Wat ons by Jesus leer
Oor ware aanbidding
Keur God alle aanbidding goed?
▪ Jesus se hart het uitgegaan na mense wat deur valse godsdiens bedrieg is. Hy het gewaarsku teen “valse profete wat in skaapsklere . . . kom, maar van binne roofsugtige wolwe is” (Matteus 7:15). Het jy opgelet dat party mense godsdiens gebruik om bose oogmerke te bereik?
Jesus het in gebed tot God gesê: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Daarom keur God aanbidding af wat strydig is met die waarheid van die Bybel. Jesus het dus hierdie woorde van God op party godsdienshuigelaars toegepas: “Tevergeefs bly hulle my aanbid, want hulle leer gebooie van mense as leerstellings.”—Matteus 15:9.
Is daar ’n ware godsdiens?
▪ Toe Jesus in Samaria ’n vrou ontmoet het wat deur valse godsdiens bedrieg is, het hy vir haar gesê: “Julle aanbid wat julle nie ken nie . . . Die ware aanbidders [sal] die Vader met gees en waarheid . . . aanbid, want die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid” (Johannes 4:22, 23). Dit is duidelik dat ware aanbidding wel gevind kan word.
Jesus het gesê: “Ek [doen] niks op eie inisiatief . . . nie; maar net soos die Vader my geleer het, spreek ek hierdie dinge.” Jesus het dus geweet dat die godsdiens wat hy mense geleer het, die enigste ware godsdiens is (Johannes 8:28). Daarom het hy gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Aangesien ware aanbidders die Vader in eenheid nader, moet hulle in een ware godsdiens verenig wees.
Hoe kan jy ware aanbidders uitken?
▪ ’n Christen is iemand wat Jesus Christus volg. Beskou vier maniere waarop Jesus se volgelinge duidelik geïdentifiseer word omdat hulle sy voorbeeld navolg.
1. Jesus Christus het in gebed tot Jehovah gesê: “Ek het u naam . . . bekend gemaak” (Johannes 17:26). Ware Christene doen dit nog steeds.
2. Jesus het oor Jehovah se Koninkryk gepreek en het sy dissipels van huis tot huis gestuur om dieselfde te doen. Hy het gesê: “In watter stad of dorpie julle ook al ingaan, soek wie daarin verdienstelik is.” Later het hy vir sy volgelinge gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies” (Matteus 10:7, 11; 28:19). Jy kan ware Christene vandag maklik uitken omdat hulle nog steeds dieselfde werk doen.
3. Jesus het geweier om kant te kies in die politiek. Daarom het hy van sy volgelinge gesê: “Hulle [is] geen deel van die wêreld . . . nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:14). Ware aanbidders behoort bekend te wees vir hulle politieke neutraliteit.
4. Jesus was selfopofferend in sy liefde vir ander. Hy het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Ware Christene gee vir mekaar om en neem nie deel aan oorloë nie.
Hoe kan ware aanbidding jou tot voordeel strek?
▪ Om ware aanbidding te beoefen, moet jy Jehovah eers goed leer ken. Kennis van God sal jou in staat stel om die beste lewensweg te volg en sal jou hart met liefde vir God vul. Jehovah het eindelose lewe belowe aan dié wat hom liefhet. Daarom het Jesus gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God.”—Johannes 17:3.
Vir meer inligting, sien hoofstuk 15 van hierdie boek Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 16]
“Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle toe kom, maar van binne roofsugtige wolwe is.”—Matteus 7:15.