’n Brief uit die Dominikaanse Republiek
“Ek het nog nooit sulke liefde ervaar nie”
HIERDIE week het Niurka vir die eerste keer ’n aanbieding uit die Bybel in ons gemeente gedoen. Sy het daarvoor voorberei deur wat sy wou sê, in braille uit te skryf en dit daarna te memoriseer. Ek was saam met haar op die verhoog en het die rol gespeel van ’n persoon wat graag Bybelwaarheid wou leer. Ek het ’n mikrofoon gebruik, sodat sy my stem oor haar oorfone kon hoor. Toe ons klaar was, het die gehoor hulle waardering getoon deur so hard hande te klap dat sy dit eintlik self kon hoor. Haar glimlag het getoon hoe bly en tevrede sy was. Ek was ook gelukkig. Hoe lonend is dit tog om as ’n sendeling te dien!
Ek onthou nog die eerste keer toe ek Niurka ontmoet het. Dit was twee jaar gelede. Ná ’n halfuur se ry oor stowwerige grondpaaie het ek haar vir die eerste keer gesien. Sy het op die stoep gesit van ’n beskeie plattelandse huisie—’n hout-en-assteen-geboutjie met ’n geroeste sinkdak. ’n Mens kon bokke, hase en honde op die werf sien en ruik. Niurka het kop onderstebo gesit, ’n toonbeeld van eensaamheid en terneergedruktheid. Sy was 34 jaar oud, maar het baie ouer gelyk.
Ek het liggies aan haar skouer geraak, en sy het opgekyk met oë wat 11 jaar vroeër blind geword het. Ek het my en my predikingsmaat voorgestel deur hard in haar oor te praat. Later het ons uitgevind dat Niurka ’n slagoffer is van Marfan-sindroom, ’n oorerflike siekte wat haar baie lyding veroorsaak het. Niurka het ook ernstige suikersiekte wat vereis dat sy haar wisselende bloedsuikervlakke gedurig moet dophou.
Toe ek ’n Bybel in haar hande sit, het sy dit herken en gesê dat sy dit geniet het om die Skrif te lees voordat sy blind geword het. Maar hoe sou ek hierdie eensame, nederige, tingerige mensie die verkwikkende waarhede in God se Woord kon leer? Aangesien sy die alfabet geken het, het ek begin deur plastiekletters in haar hande te sit. Kort voor lank kon sy hulle identifiseer. Toe het sy, deur aan my hande te voel terwyl ek gebare maak, geleer om elke letter te assosieer met die ooreenstemmende letter in Amerikaanse Gebaretaal. Sy het geleidelik ander gebare geleer. Aangesien ek self ook maar net begin het om die taal te leer, het elke studiesessie ure se voorbereiding geverg. Maar ek en Niurka was albei baie geesdriftig en het dus vinnig vordering gemaak in ons vermoë om gebaretaal te gebruik.
Niurka se vooruitgang het ’n groot hupstoot gekry toe ’n liefdadigheidsorganisasie gehoortoestelle aan haar geskenk het. Hoewel die toestelle eenvoudig was, het dit haar baie gehelp. Nadat sy meer as ’n dekade lank in duisternis en byna algehele stilte geleef het, het sy haar in haar eie wêreld teruggetrek. Maar Jehovah se gees het haar verstand en haar hart laat ontwaak en met kennis, hoop en liefde gevul. Kort voor lank het Niurka met behulp van ’n stok in haar buurt rondgeloop en Bybelwaarhede aan ander verkondig.
Niurka hou ’n Bybelstudie met haar tante en twee niggies. Sy berei goed voor en memoriseer elke les vooraf. Haar studente lees ’n paragraaf, en Niurka lees die vraag uit haar brailleboek. Niurka se predikingsmaat herhaal die antwoorde vir haar deur dit in haar oor te sê of in haar hande in gebare weer te gee.
Die hele gemeente help Niurka en moedig haar aan. Etlike van haar Christenbroers help haar om die vergaderinge en byeenkomste by te woon. Ander vergesel haar in die bediening. Niurka het onlangs vir my gesê: “Ek het nog nooit sulke liefde ervaar nie.” Sy hoop om by ons volgende streekbyeenkoms gedoop te word.
Wanneer ons in die pad afdraai waar Niurka woon, sien ons hoe sy in die son op die stoep sit, met haar kop omhoog en ’n glimlag op haar gesig. Ek vra haar waarom sy glimlag. Sy sê: “Ek het aan die toekoms gedink wanneer die aarde ’n paradys sal wees. En ek het my voorgestel dat ek alreeds daar is.”
[Prent op bladsy 25]
Niurka saam met party lede van ons gemeente voor die Koninkryksaal
[Prent op bladsy 25]
Niurka vertel ander van wat sy geleer het