Wandel met God en maai wat goed is
“Wind bly hulle saai, en ’n stormwind sal hulle maai.”—HOSEA 8:7.
1. Hoe kan ons met Jehovah wandel?
’N REIS deur ’n gevaarlike gebied sou veiliger wees as ’n ervare gids vir ons die pad wys. Dit sou verstandig wees om eerder saam met so ’n gids te loop as om ons eie koers in te slaan. In sekere opsigte lig dit die situasie toe waarin ons verkeer. Jehovah het as ’t ware aangebied om vir ons die pad deur die ontsaglike woestyn van die teenswoordige goddelose wêreld te wys. Dit sal verstandig van ons wees om eerder met hom te wandel as om ons eie voetstappe te probeer rig. Hoe kan ons met God wandel? Deur die leiding te volg wat hy in sy Woord voorsien.
2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
2 Die vorige artikel het die simboliese drama bespreek wat in Hosea hoofstukke 1 tot 5 gevind word. Soos ons gesien het, bevat daardie drama lesse wat ons kan help om met God te wandel. Kom ons bespreek nou ’n paar glanspunte uit Hos hoofstukke 6 tot 9. Dit sal nuttig wees om met ’n kort oorsig van hierdie vier hoofstukke te begin.
’n Kort oorsig
3. Gee ’n kort opsomming van die inhoud van Hosea hoofstukke 6 tot 9.
3 Jehovah het Hosea gestuur om hoofsaaklik vir die noordelike tienstammeryk van Israel te profeteer. Daardie nasie, wat ook as Efraim bekend gestaan het na aanleiding van die naam van die oorheersende stam, het hulle van God afgekeer. Hosea hoofstukke 6 tot 9 toon dat die volk dislojaal was deurdat hulle Jehovah se verbond oortree het en goddeloosheid beoefen het (Hosea 6:7). Hulle het eerder op wêreldse bondgenootskappe vertrou as om tot Jehovah terug te keer. Omdat hulle bly saai het wat sleg is, sou hulle maai wat sleg is. Met ander woorde, ’n ongunstige oordeel het op hulle gewag. Maar Hosea se profesie bevat ook ’n bemoedigende boodskap. Die volk is daarvan verseker dat hulle tot Jehovah kon terugkeer en dat hulle barmhartigheid bewys sou word mits hulle opregte berou toon.
4. Watter praktiese lesse uit Hosea se profesie sal ons bespreek?
4 Uit hierdie vier hoofstukke van Hosea se profesie kan ons verdere leiding kry wat ons sal help om met God te wandel. Kom ons kyk na vier praktiese lesse: (1) Ware berou word geopenbaar deur dade, nie net woorde nie; (2) offerandes op sigself behaag God nie; (3) dit maak Jehovah seer wanneer sy aanbidders hulle van hom afkeer en (4) as ons wil maai wat goed is, moet ons saai wat goed is.
Hoe ware berou geopenbaar word
5. Som kortliks op wat in Hosea 6:1-3 gesê word.
5 Hosea se profesie leer ons baie omtrent berou en barmhartigheid. In Hosea 6:1-3 lees ons: “Kom, en laat ons terugkeer tot Jehovah, want hy het verskeur, maar hy sal ons genees. Hy het bly slaan, maar hy sal ons verbind. Hy sal ons ná twee dae lewend maak. Op die derde dag sal hy ons laat opstaan, en ons sal voor hom lewe. En ons sal ken, ons sal daarna streef om Jehovah te ken. Soos die dagbreek is sy uitgang stewig gevestig. En hy sal soos ’n stortreën na ons toe kom; soos ’n lentereën wat die aarde deurweek.”
6-8.Wat was fout met Israel se berou?
6 Wie het die woorde gespreek wat in hierdie verse opgeteken staan? Party skryf hierdie woorde toe aan die ontroue Israeliete en sê dat die ongehoorsame volk voorgegee het dat hulle berou het en van God se barmhartigheid misbruik gemaak het. Ander sê egter dat dit die woorde van die profeet Hosea is en dat hy die volk gesmeek het om tot Jehovah terug te keer. Ongeag wie hierdie woorde gespreek het, die belangrike vraag is: Het die volk van die tienstammeryk van Israel oor die algemeen tot Jehovah teruggekeer en opregte berou getoon? Die antwoord is nee. Jehovah sê deur middel van Hosea: “Wat sal ek met jou doen, o Efraim? Wat sal ek met jou doen, o Juda, wanneer julle liefderyke goedhartigheid soos die oggendwolke is en soos die dou wat vroeg verdwyn?” (Hosea 6:4). Wat ’n bewys tog van die jammerlike geestelike toestand van God se volk! Liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, het feitlik verdwyn—soos die oggendmiswolke wat gou verdwyn wanneer die son opkom. Hoewel die volk blykbaar voorgegee het dat hulle berou het, het Jehovah geen rede gevind om barmhartigheid te bewys nie. Wat was die probleem?
7 Israel se berou het nie werklik uit die hart gekom nie. Hosea 7:14 sê aangaande Jehovah se misnoeë met sy volk: “Hulle het nie met hulle hart tot my om hulp geroep nie, hoewel hulle op hulle beddens bly weeklaag het.” Hos 7 Vers 16 voeg by: “Hulle het teruggekeer, nie tot iets hoërs nie”—dit wil sê “nie tot ’n verhewe vorm van aanbidding nie” (voetnoot in NW). Die volk was nie bereid om tot Jehovah se verhewe aanbidding terug te keer deur die veranderinge te maak wat nodig was om hulle verhouding met hom te herstel nie. Ja, hulle wou nie werklik met God wandel nie.
8 Daar was nog ’n probleem met Israel se berou. Die volk het nog steeds sonde beoefen—in werklikheid ’n groot verskeidenheid sondes, waaronder bedrog, moord, diefstal, afgodediens en onverstandige bondgenootskappe met ander nasies. In Hosea 7:4 word die volk vergelyk met die “oond” van ’n bakker, blykbaar omdat bose begeertes in hulle gebrand het. Het hulle, in die lig van so ’n jammerlike geestelike toestand, barmhartigheid verdien? Beslis nie! Hosea sê vir die opstandige volk dat Jehovah ‘aan hulle oortreding sal dink’ en ‘aan hulle sondes aandag sal skenk’ (Hosea 9:9). Geen barmhartigheid vir hulle nie!
9. Wat leer ons omtrent berou en barmhartigheid uit Hosea se woorde?
9 Wat leer ons omtrent berou en barmhartigheid wanneer ons Hosea se woorde lees? Die waarskuwende voorbeeld van die ontroue Israeliete leer ons dat ons opregte berou moet toon as ons by Jehovah se barmhartigheid wil baat vind. Hoe word sulke berou geopenbaar? Jehovah word nie mislei deur trane of blote woorde nie. Opregte berou word deur dade geopenbaar. As ’n oortreder barmhartigheid wil ontvang, moet hy sy sondige weg heeltemal verlaat en sy lewe in ooreenstemming bring met die hoë standaarde van Jehovah se verhewe aanbidding.
Offerandes op sigself behaag Jehovah nie
10, 11. Waarom behaag offerandes op sigself Jehovah nie, soos toegelig in die geval van Israel?
10 Kom ons bespreek nou ’n tweede les wat ons kan help om met Jehovah te wandel. Dit is: Offerandes op sigself behaag God nie. Hosea 6:6 sê: “In liefderyke goedhartigheid het ek [Jehovah] behae geskep, en nie in offerande nie; en in die kennis van God eerder as in heelbrandoffers.” Let daarop dat Jehovah behae skep in liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde—’n eienskap van die hart—en in die kennis van hom. Maar miskien wonder jy: ‘Waarom sê hierdie vers dat Jehovah nie behae skep in “offerande” en “heelbrandoffers” nie? Is dit nie onder die Mosaïese Wet vereis nie?’
11 Offerandes is wel onder die Wet vereis, maar daar was ’n ernstige probleem met Hosea se tydgenote. Daar was blykbaar Israeliete wat hierdie offerandes pligsgetrou gebring het in ’n uiterlike vertoon van toegewydheid. Terselfdertyd het hulle sonde beoefen. Deur hulle sondigheid het hulle getoon dat daar geen lojale liefde in hulle hart was nie. Hulle het ook getoon dat hulle die kennis van God verwerp het, want hulle het nie in ooreenstemming daarmee gelewe nie. As die volk nie die regte hartstoestand en die regte lewenswyse gehad het nie, van watter waarde was hulle offerandes dan? Hulle offerandes was vir Jehovah God aanstootlik.
12. Watter waarskuwende les bevat Hosea 6:6 vir mense wat vandag lewe?
12 Hosea se woorde bevat ’n waarskuwende les vir baie kerkgangers van vandag. Hulle bring offerandes aan God in die vorm van godsdiensgebruike. Maar hulle aanbidding het eintlik min, indien enige, uitwerking op hulle gedrag van dag tot dag. Behaag sulke mense God werklik as hulle hart hulle nie beweeg om juiste kennis van hom in te neem en daardie kennis toe te pas deur sondige gebruike te verwerp nie? Niemand moet dink dat God behae skep in godsdienswerke alleen nie. Jehovah skep geen behae in mense wat sy guns probeer verkry deur blote vormdiens te verrig in plaas van werklik volgens sy Woord te lewe nie.—2 Timoteus 3:5.
13. Watter soort offerandes bring ons, maar wat moet ons in gedagte hou oor die waarde daarvan?
13 As ware Christene hou ons in gedagte dat God nie behae skep in offerandes alleen nie. Ons bring weliswaar nie diereofferandes aan Jehovah nie. Maar ons bring wel “aan God ’n lofoffer . . . , dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak” (Hebreërs 13:15). Dit is belangrik dat ons nie soos die sondige Israeliete in Hosea se dag dink dat ons vir oortreding kan vergoed deur geestelike offerandes aan God te bring nie. Kyk na die voorbeeld van ’n jong meisie wat haar in die geheim aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak het. Sy het later erken: “Ek het meer velddiens gedoen, want ek het gedink dat dit op die een of ander manier vir die oortreding sou vergoed.” Dit was soortgelyk aan wat die eiesinnige Israeliete probeer doen het. Ons lofoffer is egter slegs aanneemlik vir Jehovah as dit met die regte beweegrede en godvrugtige gedrag gepaardgaan.
Dit maak Jehovah seer wanneer sy aanbidders hulle van hom afkeer
14. Wat leer ons uit Hosea se profesie aangaande God se gevoelens?
14 ’n Derde les wat ons uit Hosea hoofstukke 6 tot 9 leer, is hoe Jehovah voel wanneer sy aanbidders hulle van hom afkeer. God het sterk sowel as tere gevoelens. Sy tere gevoelens van vreugde en medelye kom na vore wanneer sy knegte berou toon oor hulle sondes. Maar wanneer hulle onberouvol is, tree hy ferm en beslissend op. Omdat God werklik besorg is oor ons welsyn, maak dit hom bly wanneer ons getrou met hom wandel. “Jehovah het behae in sy volk”, sê Psalm 149:4. Maar hoe voel God wanneer sy knegte ontrou is?
15. Hoe het party Israeliete volgens Hosea 6:7 opgetree?
15 Met verwysing na die ontroue Israeliete sê Jehovah: “Hulle het, soos die mens, die verbond oortree. Daar het hulle verraderlik met my gehandel” (Hosea 6:7). Die Hebreeuse woord wat met ‘verraderlik handel’ weergegee word, beteken ook “bedrieglik handel, ontrou (handel)”. In Maleagi 2:10-16 word dieselfde Hebreeuse woord gebruik om die dislojale gedrag te beskryf van Israeliete wat ontrou was aan hulle huweliksmaat. Aangaande die gebruik van hierdie uitdrukking in Hosea 6:7 sê een naslaanwerk dat dit “ ’n huweliksmetafoor is wat persoonlike eienskappe in die verhouding inbring . . . Dit is ’n persoonlike situasie waarin liefde geskend is.”
16, 17. (a) Hoe het die nasie Israel ten opsigte van God se verbond met hulle opgetree? (b) Wat moet ons onthou omtrent ons dade?
16 Jehovah het Israel as sy figuurlike vrou beskou weens sy verbond met die nasie. Toe sy volk dus die voorwaardes van daardie verbond oortree het, was dit asof hulle egbreuk gepleeg het. God was soos ’n getroue eggenoot, maar sy volk het hom verlaat!
17 Wat van ons? Dit maak vir God saak of ons met hom wandel of nie. Dit sal goed wees as ons onthou dat ‘God liefde is’ en dat ons dade hom raak (1 Johannes 4:16). As ons ’n verkeerde weg volg, sal ons Jehovah dalk seermaak, en ons sal hom beslis mishaag. As ons dit in gedagte hou, sal dit ons help om ons kragtig te verset teen versoeking.
Hoe ons kan maai wat goed is
18, 19. Watter beginsel vind ons in Hosea 8:7, en hoe is dit waar bewys in die geval van die Israeliete?
18 Kom ons kyk na ’n vierde les uit Hosea se profesie—hoe ons kan maai wat goed is. Hosea skryf aangaande die Israeliete en die dwaasheid en nietigheid van hulle ontroue weg, en sê: “Wind bly hulle saai, en ’n stormwind sal hulle maai” (Hosea 8:7). Hier vind ons ’n beginsel wat ons gerus in gedagte kan hou: Daar bestaan ’n regstreekse verband tussen wat ons nou doen en wat later met ons gebeur. Hoe is hierdie beginsel in die geval van die ontroue Israeliete waar bewys?
19 Deur sonde te beoefen, het daardie Israeliete gesaai wat sleg is. Sou hulle daarmee kon voortgaan sonder om slegte gevolge te maai? Hulle sou beslis nie ongunstige oordeel vryspring nie. Hosea 8:13 sê van Jehovah: “Hy [sal] aan hulle oortreding dink en rekenskap eis vir hulle sondes.” En in Hosea 9:17 lees ons: “My God sal hulle verwerp, want hulle het nie na hom geluister nie, en hulle sal vlugtelinge onder die nasies word.” Jehovah sou die Israeliete aanspreeklik hou vir hulle sondes. Omdat hulle gesaai het wat sleg is, sou hulle maai wat sleg is. God se oordeel oor hulle is in 740 v.G.J. voltrek toe die Assiriërs die tienstammeryk van Israel omvergewerp en die inwoners in gevangenskap weggevoer het.
20. Wat leer ons uit die ondervinding van die Israeliete?
20 Die ondervinding van daardie Israeliete leer ons ’n grondwaarheid: Ons sal maai wat ons saai. God se Woord waarsku ons: “Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). As ons saai wat sleg is, sal ons maai wat sleg is. Byvoorbeeld, diegene wat ’n onsedelike lewe lei, sal bittere gevolge maai. ’n Ongelukkige uiteinde wag op ’n onberouvolle oortreder.
21. Hoe kan ons maai wat goed is?
21 Hoe kan ons dan maai wat goed is? Daardie vraag kan met ’n eenvoudige illustrasie beantwoord word. As ’n plaasboer koring wil oes, sal hy mielies plant? Natuurlik nie! Hy moet plant wat hy wil oes. As ons dan wil maai wat goed is, moet ons ook saai wat goed is. Wil jy voortgaan om te maai wat goed is—’n bevredigende lewe nou met die vooruitsig op ewige lewe in God se nuwe wêreld? Dan moet jy voortgaan om te saai wat goed is deur met God te wandel en in ooreenstemming met sy regverdige standaarde te lewe.
22. Watter lesse het ons uit Hosea hoofstukke 6 tot 9 geleer?
22 Uit Hosea hoofstukke 6 tot 9 het ons vier lesse geleer wat ons kan help om met God te wandel: (1) Ware berou word deur dade geopenbaar; (2) offerandes op sigself behaag God nie; (3) dit maak Jehovah seer wanneer sy aanbidders hulle van hom afkeer en (4) as ons wil maai wat goed is, moet ons saai wat goed is. Hoe kan die laaste vyf hoofstukke van hierdie Bybelboek ons help om met God te wandel?
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe word ware berou geopenbaar?
• Waarom behaag offerandes op sigself ons hemelse Vader nie?
• Hoe voel God wanneer sy aanbidders hulle van hom afkeer?
• Wat moet ons saai as ons wil maai wat goed is?
[Prent op bladsy 23]
Israel se lojale liefde het soos oggendwolke verdwyn
[Prent op bladsy 23]
Israel se bose begeertes het soos ’n oond gebrand
[Prent op bladsy 24]
Waarom het Jehovah die offerandes van sy volk verwerp?
[Prent op bladsy 25]
As ons wil maai wat goed is, moet ons saai wat goed is