Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w06 7/15 bl. 29-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Streef na “heiligheid in die vrees van God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hoe ver is te ver?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Hoe ver is “te ver”?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
w06 7/15 bl. 29-31

Vrae van lesers

Kan iemand wat hom aan onreinheid skuldig gemaak het, uit die Christengemeente gesit word soos kan gebeur in die geval van hoerery of losbandige gedrag?

Ja, ’n persoon kan uit die gemeente gesit word as hy hoerery, sekere vorme van onreinheid of losbandige gedrag onberouvol beoefen. Die apostel Paulus noem al drie hierdie sondes saam met ander oortredings waarvoor ’n mens uitgesit kan word wanneer hy skryf: “Die werke van die vlees is openbaar, en dit is hoerery, onreinheid, losbandige gedrag . . . Ek [waarsku] julle vooruit . . . dat dié wat sulke dinge beoefen, God se koninkryk nie sal beërf nie.”—Galasiërs 5:19-21.

Hoerery (Grieks, por·neiʹa) is van toepassing op ongeoorloofde geslagsomgang buite die skriftuurlike huwelik. Dit sluit owerspel, prostitusie en geslagsomgang tussen ongetroude persone in, sowel as orale en anale seks en die seksuele manipulering van die geslagsorgane van iemand met wie jy nie getroud is nie. Iemand wat hoerery onberouvol beoefen, hoort nie in die Christengemeente nie.

Losbandige gedrag (Grieks, a·selʹgei·a) verwys na “wellustigheid; sinnelikheid; skaamtelose gedrag; ontugtige gedrag”. The New Thayer’s Greek-English Lexicon definieer die Griekse term as “onbeteuelde wellus, . . . skandelikheid, skaamteloosheid, uitdagendheid”. Volgens ’n ander woordeboek is losbandige gedrag ’n vorm van gedrag wat “alle perke van wat sosiaal aanvaarbaar is, oorskry”.

Soos die definisies hierbo toon, behels “losbandige gedrag” twee elemente: (1) Die gedrag self is ’n ernstige skending van God se wette, en (2) die gesindheid van die oortreder is oneerbiedig, uitdagend.

“Losbandige gedrag” verwys dus nie na slegte gedrag van ’n geringe aard nie. Dit hou verband met dade wat ernstige skendings van God se wette is en wat ’n onbeskaamde of vermetele, minagtende gesindheid weerspieël—’n gees wat oneerbiedigheid of selfs minagting vir gesag, wette en maatstawwe toon. Paulus koppel losbandige gedrag met ongeoorloofde gemeenskap (Romeine 13:13, 14). Aangesien Galasiërs 5:19-21 losbandige gedrag saam met ’n aantal sondige gebruike noem wat ’n mens ongeskik maak om God se Koninkryk te beërf, is losbandige gedrag grond vir teregwysing en moontlike uitsetting uit die Christengemeente.

Onreinheid (Grieks, a·ka·thar·siʹa) is die breedste van die drie terme wat as “hoerery”, “onreinheid” en “losbandige gedrag” vertaal word. Dit sluit enige soort onreinheid in—in geslagsake, in spraak, in optrede en in geestelike verhoudings. “Onreinheid” dek ’n breë spektrum van ernstige sondes.

In 2 Korintiërs 12:21 verwys Paulus na diegene wat “vroeër gesondig het maar nie berou getoon het oor hulle onreinheid en hoerery en losbandige gedrag wat hulle beoefen het nie”. Aangesien “onreinheid” saam met “hoerery en losbandige gedrag” genoem word, regverdig sekere vorme van onreinheid regterlike optrede. Maar onreinheid is ’n breë term wat dinge insluit wat nie regterlike aandag verg nie. Net soos ’n huis ’n bietjie vuil of absoluut vieslik kan wees, is daar ook grade van onreinheid.

Volgens Efesiërs 4:19 het Paulus gesê dat party persone “alle sedelikheidsgevoel verloor het” en dat “hulle hulle aan losbandige gedrag oorgegee [het] om met hebsug elke soort onreinheid te bedryf”. Paulus plaas ‘onreinheid met hebsug’ dus in dieselfde kategorie as losbandige gedrag. As ’n gedoopte persoon ‘onreinheid met hebsug’ onberouvol beoefen, kan hy uit die gemeente gesit word op grond van die feit dat dit growwe onreinheid is.

Sê nou ’n verloofde paartjie het hulle by etlike geleenthede skuldig gemaak aan hartstogwekkende intieme liefkosing. Die ouer manne sal moontlik besluit dat, hoewel hulle nie ’n onbeskaamde gesindheid geopenbaar het wat ’n kenmerk van losbandige gedrag is nie, daar tog ’n mate van hebsug in hulle gedrag was. Daarom sal die ouer manne moontlik regterlik optree omdat dit growwe onreinheid was. Growwe onreinheid is ook moontlik gepaste grond om ’n saak te hanteer waarby iemand betrokke is wat herhaaldelik seksueel eksplisiete telefoonoproepe maak, veral as hy vroeër raad ontvang het oor die saak.

