Dit is “God wat dit laat groei”!
“Nie hy wat plant of hy wat natgooi, [is] iets . . . nie, maar God wat dit laat groei.”—1 KOR. 3:7.
1. In watter opsig is ons “God se medewerkers”?
“GOD se medewerkers.” So het die apostel Paulus die voorreg beskryf wat ons almal kan geniet. (Lees 1 Korintiërs 3:5-9.) Die werk waarna Paulus verwys het, is die dissipelmaakwerk. Hy het dit vergelyk met die saai en natmaak van saad. As ons in hierdie lewensbelangrike werk suksesvol wil wees, het ons Jehovah se hulp nodig. Paulus herinner ons daaraan dat dit “God [is] wat dit laat groei”.
2. Waarom help die feit dat ‘God dit laat groei’, ons om die regte beskouing van ons bediening te hê?
2 Hierdie feit laat ons nederig voel en help ons om die regte beskouing van ons bediening te hê. Ons is miskien ywerig in die predikings- en onderrigtingswerk, maar uiteindelik kom alle lof Jehovah toe vir enige groei wat daaruit voortspruit. Waarom? Omdat niemand van ons, al probeer ons ook hoe hard, die groeiproses ten volle kan verstaan nie, wat nog te sê dit beheer. Koning Salomo het die situasie korrek opgesom toe hy geskryf het: “Jy [ken] nie die werk van die ware God wat alles doen nie.”—Pred. 11:5.
3. Watter ooreenkoms is daar tussen die werk om letterlike saad te saai en om dissipels te maak?
3 Maak die feit dat ons die groeiproses nie kan verstaan nie, ons werk frustrerend? Nee. Dit maak dit eerder opwindend, interessant. Koning Salomo het gesê: “Saai jou saad in die oggend en laat jou hand tot die aand nie rus nie; want jy weet nie waar dit sukses sal behaal nie, hetsy hier of daar, en of hulle al twee ewe goed sal wees nie” (Pred. 11:6). Ja, wanneer ons letterlike saad saai, weet ons nie waar dit sal opkom en of dit wel sal opkom nie. Baie faktore is buite ons beheer. Dieselfde kan basies van die dissipelmaakwerk gesê word. Jesus het hierdie feit beklemtoon in twee illustrasies wat vir ons in die 4de hoofstuk van Markus se Evangelie opgeteken is. Kom ons kyk wat ons uit hierdie twee illustrasies kan leer.
Verskillende soorte grond
4, 5. Gee ’n opsomming van Jesus se illustrasie van die saaier wat saad uitstrooi.
4 In Markus 4:1-9 beskryf Jesus ’n saaier wat saad uitstrooi wat op verskillende plekke val: “Luister. Kyk! Die saaier het uitgegaan om te saai. En terwyl hy gesaai het, het ’n deel van die saad langs die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgeëet. En ’n ander deel het op die rotsagtige plek geval, waar dit natuurlik nie baie grond gehad het nie, en dit het onmiddellik opgeskiet omdat dit nie diep grond gehad het nie. Maar toe die son opkom, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdor. En ’n ander deel het tussen die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik, en dit het geen vrug opgelewer nie. Maar ander het op die goeie grond geval, en dit het opgekom en toegeneem en vrug begin oplewer, en dit het dertig- en sestig- en honderdvoudig gedra.”
5 In Bybeltye is saad oor die algemeen breedwerpig gesaai. Die saaier het die saad in ’n vou van sy kleed of in ’n houer gedra en dit met ’n wye swaaibeweging uitgestrooi. In hierdie illustrasie saai die saaier dus nie die saad opsetlik op die verskillende soorte grond nie. Die saad wat uitgestrooi word, beland eerder op verskillende plekke.
6. Hoe het Jesus die illustrasie van die saaier verduidelik?
6 Ons hoef nie te raai wat hierdie illustrasie beteken nie. Jesus het dit verduidelik, soos opgeteken staan in Markus 4:14-20: “Die saaier saai die woord. Dit is dan hulle wat langs die pad is waar die woord gesaai word; maar sodra hulle dit gehoor het, kom Satan en neem die woord weg wat in hulle gesaai is. En net so is dit hulle wat op die rotsagtige plekke gesaai word: sodra hulle die woord gehoor het, neem hulle dit met vreugde aan. Hulle het egter geen wortel in hulleself nie, maar hulle bly ’n tyd lank; sodra daar dan verdrukking of vervolging weens die woord ontstaan, struikel hulle. Daar is nog ander wat tussen die dorings gesaai word; dit is hulle wat die woord gehoor het, maar die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom en die begeertes na die res van die dinge dring in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar. Laastens is hulle wat op die goeie grond gesaai is, dié wat na die woord luister en dit gunstig ontvang en vrug dra: dertig- en sestig- en honderdvoudig.”
7. Wat stel die saad en die verskillende soorte grond voor?
7 Let daarop dat Jesus nie sê dat verskillende soorte saad gebruik word nie. Hy praat eerder van een soort saad wat op verskillende soorte grond val, wat almal verskillende resultate oplewer. Die eerste soort grond is hard, of vasgetrap; die tweede is vlak; die derde is oorgroei met dorings; en die vierde is goeie grond wat vrugbaar is (Luk. 8:8). Wat is die saad? Dit is die Koninkryksboodskap wat in God se Woord gevind word (Matt. 13:19). Wat stel die verskillende soorte grond voor? Mense met verskillende hartstoestande.—Lees Lukas 8:12, 15.
8. (a) Wie stel die saaier voor? (b) Waarom is daar verskillende reaksies op die Koninkrykspredikingswerk?
8 Wie word deur die saaier voorgestel? Hy stel God se medewerkers voor, dié wat die goeie nuus van die Koninkryk verkondig. Soos Paulus en Apollos, plant hulle en gooi hulle nat. Maar selfs al werk hulle hard, verskil die resultate. Waarom? As gevolg van die verskillende hartstoestande van dié wat die boodskap hoor. In die illustrasie het die saaier geen beheer oor hierdie resultate nie. Hoe vertroostend is dit tog, veral vir dié van ons getroue broers en susters wat jare lank, in party gevalle dekades lank, gewerk het met skynbaar min sigbare resultate!a Hoe so?
9. Watter vertroostende waarheid het die apostel Paulus sowel as Jesus beklemtoon?
9 Die getrouheid van die saaier word nie gemeet aan die resultate van sy werk nie. Paulus het hierop gesinspeel toe hy gesê het: “Elkeen sal sy eie beloning volgens sy eie arbeid ontvang” (1 Kor. 3:8). Die beloning word deur die arbeid bepaal, nie deur die resultate van die arbeid nie. Jesus het ook hierdie gedagte beklemtoon toe sy dissipels van ’n predikingstog teruggekeer het. Hulle was verheug omdat die demone deur die gebruik van Jesus se naam aan hulle onderwerp is. Al was dit hoe opwindend, het Jesus vir hulle gesê: “Julle moet . . . nie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderwerp word nie, maar wees bly omdat julle name in die hemele opgeskryf is” (Luk. 10:17-20). Al sien ’n saaier nie ’n groot vermeerdering as gevolg van sy werk nie, beteken dit nie noodwendig dat hy minder ywerig of getrou as ander was nie. Die resultate hang in groot mate af van die hartstoestand van die hoorder. Maar uiteindelik is dit God wat dit laat groei!
Die verantwoordelikheid van dié wat die woord hoor
10. Wat bepaal of iemand wat die woord hoor, soos goeie grond sal wees of nie?
10 Wat van dié wat die woord hoor? Is hulle reaksie vooraf bepaal? Nee. Dit hang van hulle af of hulle soos goeie grond sal wees of nie. ’n Persoon se hartstoestand kan in werklikheid ten goede of ten kwade verander (Rom. 6:17). In sy illustrasie het Jesus gesê ‘sodra party die woord gehoor het’, kom Satan en neem hy dit weg. Maar dit hoef nie te gebeur nie. In Jakobus 4:7 word Christene aangespoor om ‘die Duiwel teë te staan’, en dan sal hy van hulle af wegvlug. Jesus beskryf ander wat aanvanklik die woord met vreugde aanneem, maar dan struikel omdat hulle “geen wortel in hulleself” het nie. Maar knegte van God word gemaan om ‘gewortel en gegrond op die fondament te wees’, sodat hulle verstandelik kan begryp “wat die breedte en lengte en hoogte en diepte is, en om die liefde van die Christus te ken, wat kennis oortref”.—Ef. 3:17-19; Kol. 2:6, 7.
11. Hoe kan iemand voorkom dat sorge en rykdom die woord verstik?
11 Van ander wat die woord gehoor het, word daar gesê dat hulle toelaat dat “die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom” indring en die woord verstik (1 Tim. 6:9, 10). Hoe kan hulle dit voorkom? Die apostel Paulus antwoord: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want hy het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.’”—Heb. 13:5.
12. Waarom dra dié wat deur die goeie grond voorgestel word, nie ewe veel vrug nie?
12 Laastens het Jesus gesê dat dié wat op die goeie grond gesaai is, “vrug dra: dertig- en sestig- en honderdvoudig”. Hoewel party wat die woord aanneem, ’n goeie hartstoestand het en vrug dra, hang wat hulle in die verkondiging van die goeie nuus kan doen, van hulle omstandighede af. Bejaardheid of ’n aftakelende siekte kan byvoorbeeld beperk wat party in die predikingswerk kan doen. (Vergelyk Markus 12:43, 44.) Ook hieroor het die saaier moontlik min of geen beheer nie, maar hy is verheug wanneer hy sien dat Jehovah dit laat groei.—Lees Psalm 126:5, 6.
Die saaier wat slaap
13, 14. (a) Gee ’n opsomming van Jesus se illustrasie van die man wat saad saai. (b) Wie word deur die saaier voorgestel, en wat is die saad?
13 In Markus 4:26-29 vind ons nog ’n illustrasie oor ’n saaier: “In dié opsig is die koninkryk van God net soos wanneer ’n mens die saad op die grond gooi, en hy slaap snags en staan bedags op, en die saad spruit uit en word groot—presies hoe weet hy nie. Vanself bring die grond geleidelik vrug voort, eers die grashalm, dan die aar, uiteindelik die volle korrel in die aar. Maar sodra die vrug dit toelaat, steek hy die sekel in, want die oestyd het gekom.”
14 Wie is hierdie saaier? Party in die Christendom glo dat dit na Jesus verwys. Maar hoe kan daar gesê word dat Jesus slaap en nie weet hoe die saad groei nie? Jesus is sekerlik bewus van die groeiproses! Net soos die saaier wat vroeër gemeld is, stel hierdie een eerder individuele Koninkryksverkondigers voor, dié wat die Koninkryksaad deur hulle ywerige predikingswerk saai. Die saad wat op die grond gegooi word, is die woord wat hulle verkondig.b
15, 16. Watter waarheid omtrent letterlike en geestelike groei het Jesus in sy illustrasie van die saaier uitgebring?
15 Jesus sê van die saaier: “Hy slaap snags en staan bedags op.” Dit is nie nalatigheid aan die kant van die saaier nie. Dit beskryf net die normale daaglikse roetine wat die meeste mense volg. Die bewoording wat in hierdie vers gebruik word, dui op ’n volgehoue proses om oor ’n tydperk bedags te werk en snags te slaap. Jesus het beklemtoon wat gedurende dié tyd gebeur. “Die saad spruit uit en word groot”, sê hy. Dan voeg Jesus by: “Presies hoe weet hy nie.” Die klem val op die feit dat die groei “vanself” plaasvind.c
16 Watter punt het Jesus hier gemaak? Let daarop dat groei en die geleidelike manier waarop dit plaasvind, beklemtoon word. “Vanself bring die grond geleidelik vrug voort, eers die grashalm, dan die aar, uiteindelik die volle korrel in die aar” (Mark. 4:28). Hierdie groei vind geleidelik en in stadiums plaas. Dit kan nie geforseer of bespoedig word nie. Dieselfde geld vir geestelike groei. Dit vind in stadiums plaas namate Jehovah die waarheid laat groei in die hart van iemand wat die regte gesindheid het.—Hand. 13:48; Heb. 6:1.
17. Wie deel in die blydskap wanneer die saad van waarheid vrug dra?
17 Hoe neem die saaier deel aan die oes “sodra die vrug dit toelaat”? Wanneer Jehovah die Koninkrykswaarheid in die hart van nuwe dissipels laat groei, bereik hulle uiteindelik die punt waar hulle liefde vir God hulle beweeg om hulle lewe aan hom toe te wy. Hulle simboliseer hulle toewyding deur waterdoop. Broers wat voortgaan om tot rypheid te vorder, kan geleidelik meer verantwoordelikheid in die gemeente dra. Koninkryksvrugte word gemaai deur die oorspronklike saaier sowel as deur ander Koninkryksverkondigers wat moontlik nie persoonlik betrokke was by die saai van die saad wat hierdie spesifieke dissipel voortgebring het nie. (Lees Johannes 4:36-38.) Ja, “die een wat saai en die een wat oes, [is] saam bly”.
Lesse vir ons in hierdie tyd
18, 19. (a) Hoe het hierdie hersiening van Jesus se illustrasies jou aangemoedig? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
18 Wat het ons geleer uit ons hersiening van hierdie twee illustrasies in Markus hoofstuk 4? Ons kan duidelik sien dat ons werk het om te doen—ons moet saai. Ons moet nooit toelaat dat verskonings en potensiële probleme en moeilikhede ons verhinder om hierdie werk te doen nie (Pred. 11:4). Terselfdertyd is ons egter bewus van ons wonderlike voorreg om as medewerkers van God gereken te word. Dit is Jehovah wat geestelike groei teweegbring en wat ons pogings en die pogings van dié wat die boodskap ontvang, seën. Ons besef dat ons nie geestelike groei in enigiemand kan forseer nie. Ons hoef ook nie ontmoedig of moedeloos te voel as groei stadig is of nie plaasvind nie. Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat ons sukses gemeet word aan ons getrouheid aan Jehovah en aan die voorreg wat hy ons gegee het om die ‘goeie nuus van die koninkryk te verkondig as ’n getuienis vir al die nasies’.—Matt. 24:14.
19 Wat anders het Jesus ons geleer oor die groei van nuwe dissipels en die Koninkrykswerk? Die antwoord op hierdie vraag word gevind in ander illustrasies wat in die Evangelieverslae opgeteken is. Ons sal ’n paar van hierdie illustrasies in die volgende artikel ontleed.
[Voetnote]
a Neem byvoorbeeld broer Georg Fjölnir Lindal se bediening in Ysland, wat opgeteken is in die 2005 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 210-211, en die ondervindinge van getroue knegte wat baie jare lank sonder onmiddellike resultate in Ierland volhard het, in die 1988 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 82-99.
b Daar is voorheen in hierdie tydskrif verduidelik dat die saad eienskappe voorstel wat tot rypheid moet groei en dat dit gedurende hierdie tyd deur omgewingsfaktore beïnvloed word. Let egter daarop dat die saad in Jesus se illustrasie nie in slegte saad of verrotte vrugte verander nie. Dit groei bloot tot rypheid.—Sien Die Wagtoring, 1 September 1980, bladsye 17-19.
c Die enigste ander plek waar hierdie woord gebruik word, is in Handelinge 12:10, waar daar gesê word dat ’n ysterpoort outomaties, “vanself”, oopgegaan het.
Onthou jy?
• Wat is ’n paar ooreenkomste tussen die saai van letterlike saad en die verkondiging van die Koninkryksboodskap?
• Waaraan meet Jehovah die getrouheid van ’n Koninkryksverkondiger?
• Watter ooreenkoms tussen letterlike en geestelike groei het Jesus beklemtoon?
• Hoe is “die een wat saai en die een wat oes, saam bly”?
[Prente op bladsy 13]
Waarom het Jesus ’n verkondiger van God se Koninkryk vergelyk met iemand wat saad saai?
[Prente op bladsy 15]
Dié wat deur goeie grond voorgestel word, neem na gelang van hulle omstandighede heelhartig aan die Koninkrykspredikingswerk deel
[Prente op bladsy 16]
Dit is God wat dit deurentyd laat groei