Gebed
1 Waarom?
GEBED. Daar is min Bybelonderwerpe wat soveel belangstelling wek. Beskou sewe algemene vrae oor gebed; ondersoek dan saam met ons die antwoorde wat die Bybel voorsien. Hierdie artikels is bedoel om jou te help bid—om te begin bid of om jou gebede doeltreffender te maak.
DWARSOOR die wêreld, in elke kultuur en godsdiens, bid mense. Hulle bid op hulle eie; hulle bid in groepe. Hulle bid in kerke, in tempels, in sinagoges, in moskees en by ander plekke van aanbidding. Hulle gebruik bidmatte, bidsnoere, bidwiele, beelde, gebedeboeke of gebede wat op bordjies geskryf en opgehang word.
Gebed onderskei mense van alle ander lewensvorme op aarde. Ons het wel baie in gemeen met die diere. Soos hulle, het ons kos, lug en water nodig. Soos hulle, word ons gebore, lewe ons en sterf ons (Prediker 3:19). Maar net mense bid. Waarom?
Die eenvoudigste antwoord is moontlik dat ons ’n behoefte daaraan het. Gebed word immers algemeen beskou as ’n manier waarop mense met die geesteryk in aanraking kan kom, met iets wat hulle as heilig en ewig beskou. Die Bybel toon dat ons gemaak is met ’n begeerte na sulke dinge (Prediker 3:11). Jesus Christus het eenkeer gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.
’n “Geestelike behoefte”—hoe anders kan ’n mens al die godsdiensgeboue en -voorwerpe, die tallose ure wat aan gebed gewy word, verklaar? Party mense vertrou natuurlik op hulleself of op ander mense om in hulle geestelike behoeftes te voorsien. Maar voel jy nie dat mense eenvoudig te beperk is om werklik te help nie? Ons is so swak, verganklik, kortsigtig. Net iemand baie wyser, magtiger, blywender as ons kan ons gee wat ons nodig het. En presies wat is hierdie geestelike behoeftes wat ons beweeg om te bid?
Dink hieraan: Het jy al ooit gesmag na leiding, wysheid of antwoorde op vrae wat blykbaar buite die bereik van mensekennis is? Het jy al ooit ’n behoefte gehad aan vertroosting wanneer jy ’n verskriklike verlies gely het, of aan leiding wanneer jy met ’n moeilike besluit geworstel het, of aan vergifnis wanneer jy verpletter gevoel het deur skuldgevoelens?
Volgens die Bybel is dit alles geldige redes om te bid. Die Bybel is die betroubaarste boek oor hierdie onderwerp, en dit bevat die gebede van talle getroue mans en vroue. Hulle het om vertroosting, om leiding, om vergifnis en om antwoorde op uiters moeilike vrae gebid.—Psalm 23:3; 71:21; Daniël 9:4, 5, 19; Habakuk 1:3.
Ongeag hoe verskillend hierdie gebede was, hulle het iets in gemeen gehad. Dié wat gebid het, het almal ’n baie belangrike sleutel tot suksesvolle gebed gehad, wat in vandag se wêreld dikwels ontbreek of verontagsaam word. Hulle het geweet tot wie gebede gerig moet word.