Dankbaar ten spyte van tragedies—Hoe die Bybel my gehelp het om dit te verduur
Soos vertel deur Enrique Caravaca Acosta
Dit was 15 April 1971. Ek was op pad na ons familieplaas om vir my familie te gaan kuier. Ek was lank laas by die huis en ek het baie daarna uitgesien om almal weer te sien. Ek het gewonder of hulle almal by die huis sou wees en wie ek eerste sou sien. Met my aankoms was ek met afgryse vervul toe ek afkom op vier mense wat vermoor is—insluitende my ma!
EK WAS sprakeloos van skok. Wat het gebeur? Wat moes ek doen? Daar was niemand in die omtrek nie, en ek het verward en hulpeloos gevoel. Voor ek verder gaan, laat ek jou ’n bietjie van my agtergrond vertel. Jy sal dan beter verstaan hoe ek omtrent hierdie en ander tragedies in my lewe gevoel het.
Ons het die waarheid gevind
Ek is in Quirimán, naby Nicoya, Costa Rica, gebore. In 1953, toe ek 37 jaar oud was, het ek by my ouers op ons familieplaas gewoon. Hoewel ons as Katolieke grootgemaak is, was ons ongelukkig oor sekere leerstellings en het ons baie onbeantwoorde vrae gehad.
Een oggend het ’n man met die naam Anatolio Alfaro na ons huis toe gekom en ons aangemoedig om die Bybel te bestudeer. Hy het vir ons baie tekste gelees en talle Bybelleerstellings met ons bespreek. Ek, my pa, my ma, een van my broers, my suster en ’n vriendin van haar wat by ons gebly het, het almal na hom gesit en luister. Die bespreking het die hele dag geduur en tot laat in die nag aangehou. Ons het baie vrae gehad.
Anatolio het by ons oornag en die volgende dag saam met ons deurgebring. Ons was verheug oor wat ons gehoor het en selfs meer opgewonde toe ons vrae direk uit die Bybel beantwoord is. Daardie bespreking het ’n groot uitwerking op ons gehad. Ons het nagedink oor wat ons geleer het, en ons het geweet dat ons die waarheid gevind het. Anatolio het ’n paar Bybeltydskrifte en -boeke by ons gelos. Saans het ons hierdie publikasies saam as ’n gesin gelees en bestudeer. Dit was nogal ’n uitdaging aangesien ons geen elektrisiteit gehad het nie. Voordat ons gaan sit het om te studeer, het elkeen van ons ons voete en bene met ’n groot aartappelsak toegegooi om ons teen die muskiete te beskerm.
Ses maande later is vyf lede van ons gesin, insluitende ek en my ouers, gedoop. Met groot opgewondenheid het ons begin om van huis tot huis te gaan om ander te vertel van wat ons geleer het. Ons het sowat twee uur te voet en soms te perd gereis na ’n dorp met die naam Carrillo om daar saam met ’n groep van Jehovah se Getuies te vergader. Anatolio het steeds na ons huis toe gekom om die Bybel met ons te studeer. Toe is ’n vergadering by ons huis gereël, wat deur ongeveer agt mense bygewoon is. Almal van hulle is uiteindelik gedoop. Daardie groep het vinnig gegroei tot ’n klein gemeente van ongeveer 20.
Ek doen God se werk voltyds
Later het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Costa Rica diegene wat kon, genooi om die evangelisasiewerk voltyds te doen. In 1957 het ek hierdie uitnodiging aanvaar en as ’n voltydse bedienaar begin dien. Die werk was opwindend, om die minste te sê. Ek het dikwels ure lank alleen gestap om mense in plattelandse gebiede te bereik. Ek was nie altyd welkom nie. Ek kan ten minste drie geleenthede onthou waar mans met kapmesse my gedreig het en by my wou weet wie ek is en wat ek daar maak.
In die 1950’s was die meeste van die paaie net voetpaadjies deur die wildernis, en ons het gesukkel om by mense uit te kom. Ons kon sekere gebiede net te perd bereik. Ons moes riviere oorsteek en party nagte onder die sterre slaap. Groot swerms muskiete het die lewe baie onaangenaam gemaak. Ons moes ook op die uitkyk wees vir slange en krokodille. Deur dit alles heen het ek dit terdeë geniet om mense van Jehovah God te leer. Wanneer ek by die huis gekom het, het ek gelukkig en tevrede gevoel omdat ek ander van Bybelwaarhede kon vertel. Terwyl ek my werk gedoen het en elke dag die Bybel bestudeer het, het my liefde vir Jehovah God bly groei, en ek het baie nader aan hom gevoel.
Mettertyd het ek nog voorregte ontvang. Ek het meer as tien jaar lank as ’n reisende opsiener gedien en gemeentes in ’n sekere gebied besoek en versterk, elke week ’n ander een. Hoewel ek hierdie diensvoorreg weens gesondheidsprobleme moes prysgee, het ek steeds die bediening geniet en God voltyds gedien.
’n Skielike tragedie
In 1971, terwyl ek in Nicoya was, het ek my familie gaan besoek. Toe ek by die huis instap, het ek my 80-jarige ma op die vloer sien lê. Sy het skiet- en steekwonde gehad. Toe ek by haar gekniel het om haar vas te hou, het sy nog asemgehaal. Oomblikke later het sy in my arms gesterf. Ek het rondgekyk en daar op die kombuisvloer het die kok gelê, wat agt maande swanger was. Sy was ook dood. Asof dit nie genoeg was nie, het ek ’n lid van die plaaslike gemeente dood in die gang gevind, en die jong seun van die kok het dood in die badkamer gelê. Almal was wreed gesteek en geskiet. Wie kon so ’n grusame ding gedoen het, en waarom?
