Is dit moontlik om vergenoeg te wees?
“Vergenoegdheid maak arm mense ryk; onvergenoegdheid maak ryk mense arm.”—Benjamin Franklin.
IN OOREENSTEMMING met hierdie gesegde het baie mense uitgevind dat vergenoegdheid nie gekoop kan word nie. Geen wonder nie dat vergenoegdheid—’n innerlike gevoel van tevredenheid—ontwykend lyk in ’n wêreld wat ’n begeerte wek na meer besittings, groter prestasies of die lewenstyl van ander! Het enige van die volgende al op jou ’n uitwerking gehad?
• Adverteerders bombardeer jou met die boodskap dat nog net een kopie jou vergenoegdheid sal verskaf.
• Wedywering by die werk of skool beweeg jou om jou waarde te meet aan wat ander kan doen.
• Mense waardeer nie wat jy vir hulle doen nie.
• Vriende laat jou beny wat hulle het.
• Jou basiese vrae oor die lewe bly onbeantwoord.
Is dit in die lig van sulke uitdagings werklik moontlik om vergenoeg te wees? Die apostel Paulus het verwys na “die geheim om vergenoeg te wees”. Soms het hy ’n oorvloed gehad en by ander tye het hy min gehad. Sy vriende het hom bewonder, maar ander het hom bespot. Tog het hy gesê dat hy “geleer het om vergenoeg te wees in alle omstandighede”.—Ons kursiveer; Filippense 4:11, 12, New International Version.
Vergenoegdheid is ’n geheim vir dié wat dit nooit probeer verkry het nie, maar soos Paulus gesê het, kan dit aangeleer word. Ons nooi jou nou om te kyk na vyf geheime van vergenoegdheid wat in God se Woord, die Bybel, gevind word.