Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 9/1 bl. 10-11
  • Gelukkig en hoopvol ondanks armoede

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gelukkig en hoopvol ondanks armoede
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer kan ek weer as ’n hulppionier dien?
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2017
  • Wees tevrede en vrygewig
    Ontwaak! — 2018
  • “Ek het nog nooit sulke liefde ervaar nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Soeke na die waarheid beloon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 9/1 bl. 10-11

’n Brief uit Bolivia

Gelukkig en hoopvol ondanks armoede

AS ’N sendeling in ’n ontwikkelende land kon ek nog nooit daaraan gewoond raak om armoede en wanhoop te sien nie. Ek wil onmiddellike verligting van lyding vir almal hê. Maar ek weet dat slegs God se Koninkryk hierdie probleme sal oplos. Tog het ek keer op keer gesien dat mense wat God se Woord volg, geluk vind ondanks hulle haglike omstandighede. Sabina is een van hulle.

Jare gelede het Sabina, met haar twee babadogters op die arm, toegekyk terwyl haar man op ’n ou bus klim om in ’n ander land na ’n werk met ’n hoër salaris te gaan soek. Sy het op sy terugkeer gewag, maar die maande het jare geword, en hy het nooit huis toe gekom nie. Sedert hy weg is, het Sabina ’n daaglikse stryd gevoer om in haar en haar dogters, Milena en Ghelian, se behoeftes te voorsien.

Ek het Sabina die eerste keer ontmoet terwyl sy een middag geduldig omgesien het na veeleisende klante by haar suster se winkel. Ek kon in Sabina se moeë oë sien dat sy al die hele dag lank hard gewerk het. Ek het aangebied om die Bybel met haar en haar dogters te studeer. “Ek sou graag wou”, het sy gesê, “maar ek is net te besig. Maar ek wil graag hê dat jy met my dogters studeer.” Ek het ingestem. Namate die dogters se studie gevorder het, het ek Sabina leer ken en haar benarde situasie begin verstaan.

Sabina se dag begin soggens om vieruur. Terwyl haar dogters in hulle eenvertrekwoning slaap, steek Sabina die vuur aan onder ’n groot, ou aluminiumpot. Sy kook die vleisvulsel vir die empanadas, of pasteie, wat sy verkoop om vir haar gesin te kan sorg. Die vorige aand het Sabina die deeg vir die vleispasteie voorberei.

Sabina gebruik ’n geleende waentjie waarop sy al die nodige toerusting vir die dag versigtig laai—’n sonskerm, ’n gasstofie, ’n gassilinder, ’n tafel, stoeltjies, potte en olie sowel as die vleis en die deeg en ’n hele paar liter tuisgemaakte vrugtesap.

Teen sesuur is Sabina en haar twee dogters gereed om te gaan. Hulle maak die deur agter hulle toe en sit ’n slot daaraan. Hulle gesigte is uitdrukkingloos; niemand praat of lag nie. Al hulle energie word toegespits op die taak waarmee hulle besig is. Ek het baie oggende deur die venster van ons sendinghuis soortgelyke tonele gesien. Ja, Sabina is net een van baie vroue wat hulle huise voor sonop verlaat om eet- en drinkgoed op die strate van Bolivia te gaan verkoop.

Teen halfsewe, wanneer die son oor die berg begin loer, kom Sabina en haar dogters by hulle straathoek aan. Sonder om ’n woord te sê, pak hulle die waentjie af en stel hulle hulle kombuis op wiele op. Die eerste empanada land sissend in die kokende olie. ’n Heerlike geur begin die koel oggendlug vul en trek gou-gou honger klante.

“Hoeveel?” vra Sabina die eerste klant. Sonder om op te kyk, lig ’n slaperige man twee vingers, en sy gee hom twee goudbruin, vuurwarm empanadas. Dan ontvang sy die karige betaling. Hierdie transaksie sal honderde kere deur die loop van die dag herhaal word. Wanneer hulle die laaste empanada verkoop, pak hulle op en gaan hulle huis toe. Al pyn Sabina se bene van die oggend se werk, gaan sy na haar tweede werk by haar suster se winkel.

Toe ek by die winkel aankom vir haar dogters se eerste Bybelstudie, was twee klein bankies reeds in ’n hoek reggesit. Van die begin af het Milena en Ghelian, toe 9 en 7 jaar oud, opgewonde uitgesien na elke les en het hulle goed voorberei. Geleidelik het hierdie skaam dogtertjies vryelik met my begin praat en my toegelaat om met hulle maats te maak. Dit het Sabina se hart bly gemaak. Kort voor lank het sy besluit dat sy, ondanks haar moordende rooster, ook die Bybel saam met my wil studeer.

Namate Sabina se kennis vermeerder het, het haar liefde vir Jehovah God ook toegeneem. Sy het iets begin ervaar wat vreemd was vir haar—geluk! Die eens moeë en sombere straatverkoper het nou anders gelyk. Sy het regop geloop, kop omhoog, en haar oë het geblink. “Sabina hou nie op glimlag nie”, het haar suster gesê. “Sy het dit nooit voorheen gedoen nie.” Ander het ook ’n groot verandering in Sabina en haar dogters gesien. Die geestelike leemte wat sy so lank ervaar het, is uiteindelik gevul.

Sabina het haar studie geniet, maar haar veeleisende roetine het haar verhinder om Christelike vergaderinge by te woon. Uiteindelik het sy my uitnodiging aanvaar om na die Koninkryksaal te gaan. Daarna het sy nooit opgehou gaan nie. Sabina het ware vriende in die gemeente gevind. Sy het ook gevind dat Jehovah werklik voorsien vir diegene wat hom liefhet en wat opofferings maak om hom te dien.—Lukas 12:22-24; 1 Timoteus 6:8.

Sabina het waardeer wat sy geleer het en wou ander graag daarvan vertel. Maar sy het gesê: “Ek raak skoon aan die bewe wanneer ek daaraan dink om in die openbaar te preek.” Sy het gedink: ‘Hoe sal ek, ’n skaam vrou met min skoolopleiding, ooit iemand anders kan leer?’ Nietemin het die goedhartigheid wat aan haar betoon is en die wonderlike verbetering wat sy in haar eie lewe ondervind het, haar beweeg om hierdie belangrike stap te doen. Sy het ook besef dat haar dogters na haar opsien as ’n voorbeeld. Daarom het sy ander van die goeie nuus begin vertel. Haar dogters het geesdriftig by haar aangesluit.

Vandag is Sabina nie net nog ’n arm vrou wat dag ná dag vreugdeloos swoeg nie. Haar ekonomiese status het nie veel verander nie. Wat wel verander het, is haar uitkyk op die lewe. Nou, as ’n gedoopte Christen, vertel sy ander van die goeie nuus van God se Koninkryk—die enigste permanente oplossing vir die wêreld se armoede en wanhoop.—Matteus 6:10.

Dit is vyfuur die oggend, en Sabina is weer eens gereed om haar eenvertrekwoning te verlaat. Maar vanoggend verkoop sy nie empanadas nie. Sy gaan ’n groep mede-Christene ontmoet om straatgetuieniswerk te doen. Dit verskaf haar verdere geluk in die lewe om elke week ’n bietjie van haar tyd af te staan om ander te help. Sy sluit die deur agter haar en stap in die straat af met ’n breë glimlag op haar gesig. In plaas daarvan om ’n waentjie te stoot, dra sy ’n handsak. Daarin is haar Bybel en die Bybellektuur wat sy gaan gebruik om aan ander hoop te gee. Sabina glimlag vol vertroue en sê: “Ek het nooit gedroom dat ek met ander oor die Bybel sal kan praat nie.” Sy voeg by: “Ek geniet dit baie!”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel