124ste Gileadgraduering
Sendelinge word met sprinkane vergelyk
ELKE ses maande hou die Wagtoring-Bybelskool Gilead ’n gradueringsprogram waarna die hele Bethelgesin van die Verenigde State genooi word. Op 8 Maart 2008 het gaste uit meer as 30 lande by die Bethelgesin aangesluit vir die graduering van die 124ste klas van die Gileadskool. Al 6 411 wat teenwoordig was, was saam met die studente bly op hulle spesiale dag.
Die voorsitter van die program, Stephen Lett van die Bestuursliggaam, het die program ingelui met die toespraak “Trek uit saam met Jehovah se figuurlike sprinkane”. Openbaring 9:1-4 vergelyk die klein groepie gesalfde Christene wat in 1919 van geestelike onbedrywigheid herstel het, met ’n sprinkaanswerm wat skielik bedrywig word. Die studente is daaraan herinner dat hulle hulle, as lede van die “ander skape”, by hierdie figuurlike sprinkaanswerm geskaar het.—Joh. 10:16.
Daarna het Lon Schilling, ’n lid van die Verenigde State se Takkomitee, die toespraak “Vul mekaar aan” gehou. Dit was gebaseer op die Bybelvoorbeeld van Aquila en Priscilla (of, Prisca), ’n eerste-eeuse Christenegpaar (Rom. 16:3, 4). Die Gileadklas het uit 28 egpare bestaan. Hulle is daaraan herinner dat hulle hulle huweliksband sterk moet hou as hulle suksesvolle sendelinge wil wees. Die Bybel verwys nooit na Aquila sonder om sy vrou, Priscilla, te noem nie. Die apostel Paulus en die gemeente het hulle dus as ’n eenheid beskou. Net so moet sendelingegpare vandag saam werk, saam aanbid en saam die unieke uitdagings van ’n buitelandse toewysing die hoof bied en mekaar sodoende aanvul.—Gen. 2:18.
Die volgende toespraak, met die tema “Reageer op Jehovah se goedheid”, is deur Guy Pierce van die Bestuursliggaam gehou. Om ’n goeie mens te wees, het broer Pierce verduidelik, beteken nie net dat jy nie kwaad doen nie. ’n Goeie mens doen goeie dinge tot voordeel van ander. Jehovah God is goed in die oortreffende graad (Sag. 9:16, 17). God se goedheid en liefde kan ons beweeg om goeie dinge vir ander te doen. Broer Pierce het die studente geprys en afgesluit deur te sê: “Julle het tot dusver goed gedoen. Ons het die volle vertroue dat julle sal voortgaan om op God se goedheid te reageer deur goed te doen in enige toekomstige toewysing wat Jehovah God julle gee.”
Toe het Michael Burnett, ’n voormalige sendeling wat onlangs as ’n Gileadinstrukteur aangestel is, die toespraak gehou met die tema “Dra dit as ’n voorhoofsband tussen julle oë”. Die Israeliete moes die wonderdadige verlossing uit Egipte wat Jehovah ten behoewe van hulle verrig het, onthou asof hulle “’n voorhoofsband” tussen hulle oë dra (Eks. 13:16). Die studente is aangespoor om al die onderrigting wat hulle by die Gileadskool ontvang het, te onthou asof hulle dit as ’n voorhoofsband tussen hulle oë dra. Broer Burnett het beklemtoon hoe belangrik dit is om nederig en beskeie te wees en om Bybelbeginsels toe te pas wanneer hulle enige misverstand met medesendelinge en ander uitstryk.—Matt. 5:23, 24.
Mark Noumair, wat al lank ’n Gileadinstrukteur is, het die toespraak “Watter lied sal oor jou gesing word?” gehou. In die ou tyd was dit gebruiklik om oorlogsoorwinnings met liedere te vier. Een van hierdie liedere toon dat die stamme Ruben, Dan en Aser laks was, terwyl die stam Sebulon vir hulle selfopofferende gees geprys word (Rigt. 5:16-18). Soos die woorde van ’n lied, word die dade van elke Christen uiteindelik vir ander bekend. ’n Persoon se ywer vir God se werk en sy volgehoue lojaliteit teenoor teokratiese orde sal vir hom ’n goeie naam by Jehovah opbou en sal as ’n goeie voorbeeld vir sy broers dien. Wanneer ander in die gemeente luister na die figuurlike lied wat deur ons dade geskryf word, beweeg dit hulle om daardie goeie voorbeeld na te volg.
As deel van hulle Gileadopleiding het die 124ste klas altesaam omtrent 3 000 uur in die predikingswerk deurgebring. Tydens die programdeel “Volg die leiding van die Heilige Gees” het die studente verskeie velddiensondervindinge aan Sam Roberson van die Teokratiese Skole-afdeling vertel, en hulle het party hiervan gedemonstreer. Ná hierdie aanmoedigende ondervindinge het Patrick LaFranca van die Verenigde State se Takkomitee onderhoude gevoer met Gileadgegradueerdes wat tans in verskeie lande dien. Die studente het die praktiese raad wat hulle van hierdie broers ontvang het, waardeer.
Anthony Morris van die Bestuursliggaam het die laaste toespraak gehou met die tema “Onthou, die dinge wat gesien word, is tydelik”. Die Skrif spoor ons aan om eerder op die toekomstige seëninge van Jehovah te konsentreer as op enige tydelike verdrukking wat ons dalk nou ondervind (2 Kor. 4:16-18). Volslae armoede, onreg, verdrukking, siekte en die dood is werklikhede wat ons almal vandag sien. Sendelinge sal moontlik ook met party van hierdie tragiese omstandighede te kampe hê. Maar as ons onthou dat hierdie dinge tydelik is, sal dit ons help om geestelik gebalanseerd en hoopvol te bly.
Die program het afgesluit met al die gegradueerdes op die verhoog, terwyl hulle na broer Lett se slotopmerkings geluister het. Hy het hulle aangemoedig om nie moed te verloor nie en het gesê: “Ons sal altyd ons onkreukbaarheid kan behou as ons Jehovah aan ons kant het.” Hy het die nuwe sendelinge aangespoor om soos sprinkane te wees, terwyl hulle voortbeur in Jehovah se diens en altyd ywerig, lojaal en gehoorsaam bly.
[Venster op bladsy 30]
KLASSTATISTIEK
Aantal lande verteenwoordig: 7
Aantal lande waarheen gestuur: 16
Aantal studente: 56
Gemiddelde ouderdom: 33,8
Gemiddelde jare in waarheid: 18,2
Gemiddelde jare in voltydse diens: 13,8
[Prent op bladsy 31]
124ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Nicholson, T.; Main, H.; Senge, J.; Snape, L.; Vanegas, C.; Pou, L. (2) Santana, S.; Oh, K.; Lemaitre, C.; Williams, N.; Alexander, L. (3) Woods, B.; Stainton, L.; Huntley, E.; Alvarez, G.; Cruz, J.; Bennett, J. (4) Williamson, A.; González, N.; Zuroski, J.; Degandt, I.; May, J.; Diemmi, C.; Tavener, L. (5) Lemaitre, W.; Harris, A.; Wells, C.; Rodgers, S.; Durrant, M.; Senge, J. (6) Huntley, T.; Vanegas, A.; Pou, A.; Santana, M.; Bennett, V.; Tavener, D.; Oh, M. (7) Zuroski, M.; Rodgers, G.; Diemmi, D.; Nicholson, L.; Alvarez, C.; Snape, J. (8) Harris, M.; González, P.; Main, S.; Woods, S.; Stainton, B.; Williamson, D.; Durrant, J. (9) Cruz, P.; Degandt, B.; Williams, D.; Wells, S.; Alexander, D.; May, M.
[Prent op bladsy 32]
Die Gileadskool is by die Wagtoring-onderrigsentrum