Uitbreiding waar die vroeë Christelike godsdiens eens op ’n tyd gefloreer het
ITALIË, die stewelvormige skiereiland wat tot in die Middellandse See strek, is ’n plek waar godsdiens- en kulturele gebeurtenisse ’n uitwerking op die wêreldgeskiedenis gehad het. Die land trek miljoene toeriste soos ’n magneet aan weens sy groot verskeidenheid natuurtonele, sy beroemde kunswerke en sy heerlike geregte. Dit is ook ’n land waar Bybelonderrig floreer.
Die ware Christelike godsdiens het Rome—die hoofstad van die destydse wêreldmoondheid—dalk eers bereik toe Jode en proseliete wat op Pinkster 33 G.J. Christene geword het, van Jerusalem af teruggekeer het huis toe. Die apostel Paulus het Italië omstreeks 59 G.J. vir die eerste keer besoek. In Puteoli, wat aan die kus geleë was, het hy “broers” in die geloof gevind.—Handelinge 2:5-11; 28:11-16.
Soos Jesus en die apostels voorspel het, het afvalliges voor die einde van die eerste eeu G.J. die ware Christelike godsdiens begin verlaat. Maar nou, voor die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge, neem ware dissipels van Jesus die voortou met die verkondiging van die goeie nuus oral in die wêreld—ook in Italië.—Matteus 13:36-43; Handelinge 20:29, 30; 2 Tessalonisense 2:3-8; 2 Petrus 2:1-3.
’n Teleurstellende begin
Charles Taze Russell, wat die leiding geneem het in die wêreldwye predikingswerk van die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het), het in 1891 ’n paar Italiaanse stede vir die eerste keer besoek. Hy moes erken dat sy bediening daar nie juis belowende resultate opgelewer het nie: “Ons het niks gesien wat ons hoop gee dat daar enige oes in Italië sal wees nie.” In die lente van 1910 het broer Russell na Italië teruggekeer en in ’n gimnasium in die hartjie van Rome ’n Bybellesing gehou. Wat was die gevolg? “In die geheel”, het hy gesê, “was die vergadering ’n groot teleurstelling.”
Trouens, die verkondiging van die goeie nuus in Italië het ’n paar dekades lank stadig gevorder, deels omdat Jehovah se Getuies deur die Fascistiese diktatorskap vervolg is. Gedurende daardie tydperk was daar hoogstens 150 Getuies van Jehovah in die land, en die meeste het Bybelwaarhede geleer by familielede of vriende wat in ander lande gewoon het.
Merkwaardige vooruitgang
Ná die Tweede Wêreldoorlog is ’n aantal sendelinge na Italië gestuur. Maar soos korrespondensie toon wat in die Staatsargief gevind is, het hooggeplaastes in die Vatikaanse hiërargie die regering gevra om die sendelinge uit die land te sit. Die sendelinge, met die uitsondering van ’n paar, moes noodgedwonge die land verlaat.
Ondanks die struikelblokke het menigtes in Italië na “die berg” van Jehovah se aanbidding begin stroom (Jesaja 2:2-4). Die toename in Getuies was merkwaardig. In 2004 was daar ’n hoogtepunt van 233 527 verkondigers van die goeie nuus, 1 vir elke 248 inwoners, en 433 242 het die Herdenking van Christus se dood bygewoon. Daar was 3 049 gemeentes van Jehovah se Getuies wat in gerieflike Koninkryksale vergader het. In onlangse tye was daar veral onder sekere dele van die bevolking ’n groot vermeerdering.
Die predikingswerk word in baie tale gedoen
Baie immigrante uit Afrika, Asië en Oos-Europa kom na Italië om werk of ’n beter lewe te vind of, in sommige gevalle, om aan tragiese situasies te ontkom. Hoe kan hierdie miljoene op geestelike gebied gehelp word?
Baie Getuies in Italië het die uitdaging aanvaar om moeilike tale te leer, soos Albanees, Amharies, Arabies, Bengali, Chinees, Pandjabi, Singala en Tagalog. Taalklasse is van 2001 af gehou om hierdie gewilliges te leer om in ander tale ’n getuienis te gee. Gedurende die afgelope drie jaar het 3 711 Getuies 79 klasse bygewoon wat in 17 tale gehou is. Dit het hulle in staat gestel om 146 gemeentes en 274 groepe in 25 tale te stig en te versterk. So het talle opregtes die goeie nuus gehoor en die Bybel begin studeer. Die resultate is dikwels merkwaardig.
’n Bedienaar van Jehovah se Getuies het met George, ’n Malabaarssprekende man uit Indië, oor die Bybel gepraat. Hoewel George groot probleme met werk gehad het, het hy met graagte ’n Bybelstudie aanvaar. ’n Paar dae later het George se vriend Gil, ’n Pandjabisprekende Indiër, na die Koninkryksaal gegaan, en ’n Bybelstudie is met hom begin. Gil het David, ’n Teloegoesprekende Indiër, aan die Getuies voorgestel. David het kort voor lank die Bybel begin studeer. Twee ander Indiërs, Sonny en Shubash, het in dieselfde huis as David gewoon. Hulle al twee het by die Bybelstudie aangesluit.
