’n Onregverdige wêreld
STEM jy saam dat ons in ’n onregverdige wêreld lewe? Ongetwyfeld. Die feit is dat ons, ongeag watter talente ons het en hoe goed ons ons lewe beplan, nie verseker is van rykdom of sukses of selfs voedsel nie. Sake verloop dikwels soos die wyse koning Salomo van ouds gesê het: “Dit is nie die wyses wat brood het nie, of die intelligentes wat rykdom het nie, of die bekwames wat suksesvol is nie.” Waarom nie? Want, sê Salomo verder, “almal is onderworpe aan tyd en toeval”.—Prediker 9:11, The New English Bible.
“Wanneer slegte tye skielik kom”
Ja, “tyd en toeval”, wat dikwels beteken dat ’n mens op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is, verydel dikwels ons weldeurdagte planne en beste verwagtinge. Volgens Salomo is ons “soos visse wat in ’n net gevang word, soos ’n voël wat in ’n strik gevang word, . . . wanneer slegte tye skielik kom” (Prediker 9:12, NE). Byvoorbeeld, miljoene mense bewerk die grond onvermoeid om aan hulle gesinne voedsel te voorsien, maar vind dan dat “slegte tye” hulle tref wanneer die reën nie kom nie en droogte hulle oes laat misluk.
Ander probeer help, maar selfs die hulp wat die res van die wêreldgemeenskap tydens “slegte tye” aan slagoffers verleen, lyk dikwels onregverdig. Byvoorbeeld, volgens ’n vername noodlenigingsagentskap “was die geld wat vir noodleniging” in ’n onlangse jaar in die stryd teen honger “aan die hele vasteland [van Afrika] geskenk is, net ’n vyfde van wat aan die Golfoorlog toegeken is”. Was dit regverdig dat dié wat die middele het, vyf keer soveel geld spandeer het om ’n oorlog in een land te voer as wat hulle spandeer het om die pyn en lyding te verlig wat hongersnood op ’n hele vasteland veroorsaak het? En is dit gedurende ’n tyd wanneer baie mense materiële voorspoed geniet, regverdig dat 1 uit 4 van die aarde se bewoners nog steeds in volslae armoede lewe of dat miljoene kinders elke jaar aan voorkombare siektes sterf? Beslis nie!
Meer as “tyd en toeval” is natuurlik daarby betrokke wanneer “slegte tye skielik kom”. Sterk kragte waaroor ons geen beheer het nie, oefen ook ’n groot invloed op ons lewe uit en bepaal wat met ons gebeur. Dit was beslis die geval in Beslan, Alanië, in die herfs van 2004, toe honderde mense, onder meer talle jong kinders gedurende hulle eerste dag by die skool, doodgemaak is in ’n wreedaardige konflik tussen terroriste en veiligheidsmagte. Presies wie tydens daardie tragedie gesterf het en wie dit oorleef het, is weliswaar grootliks deur toeval bepaal—maar die grondoorsaak van daardie “slegte tye” was ’n konflik tussen mense.
Sal dit altyd so wees?
“Dit is maar die beloop van die lewe”, sê party wanneer hulle van onregte praat. “Dit was nog altyd so, en dit sal altyd so wees.” Volgens hulle sal die sterkes altyd die swakkes onderdruk en sal die rykes altyd die armes uitbuit. Dít tesame met “tyd en toeval”, sê hulle, sal ’n uitwerking op ons lewe hê solank as wat die mensdom bestaan.
Hoef dit werklik so te wees? Sal dit ooit moontlik wees vir diegene wat hulle vermoëns op ’n intelligente en wyse manier gebruik, om ’n regverdige beloning vir al hulle harde werk te ontvang? Kan enigiemand iets doen om ’n permanente, blywende verandering in ’n onregverdige wêreld teweeg te bring? Kyk wat die volgende artikel oor hierdie onderwerp sê.
[Foto-erkenning op bladsy 2]
COVER: Man with a child: UN PHOTO 148426/McCurry/Stockbower
[Foto-erkenning op bladsy 3]
MAXIM MARMUR/AFP/Getty Images