Geheim 2
Weerstaan die drang om jou met ander te vergelyk
WAT LEER DIE BYBEL? “Doen jou eie werk goed, en dan sal jy iets hê om op trots te wees. Maar moet jou nie met ander vergelyk nie.”—Galasiërs 6:4, Contemporary English Version.
WAT IS DIE UITDAGING? Ons vergelyk ons dalk graag met ander—soms met dié wat minder as ons het, dikwels met dié wat sterker, ryker of meer begaafd as ons is. Hoe dit ook al sy, dit het ’n negatiewe uitwerking. Ons neem verkeerdelik aan dat ’n persoon se waarde bepaal word deur wat hy het of wat hy kan doen. Ons wakker dalk ook afguns en ’n gees van wedywering aan.—Prediker 4:4.
WAT KAN JY DOEN? Probeer om jouself te sien soos God jou sien. Laat sy beskouing jou gevoel van eiewaarde beïnvloed. “Die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovaha sien wat die hart is” (1 Samuel 16:7). Jehovah bepaal jou waarde, nie deur jou met iemand anders te vergelyk nie, maar deur jou hart te lees—deur jou gedagtes, gevoelens en beweegredes te ondersoek (Hebreërs 4:12, 13). Jehovah weet wat jou beperkings is en spoor jou aan om dit ook in ag te neem. As jy jou waarde bepaal deur jou met ander te vergelyk, sal jy óf hoogmoedig raak óf altyd onvergenoeg wees. Wees dus beskeie en aanvaar dat jy nie in alles sal uitblink nie.—Spreuke 11:2.
Wat presies moet jy doen om waarde in God se oë te hê? Hy het die profeet Miga geïnspireer om te skryf: “Hy het jou vertel, o mens, wat goed is. En wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?” (Miga 6:8). As jy hierdie raad volg, sal God vir jou omgee (1 Petrus 5:6, 7). Kan daar ’n groter rede vir vergenoegdheid wees?
[Voetnoot]
a God se naam soos dit in die Bybel voorkom.
[Prent op bladsy 5]
Jehovah bepaal ons waarde volgens wat in ons hart is