’n Paar weke later het die Getuies ’n telefoonoproep ontvang van Dalip, ’n Mahrattisprekende man. Hy het gesê: “Ek is George se vriend. Kan julle my die Bybel leer?” Toe was daar Sumit, ’n Tamilsprekende man. Later het nog een van George se vriende gebel en ’n Bybelstudie gevra. George het daarna nog ’n jong man, Max, na die Koninkryksaal toe gebring. Hy het ook ’n studie gevra. Op die oomblik word ses Bybelstudies gehou, en daar word reëlings getref vir nog vier. Dit word in Engels gehou, maar publikasies in Hindi, Malabaars, Mahratti, Pandjabi, Tamil, Teloegoe en Oerdoe word ook gebruik.
Die dowes “hoor” die goeie nuus
Daar is meer as 90 000 dowe mense in Italië. In die middel-1970’s het die Getuies hulle daarop begin toespits om hulle Bybelwaarheid te leer. Aanvanklik het ’n paar dowe Getuies hulle medebedienaars wat bereid was om in daardie veld te help, Italiaanse Gebaretaal (ISL) geleer. Toe het al hoe meer dowe mense belangstelling in die Bybel begin toon. Vandag woon meer as 1 400 mense wat ISL gebruik, Christelike vergaderinge by. Vyftien gemeentes en 52 groepe hou vergaderinge in ISL.
Aanvanklik is die predikingswerk onder dowe mense hoofsaaklik deur individuele Getuies gedoen wat self die inisiatief geneem het. Maar in 1978 het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Italië streekbyeenkomste vir die dowes begin reël. In Mei van daardie jaar is aangekondig dat daar by die volgende internasionale byeenkoms in Milaan sessies vir die dowes sou wees. Die eerste kringbyeenkoms vir die dowes is in Februarie 1979 by die Byeenkomssaal in Milaan gehou.
Die takkantoor het sedertdien noukeurig aandag gegee aan die geestelike voeding van die dowes deur al hoe meer evangeliedienaars aan te spoor om vaardiger te word in hulle gebruik van hierdie taal. Sedert 1995 is spesiale pioniers (voltydse evangeliedienaars) na party groepe gestuur om dowe Getuies in die bediening op te lei en om Christelike vergaderinge te reël. Drie Byeenkomssale is met gesofistikeerde videostelsels toegerus om die program beter te kan sien. En videokassette van Christelike publikasies is beskikbaar om geestelike voedsel aan dowe mense te voorsien.
Waarnemers het opgemerk dat die Getuies goed in die geestelike behoeftes van dowe mense voorsien. P@role & Segni, ’n tydskrif wat deur die Italiaanse Vereniging vir Dowes uitgegee word, het aangehaal uit ’n brief wat ’n Katolieke monseigneur vir hulle gestuur het: “Dit is moeilik om doof te wees in die sin dat die dowe persoon voortdurend aandag nodig het. Hy kom byvoorbeeld sonder moeite alleen by die kerk aan, maar hy het die hulp van ’n tolk nodig om alles te volg wat gedurende die dienste gelees, gesê of gesing word.” Die tydskrif het bygevoeg dat die kerkvors “meen dat die kerk ongelukkig nog nie gereed is om aan die gebrek aandag te gee nie, en hy sê dat daar in die Koninkryksale van Jehovah se Getuies beter omgesien word na talle dowe mense as in die plaaslike kerk.”
Die goeie nuus word aan gevangenes verkondig
Kan ’n mens in die tronk wees en tog vry wees? Ja, want God se Woord het die krag om diegene ‘vry te maak’ wat dit aanneem en in hulle lewe toepas. Die boodskap wat Jesus “aan die gevangenes” verkondig het, was vryheid van sonde en valse godsdiens (Johannes 8:32; Lukas 4:16-19). In Italië word uitstekende resultate behaal deur in tronke te getuig. Die Staat het aan byna 400 bedienaars van Jehovah se Getuies toestemming verleen om gevangenes te besoek om geestelike hulp te voorsien. Jehovah se Getuies was die eerste nie-Katolieke organisasie wat toestemming hiervoor gevra en gekry het.
Die Bybel se boodskap kan op onvoorspelbare maniere versprei word. Gevangenes praat met medegevangenes oor die Bybelonderrigtingswerk van Jehovah se Getuies. Party van hierdie gevangenes het gevolglik al gevra dat ’n Getuiebedienaar hulle besoek. Of familielede wat die Bybel begin studeer het, spoor die gevangenes aan om te vra dat die Getuies hulle besoek. Party gevangenes wat lewenslange gevangenisstraf vir moord of ander ernstige misdade uitdien, het berou getoon en hulle lewe ingrypend verander. Dit berei hulle voor om hulle aan Jehovah God toe te wy en gedoop te word.
Reëlings is in ’n aantal tronke getref om openbare toesprake oor Bybelonderwerpe te hou, om die Herdenking van Jesus se dood te vier en om videokassette van Bybelprogramme te vertoon wat deur Jehovah se Getuies gemaak is. Daar is dikwels baie gevangenes by hierdie vergaderinge teenwoordig.
Die Getuies het tydskrifte oor onderwerpe wat die gevangenes nuttig sal vind, onder baie in die tronk versprei om hulle op praktiese maniere te help. Een van hierdie tydskrifte was die Ontwaak! van 8 Mei 2001, wat die onderwerp “Kan gevangenes gerehabiliteer word?” bespreek het. Die nommer van 8 April 2003 het gehandel oor die onderwerp “Dwelmmisbruik in die gesin—Wat kan jy doen?” Duisende eksemplare is by gevangenes gelaat. Gevolglik word honderde Bybelstudies gehou. Party tronkbewaarders het ook belangstelling in die Bybel se boodskap getoon.
Nadat ’n spesiale permit by die owerheid verkry is, is ’n gevangene met die naam Costantino in ’n Koninkryksaal in San Remo gedoop, en 138 plaaslike Getuies was teenwoordig. “Dit het gevoel of ek met liefde oorlaai word”, het ’n ontroerde Costantino ná die geleentheid gesê. ’n Plaaslike koerant het die woorde van die tronkbewaarder aangehaal: “Ons het met groot vreugde . . . hierdie toestemming verleen. Enigiets wat die maatskaplike, persoonlike en geestelike rehabilitasie van ’n gevangene kan bevorder, moet oorweeg word.” Costantino se vrou en dogter is beïndruk deur die uitwerking wat juiste Bybelkennis op sy lewe gehad het: “Ons is trots op hom oor die veranderinge wat hy gemaak het. Hy het vredeliewend geword, en sy besorgdheid oor ons bly toeneem. Ons vertroue in hom is herstel, en ons het weer respek vir hom.” Hulle het ook begin om die Bybel te studeer en Christelike vergaderinge by te woon.
Sergio, wat skuldig bevind is aan diefstal, gewapende roof, dwelmsmokkelary en moord, is gevonnis om tot 2024 gevangenisstraf uit te dien. Nadat Sergio die Skrif drie jaar lank ondersoek het en groot veranderinge in sy lewe aangebring het, het hy besluit om hom te laat doop. Hy is die 15de gevangene in die Porto Azzurro-tronk, op die eiland Elba, wat as een van Jehovah se Getuies gedoop is. ’n Hele paar van sy medegevangenes was teenwoordig toe hy gedoop is in ’n vervoerbare swembad wat op die tronk se sportterrein opgerig is.
Leonardo, wat gevangenisstraf van 20 jaar uitdien, het spesiale toestemming gekry om in ’n Koninkryksaal in Parma gedoop te word. In ’n onderhoud met die plaaslike koerant het Leonardo gesê dat hy “dit duidelik wil stel dat hy besluit het om een van Jehovah se Getuies te word, nie om ’n manier te vind om uit die duisternis van die tronk te kom nie, maar om in ’n ware geestelike behoefte te voorsien”. Leonardo het gesê: “Ek het baie foute in my lewe gemaak, maar ek het dit agtergelaat. Ek het verander, hoewel dit nie oornag gebeur het nie. Ek sal moet aanhou om my eervol te gedra.”
Salvatore, wat skuldig bevind is aan moord, is in die Spoleto-maksimumsekuriteitsgevangenis. Sy doop, wat in die tronk plaasgevind het, het baie mense beïndruk. Die tronkbewaarder daar het gesê: “Die maatskaplike belangrikheid van ’n keuse wat tot beter gedrag teenoor almal lei, moet bevorder word, tot voordeel van die tronkgemeenskap sowel as die hele samelewing.” Die veranderinge wat Salvatore aangebring het, het daartoe gelei dat sy vrou en een van sy dogters nou die vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon. ’n Gevangene vir wie Salvatore getuig het, is as ’n toegewyde kneg van Jehovah gedoop.
Italië is een van die plekke waar die Christelike godsdiens destyds uitgebrei het (Handelinge 2:10; Romeine 1:7). In hierdie oestyd is daar voortdurend geestelike vooruitgang en uitbreiding in dieselfde gebiede waar Paulus en sy mede-Christene gearbei het om die goeie nuus te verkondig.—Handelinge 23:11; 28:14-16.
[Kaart op bladsy 13]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
ITALIË
Rome
[Prente op bladsy 15]
Die Bitonto-Byeenkomssaal en ’n Italiaanse Gebaretaal-gemeente in Rome
[Prent op bladsy 16]
Gevangenes word deur Bybelwaarheid ‘vrygemaak’
[Prente op bladsy 17]
Daar is voortdurend geestelike vooruitgang waar die vroeë Christelike godsdiens destyds gefloreer het