“Van vandag af glo ek dat daar ’n God is”
’N OEKRAÏNSE vrou met die naam Alexandra, wat in Praag, Tsjeggiese Republiek, woon, was van die werk af op pad huis toe. By ’n bushalte het sy ’n tassie op die grond sien lê wat deur verbygangers rondgeskop is. Toe sy die tassie optel en daarin kyk, kon sy haar oë nie glo nie. Daar was ’n hele klomp note van 5 000 koruna elk! Dit het nie gelyk of enigiemand om haar na die tassie soek nie. As ’n buitelander wat in die Tsjeggiese Republiek woon, was dit vir Alexandra moeilik om ’n bestaan te maak. Wat sou sy doen?
Nadat Alexandra by die huis gekom het, het sy die tassie vir haar dogter, Victoria, gewys. Hulle het in die tassie na die naam en adres van die eienaar gesoek, maar kon dit nie kry nie. In die tassie was daar egter ’n stukkie papier waarop ’n paar nommers geskryf was. Aan die een kant van die papier was daar ’n rekeningnommer, en aan die ander kant nog nommers. In die tassie was daar ook aanwysings na ’n plaaslike bank en ’n stukkie papier waarop daar “330 000 koruna” (sowat R84 000) geskryf was. Dit was presies hoeveel geld daar in die tassie was.
Alexandra se pogings om die bank te skakel deur ’n nommer te gebruik wat na ’n telefoonnommer gelyk het, het misluk. Sy en haar dogter het dus na die bank toe gegaan en verduidelik wat gebeur het. Hulle het navraag gedoen oor die rekeningnommer wat hulle in die tassie gekry het. Maar die bank het geen rekord van so ’n rekening gehad nie. Die volgende dag het Alexandra teruggegaan met die ander nommer wat in die tassie was. Die bank het wel ’n kliënt, ’n vrou, met hierdie rekeningnommer gehad. Alexandra en Victoria het met die vrou in aanraking gekom, en sy het bevestig dat sy die geld verloor het. Toe hulle almal mekaar uiteindelik ontmoet het, het die vrou hulle hartlik bedank en gevra: “Op watter voorwaardes sal julle die geld teruggee?”
Victoria het geantwoord: “Daar is geen voorwaardes nie. As ons die geld wou hê, sou ons dit gehou het.” In haar gebroke Tsjeggies het sy verduidelik: “Ons gee die geld vir jou terug omdat ons Jehovah se Getuies is. Ons Bybelopgeleide gewete laat ons nie toe om te hou wat nie aan ons behoort nie” (Hebreërs 13:18). Die vrou het vreugdevol gesê: “Van vandag af glo ek dat daar ’n God is.”