Die ouer manne moet onderskeidingsvermoë aan die dag lê wanneer hulle sulke besluite moet neem. Om te bepaal of regterlike optrede nodig is, moet hulle versigtig kyk na wat gebeur het, sowel as die mate waarin dit gedoen is. As iemand nie skriftuurlike raad aanvaar nie, is hy nie noodwendig skuldig aan losbandige gedrag nie; daar kan ook nie bloot op grond van hoeveel keer iemand ’n sekere sondige daad gepleeg het, besluit word of regterlike optrede nodig is nie. Ouer manne moet elke situasie versigtig en biddend oorweeg en vasstel wat gebeur het en hoe dikwels dit gebeur het, wat die aard en omvang van die wangedrag was, asook die bedoeling en motief van die oortreder.

Growwe onreinheid behels meer as net seksuele sondes. Byvoorbeeld, ’n gedoopte seun rook dalk binne ’n kort tydsbestek ’n paar sigarette en bely dit aan sy ouers. Hy is vasbeslote om nie weer te rook nie. Dit is onreinheid, maar dit het nog nie ontwikkel tot die punt dat dit growwe onreinheid of ‘onreinheid met hebsug’ is nie. Skriftuurlike raad van een of twee ouer manne, saam met die ondersteuning van die seun se ouers, behoort genoeg te wees. Maar as die seun dikwels tabak gebruik, is dit ’n moedswillige verontreiniging van die vlees, en ’n regterlike komitee sal gevorm word om hierdie geval van growwe onreinheid te hanteer (2 Korintiërs 7:1). As die seun nie berouvol is nie, sal hy uitgesit word.

Party Christene het na pornografie begin kyk. Dit is aanstootlik vir God, en die ouer manne sal moontlik geskok wees dat ’n medegelowige dit gedoen het. Maar die feit dat iemand na pornografie kyk, sal nie altyd vereis dat hy voor ’n regterlike komitee moet verskyn nie. Gestel ’n broer het byvoorbeeld by verskeie geleenthede na sogenaamde sagte pornografie gekyk. Hy is skaam daaroor, bely dit aan ’n ouer man en is vasbeslote om nie hierdie sonde te herhaal nie. Die ouer man sal heel moontlik besluit dat die broer se gedrag nog nie ontwikkel het tot die punt waar hy ‘onreinheid met hebsug’ beoefen het nie; en hy het ook nie ’n onbeskaamde gesindheid aan die dag gelê, wat ’n aanduiding van losbandige gedrag is nie. Hoewel geen regterlike optrede nodig sal wees nie, vereis hierdie soort onreinheid reguit skriftuurlike raad en moontlik deurlopende hulp van die ouer manne.

Maar gestel ’n Christen kyk al jare lank in die geheim na afskuwelike, seksueel verdorwe pornografie en het alles in sy vermoë gedoen om hierdie sonde weg te steek. Sulke pornografie kan moontlik groepsverkragting, bondage (vasbinding tydens seks), sadistiese marteling, wreedheid teenoor vroue of selfs kinderpornografie insluit. Wanneer ander van sy gedrag uitvind, is hy baie skaam daaroor. Hy was nie onbeskaamd nie, maar die ouer manne kan besluit dat hy hom aan hierdie vieslike gewoonte “oorgegee” het en ‘onreinheid met hebsug’, dit wil sê growwe onreinheid, beoefen het. ’n Regterlike komitee sal gevorm word omdat growwe onreinheid daarby betrokke is. Die oortreder sal uitgesit word as hy nie godvrugtige berou toon en nie vasbeslote is om nooit weer na pornografie te kyk nie. As hy ander na sy huis genooi het om na pornografie te kyk—dit as ’t ware bevorder het—openbaar hy ’n onbeskaamde gesindheid wat ’n kenmerk van losbandige gedrag is.

Die skriftuurlike term “losbandige gedrag” behels altyd ernstige sonde, dikwels seksueel van aard. Wanneer ouer manne losbandige gedrag probeer identifiseer, moet hulle op die uitkyk wees na onbeskaamdheid, sinnelikheid, vieslikheid en wat skokkend is vir die openbare welvoeglikheid. Aan die ander kant kan “hebsug” betrokke wees by ernstige oortredings van Jehovah se wet wat gepleeg word deur iemand wat nie ’n onbeskaamde gesindheid aan die dag lê nie. Hierdie gevalle moet hanteer word op grond van die growwe onreinheid wat daarby betrokke is.

Dit is ’n ernstige verantwoordelikheid om te probeer bepaal of iemand ver genoeg gegaan het om skuldig te wees aan growwe onreinheid of losbandige gedrag, want lewens is daarby betrokke. Diegene wat in sulke sake as regters optree, moet dit biddend doen en moet God vra vir sy heilige gees, onderskeidingsvermoë en insig. Ouer manne moet die reinheid van die gemeente bewaar en moet hulle oordeel op God se Woord sowel as op die riglyne van “die getroue en verstandige slaaf” baseer (Matteus 18:18; 24:45). En in hierdie bose dae moet ouer manne, meer as ooit tevore, ag gee op die woorde: “Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir Jehovah.”—2 Kronieke 19:6.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel