Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 4/1 bl. 8-10
  • Wat Jesus ander oor God se Koninkryk geleer het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat Jesus ander oor God se Koninkryk geleer het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Soortgelyke materiaal
  • Die waarheid oor die Koninkryk van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2020
  • Wat God se Koninkryk vir jou kan beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wat is die Koninkryk van God?
    Wat vereis God van ons?
  • Oor God se Koninkryk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 4/1 bl. 8-10

Wat Jesus ander oor God se Koninkryk geleer het

“Hy [het] van stad tot stad en van dorpie tot dorpie begin reis . . . en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak.”—LUKAS 8:1.

ONS hou daarvan om oor dinge te praat wat vir ons saak maak, dinge wat ons na aan die hart lê. Soos Jesus self gesê het: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matteus 12:34). Wanneer ons na die dinge kyk waaroor Jesus gedurende sy bediening gepraat het, kan ons tot die slotsom kom dat die Koninkryk van God hom na aan die hart gelê het.

Wat is God se Koninkryk? ’n Koninkryk is ’n regering waaroor ’n koning heers. Die Koninkryk van God is dus ’n regering wat deur God opgerig is. Jesus het baie oor God se Koninkryk gepraat en dit die tema van sy boodskap gemaak. Daar is meer as 110 verwysings na daardie Koninkryk in die vier Evangelies. Maar Jesus het nie net met woorde onderrig nie. Sy dade het ander ook baie geleer oor God se Koninkryk en wat dit gaan doen.

Wie is die Koning? Die Koning van God se Koninkryk word nie deur menslike kiesers verkies nie. Hierdie Heerser is eerder deur God self gekies. In sy onderrigting het Jesus geopenbaar dat hy die een is wat deur God gekies is om Koning te wees.

Jesus het geweet dat Bybelprofesieë voorspel het dat die beloofde Messias oor ’n ewige Koninkryk sou heers (2 Samuel 7:12-14; Daniël 7:13, 14; Matteus 26:63, 64). Onthou dat Jesus openlik gesê het dat hy die voorspelde Messias is. Jesus het sodoende erken dat hy die Koning is wat deur God aangestel is (Johannes 4:25, 26). Dit is dus gepas dat Jesus die uitdrukking “my koninkryk” etlike kere gebruik het.—Johannes 18:36.

Jesus het ook geleer dat daar ander sou wees wat saam met hom in die Koninkryk sou regeer (Lukas 22:28-30). Hy het hierdie medeheersers ’n “klein kuddetjie” genoem omdat hulle getal beperk sou wees. Hy het van hulle gesê: “Julle Vader het dit goedgevind om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32). Die laaste boek van die Bybel toon dat daar altesaam 144 000 sal wees wat die voorreg sal hê om saam met Christus te regeer.—Openbaring 5:9, 10; 14:1.

Waar is die Koninkryk gesetel? “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”, het Jesus vir die Romeinse heerser Pontius Pilatus gesê (Johannes 18:36). God se Koninkryk onder Christus sal nie deur middel van mense-instellings regeer nie. Jesus het herhaaldelik na die Koninkryk van God as “die koninkryk van die hemele” verwys (Matteus 4:17; 5:3, 10, 19, 20).a God se Koninkryk is dus ’n hemelse regering.

Jesus was seker dat hy ná sy aardse lewe na die hemel sou terugkeer. Hy het gesê dat hy daar ‘’n plek sal berei’, wat die weg sou baan vir sy medeheersers om by hom aan te sluit.—Johannes 14:2, 3. 

Wat bring die Koninkryk tot stand? Jesus het sy toehoorders geleer om tot God te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). God se wil word in die hemel gedoen. Die Koninkryk is die middel waardeur God se voorneme vir die aarde uitgevoer word. Om dit te doen, sal die Koninkryk dramatiese veranderinge op hierdie aarde teweegbring.

Wat sal die Koninkryk op die aarde doen? Jesus het mense geleer dat God se Koninkryk boosheid uit die weg sal ruim deur diegene te verwyder wat daarop uit is om dit te beoefen (Matteus 25:31-34, 46). Dit sal die einde van alle vorme van verdorwenheid en goddeloosheid beteken. Jesus het geleer dat die aarde gevul sal wees met mense wat ‘saggeaard’, regverdig, barmhartig, “suiwer van hart” en vredeliewend is.—Matteus 5:5-9.

Sal sulke getroues op ’n besoedelde planeet moet lewe? Glad nie! Jesus het belowe dat die aarde onder God se Koninkryk wonderlike veranderinge sal ondergaan. ’n Man wat saam met Jesus tereggestel sou word, het gesê: “Jesus, dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.” Jesus het geantwoord en gesê: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:42, 43). Ja, God se Koninkryk sal die hele aarde in ’n paradys omskep—soortgelyk aan die een wat in die tuin van Eden bestaan het.

Wat sal die Koninkryk nog vir die mensdom doen? Jesus het nie net belowe wat God se Koninkryk sal doen nie. Hy het ook getoon wat dit sal doen. Jesus het talle wonderdadige genesings verrig en sodoende op ’n klein skaal getoon wat hy op ’n baie groter skaal in die toekoms gedurende sy Koninkryksheerskappy sal doen. Die geïnspireerde Evangelieverslag sê van Jesus: “Hy [het] deur die hele Galilea rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die goeie nuus van die koninkryk verkondig en elke soort kwaal en elke soort gebrek onder die volk genees.”—Matteus 4:23.

Jesus het ’n wye verskeidenheid kwale genees. Hy het “die oë geopen . . . van iemand wat blind gebore is” (Johannes 9:1-7, 32, 33). Met ’n sagte aanraking het Jesus ’n man genees wat deur die weersinwekkende siekte melaatsheid geteister is (Markus 1:40-42). Toe “’n man wat doof was en ’n spraakgebrek gehad het”, na hom gebring is, het Jesus getoon dat hy “die dowes [kan laat] hoor en die stommes [kan laat] praat”.—Markus 7:31-37.

God se aangestelde Koning het selfs die dood oorwin. By drie opgetekende geleenthede het Jesus dooies lewend gemaak. Hy het die enigste seun van ’n weduwee, ’n 12-jarige meisie en sy dierbare vriend Lasarus opgewek.—Lukas 7:11-15; 8:41-55; Johannes 11:38-44.

In ’n beskrywing van die wonderlike toekoms wat op onderdane van God se Koninkryk wag, het Jesus deur middel van die apostel Johannes voorspel: “Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 1:1; 21:3, 4). Stel jou net voor—’n wêreld sonder trane van verdriet, pyn en die dood! Dan sal die gebed dat God se wil op die aarde gedoen moet word, soos dit in die hemel gedoen word, ten volle verwesenlik word.

Wanneer sal God se Koninkryk kom? Jesus het geleer dat die begin van sy koninklike heerskappy ooreen sou stem met ’n spesifieke tydperk wat hy sy “teenwoordigheid” genoem het. Jesus het ’n breedvoerige profesie gegee om aan te dui wanneer sy teenwoordigheid in koninklike mag sou begin. Hierdie tydperk sou gekenmerk word deur wêreldwye probleme, insluitende oorloë, hongersnode, aardbewings, pessiektes en ’n toename in wetteloosheid (Matteus 24:3, 7-12; Lukas 21:10, 11). Hierdie en baie ander tekens wat Jesus voorspel het, is veral sedert 1914, die jaar toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, duidelik sigbaar. Jesus heers dus nou as Koning. Die tyd sal binnekort aanbreek vir die Koninkryk om te kom en God se wil op die aarde te laat geskied.b

Wat sal die koms van God se Koninkryk vir jou persoonlik beteken? Dit hang alles af van hoe jy besluit om op Jesus se boodskap te reageer.

[Voetnote]

a Die uitdrukking “koninkryk van die hemele” verskyn sowat 30 keer in die Evangelie van Matteus.

b Vir ’n breedvoerige bespreking oor hoe ons weet dat die koms van God se Koninkryk naby is, sien hoofstuk 9, “Lewe ons in ‘die laaste dae’?”, van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel