Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 2/1 bl. 24-25
  • Rebekka was bereid om Jehovah se hart bly te maak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Rebekka was bereid om Jehovah se hart bly te maak
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Soortgelyke materiaal
  • Rebekka wou Jehovah bly maak
    Leer jou kinders
  • “Ek is bereid om te gaan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • Rebekka—’n Godvrugtige vrou wat daadwerklik opgetree het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Op soek na ’n vrou vir Isak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 2/1 bl. 24-25

Leer jou kinders

Rebekka was bereid om Jehovah se hart bly te maak

REBEKKA is vandag op baie plekke ’n algemene naam. Ken jy iemand met dié naam?—a Rebekka was ’n belangrike persoon in die bekendste boek in die wêreld, die Bybel. Wat weet jy van haar?— Ons moet meer oor Rebekka wil leer omdat haar voorbeeld ons kan help om die ware God, Jehovah, te dien.

Rebekka is die tweede vrou wie se naam in die Bybel genoem word wat ’n ware aanbidder van Jehovah was. Weet jy wie die eerste vrou was?— Dit was Sara, Abraham se vrou. Op haar oudag het Sara die moeder van Isak—haar enigste kind—geword. Kom ons kyk nou hoe Rebekka bereid was om Jehovah se hart bly te maak en hoe sy Isak ontmoet het.

Meer as 60 jaar het verbygegaan vandat God vir Abraham en Sara uit Haran na die land Kanaän gestuur het. Noudat Abraham en Sara baie oud is, belowe God hulle ’n kind wat hulle Isak moet noem. Soos jy jou kan indink, is Isak se ouers baie lief vir hom. Toe Sara op die ouderdom van 127 jaar sterf, was haar seun, Isak, ’n volwasse man, en hy was baie hartseer oor sy moeder se dood. Abraham wil nie hê dat Isak met ’n Kanaänitiese vrou moet trou nie, want hierdie mense aanbid nie Jehovah nie. Daarom stuur hy sy kneg, heel moontlik Eliëser, om vir Isak ’n vrou te kies uit Abraham se familie in Haran, meer as 800 kilometer daarvandaan!—Genesis 12:4, 5; 15:2; 17:17, 19; 23:1.

Mettertyd kom Eliëser en ander knegte van Abraham in Haran aan met tien kamele wat voorraad en geskenke vir die bruid dra. Hulle stop by die put omdat Eliëser weet dat mense in die middag vir hulle diere en gesinne kom water haal. Eliëser bid nou dat die meisie wat hy moet kies om Isak se vrou te word, só moet antwoord as hy haar vir water vra: “Drink, en ek sal ook u kamele water gee.”

Dit is presies wat gebeur! Rebekka, ’n ‘baie aantreklike’ jong meisie, kom by die put aan. Toe Eliëser haar vra vir water om te drink, sê sy: “Ook vir u kamele sal ek water skep.” Terwyl sy ‘telkens weer na die put hardloop om water te skep’, staar Eliëser haar “met verwondering” aan. Dink net! Om tien kamele se dors te les, moet Rebekka tot 1 000 liter water vir hulle aandra!

Eliëser gee vir Rebekka pragtige geskenke en hy vind uit dat sy die dogter is van Betuel, ’n familielid van Abraham. Rebekka nooi Eliëser en sy vriende na haar ouerhuis “om te oornag”. Dan hardloop sy vooruit om hulle te vertel van die besoekers wat Abraham van Kanaän af na hulle toe gestuur het.

Toe Rebekka se broer Laban die duur geskenke sien wat vir sy suster gegee is en hy hoor wie Eliëser is, nooi hy hom in. Maar Eliëser sê: “Ek sal nie eet voordat ek oor my sake gepraat het nie.” Dan verduidelik hy hoekom Abraham hom gestuur het. Betuel, sy vrou en ook Laban is tevrede en stem in tot die huwelik.

Nadat hulle geëet het, bly Eliëser en dié wat saam met hom is, die aand daar. Die volgende oggend sê Eliëser: “Stuur my weg na my heer toe.” Maar Rebekka se ma en broer wil hê dat hulle “ten minste tien dae” daar moet bly. Toe hulle vir Rebekka vra of sy onmiddellik sal gaan, antwoord sy: “Ek is bereid om te gaan.” Sy vertrek dadelik saam met Eliëser. Toe hulle by die huis aankom, word sy Isak se vrou.—Genesis 24:1-58, 67.

Dink jy dat dit vir Rebekka maklik was om van haar familie en vriende weg te gaan na ’n plek ver van hulle af, terwyl sy geweet het dat sy hulle dalk nooit weer sou sien nie?— Nee, dit was nie. Maar Rebekka is geseën omdat sy bereid was om te doen wat Jehovah se hart bly maak. Sy het ’n voorouer van ons Verlosser, Jesus Christus, geword. Ons sal ook geseën word as ons—soos sy—bereid is om te doen wat Jehovah se hart bly maak.—Romeine 9:7-10.

a As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.

VRAE:

  • Wie was Rebekka, en waar het Eliëser haar ontmoet?

  • Waarom wou Abraham nie hê dat Isak met ’n Kanaänitiese vrou trou nie?

  • Hoe het Rebekka getoon dat sy ’n goeie vrou sal wees?

  • Wat kan ons doen om soos Rebekka te wees?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel