die feite aan die lig gebring is. Die doodsvonnis moes vir egbreuk opgelê word. Die Israelitiese regters het nie die gesag gehad om hierdie oortreding oor te sien nie.
Die ware God kan daarenteen harte lees en sondes vergewe as hy ’n grondslag daarvoor sien. Aangesien Dawid, met wie Hy die Koninkryksverbond gesluit het, by die saak betrokke was, het Jehovah besluit om ’n uitsondering te maak en die saak self te hanteer (2 Samuel 7:12-16). “Die Regter van die hele aarde” het die reg om so ’n besluit te maak.—Genesis 18:25.
Wat het Jehovah gesien toe hy Dawid se hart ondersoek het? Die opskrif van Psalm 51 sê dat hierdie psalm Dawid se gevoelens openbaar “toe die profeet Natan na hom toe gekom het nadat hy gemeenskap met Batseba gehad het”. Psalm 51:1-4 sê: “Betoon guns aan my, o God, ooreenkomstig u liefderyke goedhartigheid. Wis my oortredings uit ooreenkomstig die oorvloed van u barmhartighede. Was my deeglik van my ongeregtigheid, en reinig my selfs van my sonde. Want my oortredings ken ek, en my sonde is voortdurend voor my. Teen u, u alleen, het ek gesondig, en wat sleg is in u oë, het ek gedoen.” Jehovah het ongetwyfeld hierdie intense spyt in Dawid se hart beskou as ’n bewys van opregte berou en besluit dat daar ’n grondslag was om barmhartigheid aan die oortreders te bewys. Daarbenewens was Dawid self ’n barmhartige persoon, en Jehovah bewys barmhartigheid aan die barmhartiges (1 Samuel 24:4-7; Matteus 5:7; Jakobus 2:13). Toe Dawid dus sy sonde erken het, het Natan vir hom gesê: “En Jehovah sien u sonde oor. U sal nie sterf nie.”—2 Samuel 12:13.
Dawid en Batseba sou nie al die gevolge van hulle sonde vryspring nie. “Omdat u Jehovah deur hierdie saak ongetwyfeld met minagting bejeën het”, het Natan vir Dawid gesê, “sal ook die seun, wat pas vir u gebore is, sekerlik sterf.” Hulle kind het siek geword en gesterf ten spyte daarvan dat Dawid sewe dae lank gevas en gerou het.—2 Samuel 12:14-18.
Party vind dit moeilik om te verstaan waarom die seun moes sterf, aangesien Deuteronomium 24:16 sê: “Kinders mag nie vir vaders doodgemaak word nie.” Ons moet egter onthou dat die ouers sowel as die ongebore kind in die baarmoeder hulle lewe sou verloor het as die saak deur menseregters hanteer is. Die verlies van die seun het Dawid moontlik ook gehelp om duideliker te besef hoe ontevrede Jehovah was oor sy sonde met Batseba. Ons kan vol vertroue wees dat Jehovah die saak op ’n regverdige wyse hanteer het, want ‘sy weg is volmaak’.—2 Samuel 22:31.
[Prent op bladsy 31]
Dawid het ware berou getoon