Jehovah—‘Die Een wat ontkoming verskaf’ het in Bybeltye
“O God, tree tog gou vir my op. U is my hulp en die Een wat aan my ontkoming verskaf.”—PS. 70:5.
1, 2. (a) Wanneer wend God se aanbidders hulle tot hom vir hulp? (b) Watter vraag ontstaan, en waar kan ons die antwoord vind?
TERWYL die ouers van ’n 23-jarige getroude vrou met vakansie is, hoor hulle dat hulle dogter spoorloos verdwyn het. Gemene spel word vermoed. Hulle pak dadelik op en gaan terug huis toe, terwyl hulle Jehovah die hele tyd smeek om hulle te help. ’n Twintigjarige Getuie word gediagnoseer met ’n siekte wat hom uiteindelik heeltemal sal verlam. Hy wend hom onmiddellik tot Jehovah in gebed. ’n Enkelmoeder wat sukkel om werk te kry, het nie genoeg geld om kos vir haar en haar 12-jarige dogter te koop nie. Sy stort haar hart voor Jehovah uit. Ja, wanneer God se aanbidders swaar beproewinge of ontberinge ondervind, wend hulle hulle natuurlikerwys tot hom vir hulp. Het jy Jehovah al ooit in ’n tyd van uiterste nood aangeroep?
2 ’n Belangrike vraag ontstaan: Kan ons werklik verwag dat Jehovah ons gebede om hulp sal verhoor? Die geloofversterkende antwoord word in Psalm 70 gevind. Hierdie treffende psalm is geskryf deur Dawid, ’n lojale aanbidder van Jehovah wat in sy lewe voor talle moeilike beproewinge en uitdagings te staan gekom het. Hierdie geïnspireerde psalmis is beweeg om van Jehovah te sê: “O God, . . . u is my hulp en die Een wat aan my ontkoming verskaf” (Ps. 70:5). ’n Bespreking van Psalm 70 kan ons help om te sien waarom ook ons ons in tye van nood tot Jehovah kan wend en ten volle kan vertrou dat hy ‘die Een sal wees wat aan ons ontkoming verskaf’.
‘U is die Een wat ontkoming verskaf’
3. (a) Watter dringende versoek om hulp bevat Psalm 70? (b) Watter vertroue spreek Dawid in die 70ste Psalm uit?
3 Psalm 70 begin en eindig met ’n dringende versoek tot God om hulp. (Lees Psalm 70:1-5.) Dawid smeek Jehovah om hom ‘te hulp te snel’ en om ‘gou op te tree’ om hom te verlos. In die verse tussenin rig Dawid vyf versoeke, wat elkeen met “laat” begin en ’n begeerte, of wens, uitspreek. Die eerste drie handel oor diegene wat hom probeer doodmaak. Dawid versoek Jehovah om hierdie vyande te oorwin en hulle beskaamd te maak weens hulle goddeloosheid. Die volgende twee versoeke, in vers 4, hou verband met God se volk. Dawid bid dat diegene wat Jehovah soek, beweeg word om hulle te verbly en Hom groot te maak. In die slot van sy psalm sê Dawid vir Jehovah: “U is my hulp en die Een wat aan my ontkoming verskaf.” Let daarop dat Dawid nie sê: “Mag u . . . wees”, asof hy nog ’n versoek rig nie. Hy sê eerder: “U is” en spreek so sy vertroue uit. Dawid glo dat hy goddelike hulp sal ontvang.
4, 5. Wat leer ons omtrent Dawid in Psalm 70, en watter vertroue kan ons hê?
4 Wat openbaar Psalm 70 omtrent Dawid? Toe hy te doen gehad het met vasbeslote vyande wat daarop uit was om hom dood te maak, het Dawid besluit om sake nie in sy eie hande te neem nie. Hy het eerder vertrou dat Jehovah op sy eie tyd en manier met die teenstanders sou afreken (1 Sam. 26:10). Dawid het vas oortuig gebly dat Jehovah diegene wat hom soek, help en verlos (Heb. 11:6). Dawid het geglo dat sulke ware aanbidders alle rede het om hulle te verbly en Jehovah groot te maak deur ander van sy luisterrykheid te vertel.—Ps. 5:11; 35:27.
5 Soos Dawid kan ons die volle vertroue hê dat Jehovah ons Helper is sowel as ‘die Een wat aan ons ontkoming verskaf’. Wanneer ons dus moeilike beproewinge verduur of voel dat ons hulp dringend nodig het, kan ons tereg bid dat Jehovah ons te hulp moet snel (Ps. 71:12). Maar wat sal Jehovah moontlik doen in antwoord op ons gebede om hulp? Voordat ons bespreek hoe Jehovah ons moontlik sal help, gaan ons drie maniere ondersoek waarop hy aan Dawid ontkoming verskaf het deur hom in tye van uiterste nood te help.
Verlos van teenstanders
6. Hoe het Dawid geweet dat Jehovah aan die regverdiges ontkoming verskaf?
6 Danksy die geïnspireerde Bybelverslag wat destyds beskikbaar was, het Dawid geweet dat die regverdiges op Jehovah se hulp kan staatmaak. Toe Jehovah die Vloed oor ’n goddelose wêreld gebring het, het hy Noag en sy godvresende gesin bewaar (Gen. 7:23). Toe Jehovah vuur en swael op die goddelose inwoners van Sodom en Gomorra laat neerreën het, het hy die regverdige Lot en sy twee dogters gehelp om lewendig daarvan af te kom (Gen. 19:12-26). Toe Jehovah die trotse Farao en sy krygsmag in die Rooi See vernietig het, het Hy sy volk veilig bewaar en hulle sodoende gehelp om aan ’n verskriklike einde te ontkom (Eks. 14:19-28). Is dit dan enigsins verbasend dat Dawid Jehovah in ’n ander psalm geloof het as “’n God van reddingsdade”?—Ps. 68:20.
7-9. (a) Om watter rede het Dawid sy vertroue in God se reddingskrag gestel? (b) Aan wie het Dawid die eer vir sy verlossing gegee?
7 Dawid het ook ’n baie persoonlike rede gehad waarom hy volkome vertroue in Jehovah se reddingskrag gestel het. Dawid het eerstehands ondervind dat Jehovah se “ewige arms” diegene kan verlos wat Hom dien (Deut. 33:27, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). By meer as een geleentheid het Jehovah Dawid uit die kloue van “toornige vyande” gered (Ps. 18:17-19, 48). Beskou ’n voorbeeld.
8 Toe die vroue van Israel Dawid vir sy krygsvernuf begin prys het, is koning Saul so verteer deur jaloesie dat hy twee keer sy spies na Dawid gegooi het (1 Sam. 18:6-9). Dawid het albei kere die skerp spiespunt ontduik. Was dit bloot as gevolg van Dawid se vaardigheid en ratsheid as ’n ervare krygsman? Nee. Die Bybelverslag verduidelik: “Jehovah was met hom.” (Lees 1 Samuel 18:11-14.) Later, toe Saul se plan om Dawid deur die Filistyne te laat doodmaak, misluk het, het “Saul . . . gesien en te wete gekom dat Jehovah met Dawid was”.—1 Sam. 18:17-28.
9 Aan wie het Dawid die eer gegee vir sy verlossing? Die opskrif van Psalm 18 sê dat Dawid “die woorde van hierdie lied tot Jehovah gespreek het op die dag toe Jehovah hom . . . uit die hand van Saul verlos het”. Dawid het sy gevoelens in ’n lied uitgespreek en gesê: “Jehovah is my groot rots en my vesting en die Een wat aan my ontkoming verskaf. My God is my rots. Tot hom sal ek my toevlug neem” (Ps. 18:2). Is dit nie geloofversterkend om te weet dat Jehovah sy volk kan verlos nie?—Ps. 35:10.
Onderskraag op ’n siekbed
10, 11. Wat help ons om vas te stel wanneer Dawid moontlik die siekte gehad het wat in Psalm 41 genoem word?
10 Koning Dawid was eenkeer ernstig siek, soos gemeld word in Psalm 41. Dawid was ’n tyd lank aan ’n siekbed gekluister en was so siek dat dit vir party van sy vyande gelyk het of hy nooit “weer [sou] opstaan nie” (Verse 7, 8). Wanneer was Dawid so ernstig siek? Die omstandighede wat in hierdie psalm gemeld word, hou moontlik verband met die spanningsvolle tyd in Dawid se lewe toe sy seun Absalom die troon wederregtelik in besit probeer neem het.—2 Sam. 15:6, 13, 14.
11 Dawid sê byvoorbeeld dat ’n vertroude vriend, een wat voorheen brood saam met hom geëet het, hom verraai het (Vers 9). Dit laat ons dalk dink aan ’n voorval in Dawid se lewe. Gedurende Absalom se opstand het Dawid se vertroude raadgewer Agitofel ’n verraaier geword en hom by Absalom geskaar in die opstand teen die koning (2 Sam. 15:31; 16:15). Stel jou die swak koning op sy siekbed voor, sonder enige krag om op te staan, terwyl hy alte goed weet dat hy omring is deur samesweerders wat hom graag dood wil hê sodat hulle hulle bose planne kan uitvoer.—Vers 5.
12, 13. (a) Watter vertroue het Dawid uitgespreek? (b) Hoe het God Dawid moontlik versterk?
12 Dawid se vertroue in ‘die Een wat ontkoming verskaf’, het nie gewankel nie. Aangaande ’n opregte aanbidder wat siek is, het Dawid gesê: “In die dag van rampspoed sal Jehovah aan hom ontkoming verskaf. Jehovah sal hom op ’n siekbed onderskraag; sy hele bed sal u beslis gedurende sy siekte verander” (Ps. 41:1, 3). Let weer eens op Dawid se vertroue, soos blyk uit die woorde “Jehovah sal”. Dawid was seker dat Jehovah aan hom ontkoming sou verskaf. Hoe?
13 Dawid het nie verwag dat Jehovah ’n wonderwerk moet verrig en die siekte moet verwyder nie. Dawid was eerder seker dat Jehovah hom sou “onderskraag”—dit wil sê hom sou ondersteun en versterk terwyl hy op sy siekbed lê. Dawid het beslis hierdie hulp nodig gehad. Benewens die siekte wat hom verswak het, was hy omring deur vyande wat slegte dinge van hom gesê het (Verse 5, 6). Jehovah het Dawid heel moontlik versterk deur vertroostende gedagtes by hom te laat opkom. Interessant genoeg, Dawid het gesê: “Weens my onkreukbaarheid het u my ondersteun” (Vers 12). Dit het Dawid moontlik ook versterk wanneer hy nagedink het oor die feit dat Jehovah hom as ’n man van onkreukbaarheid beskou ondanks sy swak toestand en die slegte dinge wat sy vyande gesê het. Dawid het uiteindelik van sy siekte herstel. Is dit nie gerusstellend om te weet dat Jehovah diegene wat siek is, kan onderskraag nie?—2 Kor. 1:3.
Voorsien van lewensmiddele
14, 15. Wanneer het Dawid en sy manne lewensmiddele nodig gehad, en watter hulp het hulle ontvang?
14 Toe Dawid koning van Israel geword het, kon hy die beste voedsel en drank geniet en selfs baie ander nooi om aan sy tafel te eet (2 Sam. 9:10). Maar Dawid het ook geweet hoe dit voel om min te hê. Toe sy seun Absalom ’n opstand georganiseer en die troon wederregtelik in besit probeer neem het, het Dawid Jerusalem saam met ’n aantal lojale ondersteuners verlaat. Hulle het gevlug na die land Gilead, oos van die Jordaanrivier (2 Sam. 17:22, 24). Omdat Dawid en sy manne as vlugtelinge moes lewe, het hulle kort voor lank kos en water sowel as rus dringend nodig gehad. Maar waar sou hulle lewensmiddele in hierdie betreklik afgeleë gebied vind?
15 Dawid en sy manne het uiteindelik by die stad Mahanaim aangekom. Daar het hulle drie moedige manne teëgekom—Sobi, Magir en Barsillai. Hulle was bereid om hulle lewe te waag om God se aangestelde koning te help, want as Absalom daarin sou slaag om die koningskap oor te neem, sou hy ongetwyfeld enigiemand wat Dawid ondersteun het, swaar straf. Toe hierdie drie lojale onderdane sien in watter verknorsing Dawid en sy manne is, het hulle hulle van broodnodige voorraad voorsien, onder andere beddens, koring, gars, geroosterde graan, boerbone, lensies, heuning, botter en skape. (Lees 2 Samuel 17:27-29.) Die buitengewone lojaliteit en gasvryheid van hierdie drie manne het sekerlik Dawid se hart geraak. Hoe sou Dawid ooit kon vergeet wat hulle vir hom gedoen het?
16. Wie het in werklikheid toegesien dat Dawid en sy manne van lewensmiddele voorsien word?
16 Maar wie het in werklikheid toegesien dat Dawid en sy manne van lewensmiddele voorsien word? Dawid was oortuig dat Jehovah vir sy volk sorg. Jehovah kan sekerlik van sy ander knegte beweeg om hulp te verleen aan ’n medegelowige wat dit nodig het. Wanneer Dawid nagedink het oor wat in die land Gilead gebeur het, het hy hierdie drie manne se goedhartigheid ongetwyfeld as ’n blyk van Jehovah se liefdevolle sorg beskou. Teen die einde van sy lewe het Dawid geskryf: “Ek was eens ’n jong man, ook het ek oud geword, en tog het ek geen regverdige [hy inkluis] heeltemal verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie” (Ps. 37:25). Is dit nie vertroostend om te weet dat Jehovah se hand nooit te kort is nie?—Spr. 10:3.
‘Jehovah weet hoe om mense te verlos’
17. Wat het Jehovah keer op keer bewys?
17 Dawid was net een van baie aanbidders aan wie Jehovah in Bybeltye ontkoming verskaf het. Sedert Dawid se tyd het God keer op keer bewys hoe waar die apostel Petrus se woorde is: “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos” (2 Pet. 2:9). Beskou nog twee voorbeelde.
18. Hoe het Jehovah in Hiskia se dag verlossing voorsien?
18 Toe die magtige Assiriese leër in die agtste eeu v.G.J. Juda binnegeval en Jerusalem bedreig het, het koning Hiskia gebid: “O Jehovah ons God, red ons . . . sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat u, o Jehovah, alleen God is” (Jes. 37:20). Hiskia was hoofsaaklik besorg oor God se naam en reputasie. Jehovah het daardie vurige gebed verhoor. In net een nag het ’n enkele engel 185 000 Assiriërs doodgemaak, wat verlossing aan Jehovah se getroue knegte voorsien het.—Jes. 37:32, 36.
19. Deur op watter waarskuwing ag te slaan, het eerste-eeuse Christene rampspoed vrygespring?
19 Net ’n paar dae voor sy dood het Jesus ’n profetiese waarskuwing tot voordeel van sy dissipels in Judea gegee. (Lees Lukas 21:20-22.) Dekades het verloop, maar in 66 G.J. het ’n Joodse opstand daartoe gelei dat Romeinse leërs teen Jerusalem opgetrek het. Die krygsmag onder Cestius Gallus het daarin geslaag om ’n gedeelte van die tempelmuur te ondergrawe; toe het hulle skielik teruggetrek. Getroue Christene het besef dat dit ’n geleentheid is om te ontkom aan die vernietiging wat Jesus voorspel het en het na die berge gevlug. Die Romeinse leërs het in 70 G.J. teruggekeer. Hierdie keer het hulle nie teruggetrek nie, en Jerusalem is heeltemal vernietig. Die Christene wat op Jesus se waarskuwing ag geslaan het, het hierdie verskriklike rampspoed vrygespring.—Luk. 19:41-44.
20. Waarom kan ons op Jehovah vertrou as ‘die Een wat aan ons ontkoming verskaf’?
20 Dit is geloofversterkend om na te dink oor die bewyse dat Jehovah sy volk help. Wat hy in die verlede gedoen het, bied ons ’n grondslag vir vertroue. Ongeag voor watter uitdagings ons nou te staan kom of waarvoor ons nog in die toekoms te staan sal kom, ook ons kan ons volle vertroue in Jehovah stel as ‘die Een wat aan ons ontkoming verskaf’. Maar hoe sal Jehovah moontlik aan ons ontkoming verskaf? En wat van die persone wat aan die begin van die artikel gemeld is? Hoe het sake vir hulle verloop? Kom ons kyk in die volgende artikel.
Onthou jy?
• Watter vertroue kan ons volgens Psalm 70 hê?
• Hoe is Dawid gedurende ’n siekte onderskraag?
• Watter voorbeelde toon dat Jehovah sy volk van teenstanders kan verlos?
[Prent op bladsy 6]
Jehovah het Hiskia se gebed verhoor