Rebekka—’n Godvrugtige vrou wat daadwerklik opgetree het
GESTEL jy kon persoonlik vir jou seun ’n vrou kies. Watter soort persoon sou jy kies? Watter eienskappe sou sy moes hê? Sou jy iemand soek wat fisies aantreklik, intelligent, goedhartig en hardwerkend is? Of is daar iets anders waarna jy eers sou kyk?
Abraham het voor hierdie dilemma te staan gekom. Jehovah het belowe dat sy nakomelinge deur middel van sy seun Isak geseën sou word. Waar ons die verhaal begin, is Abraham reeds oud, maar sy seun is nog nie getroud nie (Genesis 12:1-3, 7; 17:19; 22:17, 18; 24:1). Aangesien Isak seëninge sal deel met ’n vrou wat hy nog moet vind en enige kinders wat hulle moontlik sal hê, reël Abraham dat ’n geskikte vrou vir Isak gesoek word. Sy moet allereers ’n kneg van Jehovah wees. In Kanaän, waar Abraham woon, is daar glad nie so ’n vrou nie; daarom moet hy elders gaan soek. Die persoon wat uiteindelik gekies word, is Rebekka. Hoe word sy gevind? Is sy geestelikgesind? Wat kan ons uit haar voorbeeld leer?
Op soek na ’n geskikte vrou
Abraham stuur sy oudste kneg, waarskynlik Eliëser, na verafgeleë Mesopotamië om vir Isak ’n vrou te neem onder Abraham se familielede, medeaanbidders van Jehovah. Die saak is so ernstig dat Eliëser moet sweer dat hy nie vir Isak ’n Kanaänitiese vrou sal neem nie. Dit is opmerkenswaardig dat Abraham hierop aandring.—Genesis 24:2-10.
Nadat Eliëser na die stad van Abraham se familielede gereis het, kom hy met sy tien kamele by ’n put aan. Stel jou die toneel voor! Dit is aand, en Eliëser bid: “Kyk, ek staan by ’n waterfontein, en die dogters van die manne van die stad kom uit om water te skep. Dit moet gebeur dat die jong vrou vir wie ek sal sê: ‘Laat asseblief jou waterkruik sak sodat ek kan drink’, en wat inderdaad sal sê: ‘Drink, en ek sal ook u kamele water gee’, sy is die een wat u vir u kneg, vir Isak, moet bestem.”—Genesis 24:11-14.
Soos elke vrou van daardie omgewing seker sou weet, kan ’n kameel wat dors is, baie water (tot 100 liter) drink. ’n Vrou wat dus aanbied om tien kamele water te gee, moes bereid wees om hard te werk. Om dit te doen terwyl ander toekyk maar nie aanbied om te help nie, sou afdoende bewys wees van haar energie, geduld, nederigheid en goedhartigheid teenoor mens en dier.
Wat gebeur? “Nog voordat hy klaar gepraat het, kyk, toe het Rebekka uitgekom, wat vir Betuel, die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer, gebore is, en haar waterkruik was op haar skouer. En die jong vrou was baie aantreklik in voorkoms, ’n maagd, . . . en sy het na die fontein afgegaan en haar waterkruik begin vol maak en toe opgekom. Die kneg het haar dadelik tegemoetgehardloop en gesê: ‘Gee my asseblief ’n slukkie water uit jou kruik.’ En sy het gesê: ‘Drink, my heer.’ Daarop het sy gou haar kruik op haar hand laat sak en hom laat drink.”—Genesis 24:15-18.
Voldoen Rebekka aan die vereistes?
Rebekka is Abraham se kleinniggie, en buiten die feit dat sy pragtig is, is sy ook deugsaam. Sy huiwer nie om met ’n vreemdeling te praat nie, maar sy is ook nie te eie met hom nie. Sy gee vir Eliëser iets om te drink toe hy daarvoor vra. Dit is iets wat ’n mens sou verwag, aangesien dit bloot goeie maniere is. Wat van die tweede deel van die toets?
Rebekka sê: “Drink, my heer.” Maar dit is nie al nie. Rebekka gaan voort: “Ook vir u kamele sal ek water skep totdat hulle klaar gedrink het.” Sy bied aan om meer te doen as wat normaalweg verwag sou word. Sy spring aan die werk, ‘maak gou haar kruik in die drinkbak leeg en hardloop telkens weer na die put om water te skep, en sy bly skep vir al sy kamele’. Sy werk een stryk deur. ‘Die hele tyd’, sê die verslag, ‘staar die man haar met verwondering aan.’—Genesis 24:19-21.
Toe Eliëser hoor dat die meisie aan Abraham verwant is, val hy op sy knieë en dank hy Jehovah. Hy vra of daar in haar vader se huis vir hom en diegene saam met hom plek is om te oornag. Rebekka verseker hom dat daar is en hardloop huis toe met die nuus oor die besoekers.—Genesis 24:22-28.
Nadat Rebekka se broer, Laban, en haar vader, Betuel, na Eliëser se verhaal geluister het, besef hulle dat God sake gerig het. Rebekka is ongetwyfeld die vrou vir Isak. “Neem haar en gaan”, sê hulle, “en laat haar ’n vrou word vir die seun van jou heer, net soos Jehovah gesê het.” Hoe voel Rebekka hieroor? Toe sy gevra word of hulle onmiddellik kan vertrek, antwoord sy in Hebreeus met een woord, wat beteken: “Ek is bereid om te gaan.” Sy is nie verplig om hierdie huweliksaanbod te aanvaar nie. Abraham het dit duidelik gemaak dat Eliëser van sy eed vrygestel sal word ‘as die vrou nie wil gaan nie’. Maar Rebekka sien ook God se hand in die saak. Sonder om te talm, verlaat sy dus haar familie om met ’n man te trou wat sy nog nooit ontmoet het nie. Hierdie moedige besluit is ’n uitstaande blyk van geloof. Sy is inderdaad die regte keuse!—Genesis 24:29-59.
Wanneer Rebekka Isak ontmoet, versluier sy haar gesig om haar onderdanigheid te toon. Isak neem haar as sy vrou en hy kry haar lief, ongetwyfeld weens haar voortreflike eienskappe.—Genesis 24:62-67.
Tweelingseuns
Rebekka is sowat 19 jaar lank kinderloos. Uiteindelik raak sy swanger met ’n tweeling, maar dit is ’n moeilike swangerskap, want die kinders in haar moederskoot worstel met mekaar, sodat Rebekka tot God uitroep. Ons kan dieselfde doen in tye van groot benoudheid in ons lewe. Jehovah hoor Rebekka en stel haar gerus. Sy sal die moeder van twee nasies word, en “die oudste sal die jongste dien”.—Genesis 25:20-26.
Daardie woorde is moontlik nie die enigste rede waarom Rebekka haar jonger seun, Jakob, liewer het nie. Die seuns verskil van mekaar. Jakob is “onberispelik”, maar Esau het so ’n traak-my-nieagtige gesindheid teenoor geestelike dinge dat hy sy geboortereg, sy reg om God se beloftes te beërf, vir een maaltyd aan Jakob verkoop. Esau se huwelik met twee Hetitiese vrouens toon dat hy geestelike waardes geringskat—selfs minag—wat vir sy ouers ’n groot bekommernis is.—Genesis 25:27-34; 26:34, 35.
Sy sien toe dat Jakob die seën kry
Die Bybel sê nie of Isak geweet het dat Esau Jakob moet dien nie. Hoe dit ook al sy, Rebekka en Jakob het albei geweet dat die seën hom toekom. Toe Rebekka hoor dat Isak van plan is om Esau te seën wanneer hy vir sy vader ’n wildsgereg neem, tree sy daadwerklik op. Die beslistheid en ywer wat haar in haar jeug gekenmerk het, is nog steeds daar. Sy ‘beveel’ Jakob om vir haar twee boklammers te bring. Sy gaan ’n gereg voorberei waarvan haar man baie hou. Dan moet Jakob hom as Esau voordoen om die seën te verkry. Jakob maak beswaar. Sy vader sal sekerlik agterkom dat hy hom bedrieg en hom dan vervloek! Rebekka dring daarop aan. “Laat die vloek wat vir jou bedoel is, op my wees, my seun”, sê sy. Dan maak sy die gereg, vermom Jakob en stuur hom na haar man toe.—Genesis 27:1-17.
Daar word nie gesê waarom Rebekka so optree nie. Baie veroordeel haar optrede, maar die Bybel doen dit nie, en ook nie Isak toe hy uitvind dat Jakob die seën ontvang het nie. Inteendeel, Isak seën hom verder (Genesis 27:29; 28:3, 4). Rebekka weet wat Jehovah oor haar seuns voorspel het. Sy tree dus op om toe te sien dat Jakob die seën kry waarop hy geregtig is. Dit is duidelik in ooreenstemming met Jehovah se wil.—Romeine 9:6-13.
Jakob word na Haran gestuur
Rebekka dwarsboom Esau se planne deur by Jakob aan te dring om na ’n ander plek te vlug totdat sy broer se toorn bedaar het. Sy probeer Isak se goedkeuring vir haar plan kry, maar is goedhartig genoeg om nie van Esau se woede melding te maak nie. Sy spreek eerder taktvol haar vrees teenoor haar man uit dat Jakob dalk met ’n Kanaäniet sal trou. Die blote gedagte is genoeg om Isak te oortuig dat hy Jakob moet verbied om so ’n huwelik aan te gaan en hom na Rebekka se familie te stuur om ’n godvresende vrou te vind. Die verslag sê nie of Rebekka Jakob ooit weer sien nie, maar haar optrede bring groot seëninge vir die toekomstige nasie Israel mee.—Genesis 27:43–28:2.
Wat ons van Rebekka weet, wek by ons bewondering vir haar. Sy was baie mooi, maar haar ware skoonheid was haar godvrugtige toegewydheid. Dit was wat Abraham in ’n skoondogter wou hê. Haar ander goeie eienskappe het waarskynlik al Abraham se verwagtinge oortref. Die geloof en moed waarmee sy goddelike leiding gevolg het, asook haar ywer, beskeidenheid en besondere gasvryheid is eienskappe wat alle Christenvroue gerus kan navolg. Dit is ook die eienskappe waarna Jehovah soek in ’n vrou wat waarlik voorbeeldig is.