Toe ek uitgaan, het ek my pa gekry. Hy was in die kop geskiet, maar het nog gelewe! Ek is haastig na my broer se huis toe, wat ongeveer 15 minute daarvandaan was en het gehoor dat ’n ander vrou en haar seun ook doodgemaak is. Wat ’n skok was dit tog om uit te vind dat die moordenaar my suster se 17-jarige seun was, wat nie een van Jehovah se Getuies was nie en geestelik versteurd was! Hy het uit die gebied gevlug. Dit het gelei tot die grootste mensejag in die geskiedenis van Costa Rica.
Die storie was landwyd in die nuus. Ná sewe dae het die polisie die moordenaar gevind, wat gewapen was met ’n groot mes en ’n .22-kaliber-pistool wat iemand aan hom verkoop het wetende dat hy geestelik en emosioneel versteurd is. Hy is tydens die inhegtenisname doodgeskiet.
Gedurende die mensejag het baie my aangeraai om uit die gebied te vlug uit vrees dat my suster se seun sou terugkeer om my leed aan te doen. Ek het daaroor gebid, want ek het gevoel dat ek by die oorblywende lede van my familie en diegene in die gemeente moes wees. Ek het dus gebly.
Een tragedie ná die ander
My pa het ongelukkig nog net een jaar gelewe. Die volgende jaar is my suster, ’n getroue kneg van Jehovah God, in ’n afsonderlike, onverwante voorval vermoor. Weer eens was my hele familie geskok deur die verlies van nog ’n familielid. Die gevoelens van verlies en hartseer wat ons en ons vriende ervaar het, kan nie in woorde beskryf word nie. Deur die hele beproewing heen het ek swaar op Jehovah gesteun en hom voortdurend vir krag gesmeek.
In 1985 het ek ’n driedaagse opleidingskursus vir Christen- ouer manne in die hoofstad, San José, bygewoon. Aan die einde van die kursus het ek geestelik versterk gevoel. Ek wou vroeg Maandagoggend die bus haal huis toe. Op pad na die bushalte is ek deur boewe aangeval wat my gewurg en beroof het. Alles het so vinnig gebeur dat ek nie hulle gesigte kon sien nie. Sedertdien kan ek nie meer kommunikeer soos die mense in Costa Rica gewoonlik kommunikeer nie. Hier in die Guanacaste-provinsie skree of roep mans hard uit wanneer hulle mekaar ontmoet of groet of wanneer hulle bloot hulle teenwoordigheid bekend wil maak. Ek kon goed skree, maar ná die aanval kon ek nie meer nie.
In 1979 is ek met Celia, ’n mede-Getuie van ’n naburige gemeente, getroud. Celia was lief vir die Bybel. Ons het elke dag die Bybel saam gelees en bestudeer. Ek het haar ongelukkig in Julie 2001 weens kanker aan die dood afgestaan. Soms voel ek eensaam, maar die opstandingshoop versterk my.—Johannes 5:28, 29.
Vreugdevol ondanks beproewinge
Hoewel ek dalk meer tragiese gebeure in my lewe ervaar het as baie ander mense, beskou ek hierdie beproewinge as geleenthede om my geloof en lojaliteit aan Jehovah te bewys (Jakobus 1:13). Om my te help om ’n gebalanseerde beskouing van my ervarings te behou, herinner ek myself voortdurend daaraan dat “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” ons almal tref (Prediker 9:11). Ek hou ook in gedagte dat ons in “kritieke tye [lewe] wat moeilik is om deur te kom”, want mense is wreedaardig, gewelddadig en sonder selfbeheersing (2 Timoteus 3:1-5). Ek dink ook aan die voorbeeld van Job. Ten spyte van al sy lyding—die verlies van sy gesin, gesondheid en lewensonderhoud—het Job standvastig gebly en gesê: “Laat die naam van Jehovah voortdurend geloof word.” En Jehovah het Job ryklik vir sy onkreukbaarheid beloon (Job 1:13-22; 42:12-15). Al hierdie gedagtes uit die Bybel help my om vreugdevol te bly ondanks my talle beproewinge.
Jehovah het my nog altyd gehelp om hom eerste in my lewe te stel. Daaglikse Bybellees is ’n bron van groot vertroosting en het my die krag gegee om te volhard. Deur tot Jehovah te bid, kan ek “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, geniet (Filippense 4:6, 7). Dit bring vir my gemoedsrus mee. Om Christelike vergaderinge by te woon en daaraan deel te neem, is ook vir my geloofversterkend.—Hebreërs 10:24, 25.
Al is ek gevorderd in jare, is ek dankbaar teenoor Jehovah dat ek nog die krag het om saam met mede-Christene te werk, die Bybel met ander te studeer en aan die bediening deel te neem. Om ander op hierdie maniere te dien, gee my die krag om nie moed te verloor nie. Ek is uit die diepte van my hart dankbaar teenoor Jehovah, ondanks al die tragedies wat ek in my lewe ervaar het.a
[Voetnoot]
a Twee jaar nadat Enrique Caravaca Acosta hierdie lewensverhaal ingestuur het, is hy op die ouderdom van 90 oorlede.
[Lokteks op bladsy 20]
Daaglikse Bybellees is ’n bron van groot vertroosting en het my die krag gegee om te volhard
[Prent op bladsy 19]
Een van my eerste pogings om ’n Bybeltoespraak te hou
[Prent op bladsy 20]
In die veldbediening in my jonger jare