Aanbid Jehovah, die Koning van die ewigheid
“Aan die Koning van die ewigheid . . . die eer en heerlikheid vir ewig.”—1 TIM. 1:17.
1, 2. (a) Wie is “die Koning van die ewigheid”, en waarom is hierdie titel gepas? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat omtrent Jehovah se koningskap trek ons tot hom aan?
KONING SOBHUZA II van Swaziland het byna 61 jaar lank regeer. Dit was nogal ’n prestasie vir ’n hedendaagse koning. Dit is dalk indrukwekkend dat koning Sobhuza so lank regeer het, maar daar is ’n koning wie se heerskappy nie beperk word deur die kort lewensduur van die mens nie. Trouens, die Bybel verwys na hom as “die Koning van die ewigheid” (1 Tim. 1:17). ’n Psalmis het hierdie Soewerein by name genoem en gesê: “Jehovah is Koning tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig.”—Ps. 10:16.
2 Die duur van God se heerskappy maak dit anders as dié van enige mens. Maar dit is die wyse waarop Jehovah regeer wat ons tot hom aantrek. ’n Koning wat 40 jaar lank oor eertydse Israel regeer het, het God met hierdie woorde geloof: “Jehovah is barmhartig en genadig, word nie gou toornig nie en is oorvloedig in liefderyke goedhartigheid. Jehovah het sy troon stewig gevestig in die hemel; en oor alles het sy koningskap heerskappy gevoer” (Ps. 103:8, 19). Jehovah is nie net ons Koning nie, maar ook ons Vader—ons liefdevolle, hemelse Vader. Dit laat twee vrae ontstaan: Hoe het Jehovah as ’n Vader opgetree? Hoe het Jehovah sedert die opstand in Eden sy koningskap uitgeoefen? Die antwoorde op hierdie vrae sal ons beweeg om nader aan Jehovah te kom en hom heelhartig te aanbid.
DIE KONING VAN DIE EWIGHEID BRING ’N UNIVERSELE GESIN VOORT
3. Wie was die eerste lid van Jehovah se universele gesin, en wie is ook as “seuns” van God geskep?
3 Watter vreugde het Jehovah ongetwyfeld ondervind toe hy sy enigverwekte Seun geskep het! God het sy eersgeborene nie as ’n blote onderdaan behandel nie. Hy het hom eerder as ’n Seun liefgehad en hom genooi om te deel in die vreugde wat dit meebring om ander volmaakte onderdane te skep (Kol. 1:15-17). Onder hulle was daar tallose engele. Die engele, wat beskryf word as “Sy dienaars, wat sy wil doen”, dien God vreugdevol, en hy verleen waardigheid aan hulle deur hulle sy “seuns” te noem. Hulle is deel van Jehovah se universele gesin.—Ps. 103:20-22; Job 38:7.
4. Hoe het mense deel van God se universele gesin geword?
4 Nadat Jehovah die fisiese hemel en aarde geskep het, het hy sy universele gesin uitgebrei. Jehovah het die aarde as ’n pragtige, selfonderhoudende tuiste voorberei, en toe het hy die eerste mens, Adam, as die kroon van sy aardse skeppingswerke na Sy beeld geskep (Gen. 1:26-28). As die Skepper kon Jehovah tereg van Adam verwag om gehoorsaam te wees. As ’n Vader het Jehovah al sy instruksies op liefdevolle wyse oorgedra. Hierdie riglyne het die mens se vryheid hoegenaamd nie beperk nie.—Lees Genesis 2:15-17.
5. Wat het God gedoen sodat die aarde met sy mensekinders gevul sou word?
5 In teenstelling met baie mensekonings behaag dit Jehovah om verantwoordelikheid aan sy onderdane te delegeer, en sodoende behandel hy hulle as vertroude lede van sy gesin. Hy het Adam byvoorbeeld gesag oor die diere gegee en hom selfs die genotvolle en interessante taak gegee om die diere name te gee (Gen. 1:26; 2:19, 20). God het nie miljoene afsonderlike volmaakte mense geskep om die aarde te bevolk nie. Hy het eerder besluit om ’n volmaakte komplement vir Adam te skep—die vrou Eva (Gen. 2:21, 22). Toe het hy hierdie egpaar die geleentheid gegee om die aarde met hulle kinders te vul. Onder volmaakte toestande sou dit vir hulle en hulle nakomelinge moontlik gewees het om die grense van die Paradys geleidelik uit te brei totdat dit die hele aarde bedek. Hulle kon Jehovah tesame met die engele in die hemel vir ewig in eenheid as deel van sy universele gesin aanbid. Wat ’n wonderlike vooruitsig! En wat ’n bewys van Jehovah se vaderlike liefde!
OPSTANDIGE SEUNS VERWERP GOD SE KONINGSKAP
6. (a) Hoe het lede van God se gesin in opstand gekom? (b) Waarom het hierdie opstand nie beteken dat Jehovah beheer verloor het nie?
6 Ongelukkig was Adam en Eva nie daarmee tevrede om Jehovah as hulle Soewerein te hê nie. In plaas daarvan het hulle gekies om ’n opstandige geesseun van God, Satan, te volg (Gen. 3:1-6). Die gevolg vir hulle en hulle kinders was pyn, lyding en die dood (Gen. 3:16-19; Rom. 5:12). Daar was nie meer gehoorsame onderdane van God op die aarde nie. Maar het dit beteken dat hy beheer verloor het, dat hy sy soewereiniteit oor die aarde en sy bewoners prysgegee het? Beslis nie! Hy het sy gesag uitgeoefen deur die man en die vrou uit die tuin van Eden te dryf en het gerubs by die ingang geplaas om dit te bewaak sodat hulle nie kon teruggaan nie (Gen. 3:23, 24). Terselfdertyd het God sy vaderlike liefde betoon deur te bevestig dat sy voorneme om ’n universele gesin van getroue geesseuns en menseseuns te hê, vervul sal word. Hy het belowe dat ’n “saad” sal kom wat Satan sal vernietig en die gevolge van Adam se sonde ongedaan sal maak.—Lees Genesis 3:15.
7, 8. (a) Hoe sleg was toestande teen Noag se tyd? (b) Watter reëlings het Jehovah getref om die aarde te reinig en die mensdom behoue te laat bly?
7 In die eeue daarna het party mense gekies om aan Jehovah lojaal te wees. Abel en Henog was onder hulle. Maar die meeste mense het Jehovah as hulle Vader en Koning verwerp. Teen Noag se tyd was die aarde “vol geweld” (Gen. 6:11). Het dit beteken dat Jehovah nie meer beheer oor die aarde se aangeleenthede gehad het nie? Wat toon die geskiedenis?
8 Dink aan die verslag van Noag. Jehovah het hom gedetailleerde bouplanne en instruksies gegee om ’n massiewe ark te bou waarin Noag en sy gesin gered sou word. God het ook groot liefde vir sy hele mensegesin getoon toe hy Noag die opdrag gegee het om “’n prediker van regverdigheid” te wees (2 Pet. 2:5). Noag se boodskap het mense ongetwyfeld aangespoor om berou te toon en hulle gewaarsku teen die naderende vernietiging, maar hulle het nie daarop ag geslaan nie. Noag en sy gesin het dekades lank in ’n gewelddadige en uiters onsedelike wêreld gelewe. As ’n liefdevolle Vader het Jehovah daardie agt lojale siele beskerm en geseën. Deur ’n wêreldwye Vloed te bring, het Jehovah sy soewereiniteit oor die opstandige mense en goddelose engele uitgeoefen. Ja, Jehovah was beslis in beheer.—Gen. 7:17-24.
Jehovah het nog altyd sy koningskap uitgeoefen (Sien paragrawe 6, 8, 10, 12, 17)
JEHOVAH SE KONINGSKAP NÁ DIE VLOED
9. Watter geleentheid het Jehovah die mensdom ná die Vloed gegee?
9 Toe Noag en sy gesin hulle eerste treë op die gereinigde aarde gegee het en die vars lug ingeasem het, het hulle harte sekerlik oorgeloop van dankbaarheid teenoor Jehovah vir sy sorg en beskerming. Noag het dadelik ’n altaar gebou en offerandes aan Jehovah gebring om hom te aanbid. God het Noag en sy gesin geseën en hulle die opdrag gegee: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde” (Gen. 8:20–9:1). Die mensdom het weer eens die geleentheid gehad om in aanbidding te verenig en die aarde te vul.
10. (a) Waar en hoe het mense ná die Vloed teen Jehovah in opstand gekom? (b) Wat het Jehovah gedoen om te verseker dat sy wil volbring word?
10 Maar die Vloed het nie onvolmaaktheid weggewas nie, en mense het nog steeds met die onsigbare invloed van Satan en die opstandige engele te kampe gehad. Dit was nie lank voordat mense weer teen Jehovah se liefdevolle heerskappy in opstand gekom het nie. Byvoorbeeld, Noag se agterkleinseun Nimrod het teenstand teen Jehovah se heerskappy ’n stap verder gevoer. Nimrod word beskryf as “’n magtige jagter in verset teen Jehovah”. Hy het groot stede, soos Babel, gebou en homself “in die land Sinear” as koning verklaar (Gen. 10:8-12). Wat sou die Koning van die ewigheid doen omtrent hierdie opstandige koning en sy pogings om God se voorneme om ‘die aarde te vul’, te verydel? God het die mense se taal verwar, wat daartoe gelei het dat Nimrod se gefrustreerde onderdane “oor die hele oppervlak van die aarde” verstrooi is. Hulle het hulle valse aanbidding en patroon van menseheerskappy saam met hulle geneem.—Gen. 11:1-9.
11. Hoe het Jehovah lojaliteit aan sy vriend Abraham betoon?
11 Hoewel baie mense ná die Vloed valse gode aanbid het, het sommige getroue manne aangehou om Jehovah te eer. Een van hulle was Abraham, wat gehoorsaam die geriewe van sy tuisstad Ur verlaat het en jare lank in tente gebly het (Gen. 11:31; Heb. 11:8, 9). Gedurende die tyd dat Abraham rondgetrek het, was hy dikwels omring deur mensekonings, waarvan baie in ommuurde stede gewoon het. Maar Abraham en sy gesin is deur Jehovah beskerm. Die psalmis het aangaande Jehovah se vaderlike beskerming gesê: “[God] het geen mens toegelaat om hulle te kort te doen nie, maar ter wille van hulle het hy konings tereggewys” (Ps. 105:13, 14). Uit lojaliteit aan sy vriend, het Jehovah Abraham belowe: “Konings sal uit jou voortkom.”—Gen. 17:6; Jak. 2:23.
12. Hoe het Jehovah sy soewereiniteit oor Egipte uitgeoefen, en watter uitwerking het dit op sy uitverkore volk gehad?
12 God het Abraham se seun Isak en kleinseun Jakob ook belowe dat hy hulle sal seën, wat sou insluit dat konings in hulle geslagslyn gebore sou word (Gen. 26:3-5; 35:11). Maar voordat Jakob se nakomelinge konings kon voortbring, het hulle slawe in Egipte geword. Het dit beteken dat Jehovah nie sy belofte sou nakom nie of dat hy sy soewereiniteit oor die aarde prysgegee het? Glad nie! Op sy bestemde tyd het Jehovah sy goddelike krag geopenbaar en sy soewereiniteit oor die hardkoppige Farao uitgeoefen. Die Israelitiese slawe het hulle geloof in Jehovah gestel, en hy het hulle op wonderbaarlike wyse veilig deur die Rooisee gelei. Dit is duidelik dat Jehovah nog steeds die Universele Soewerein was, en as ’n liefdevolle Vader het hy sy groot krag gebruik om sy volk te beskerm.—Lees Eksodus 14:13, 14.
JEHOVAH WORD KONING OOR ISRAEL
13, 14. (a) Wat het die Israeliete in ’n lied oor Jehovah se koningskap gesê? (b) Watter belofte aangaande koningskap het Jehovah aan Dawid gemaak?
13 Toe die Israeliete wonderdadig uit Egipte verlos is, het hulle onmiddellik ’n oorwinningslied tot lof van Jehovah gesing. Hierdie lied, wat in Eksodus hoofstuk 15 opgeteken is, bevat die volgende verklaring in vers 18: “Jehovah sal as koning heers tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig.” Trouens, Jehovah het Koning oor die nuwe nasie geword (Deut. 33:5). Maar die volk was nie daarmee tevrede om Jehovah as hulle onsigbare Heerser te hê nie. Ongeveer 400 jaar nadat hulle Egipte verlaat het, het hulle God gevra om ’n mensekoning oor hulle aan te stel, soos hulle heidense bure gehad het (1 Sam. 8:5). Maar Jehovah was nog steeds Koning, ’n feit wat duidelik gesien kon word gedurende die heerskappy van Dawid, Israel se tweede mensekoning.
14 Dawid het die heilige verbondsark na Jerusalem gebring. Gedurende hierdie vreugdevolle geleentheid het die Leviete ’n loflied gesing wat ’n merkwaardige verklaring bevat het. Dit is opgeteken in 1 Kronieke 16:31, wat sê: “Laat hulle onder die nasies sê: ‘Jehovah het koning geword!’” ’n Mens wonder dalk: ‘In watter sin word Jehovah op sekere tye Koning, aangesien hy die Koning van die ewigheid is?’ Jehovah word Koning wanneer hy sy heerskappy uitoefen of ’n verteenwoordiger aanstel om hom op ’n spesifieke tyd te verteenwoordig of ’n sekere situasie te hanteer. Hierdie aspek van Jehovah se koningskap is van groot belang. Voordat Dawid gesterf het, het Jehovah hom belowe dat sy koningskap tot onbepaalde tyd sal voortduur: “Ek [sal] beslis jou saad ná jou verwek, wat uit jou liggaam sal voortkom; en ek sal inderdaad sy koninkryk stewig vestig” (2 Sam. 7:12, 13). Hierdie belofte is vervul toe die “saad”, of seun, van Dawid meer as 1 000 jaar later verskyn het. Wie was dit, en wanneer sou hy Koning word?
JEHOVAH STEL ’N NUWE KONING AAN
15, 16. Wanneer is Jesus as die toekomstige Koning gesalf, en watter reëlings het hy in verband met sy heerskappy getref toe hy op aarde was?
15 In die jaar 29 HJ het Johannes die Doper begin preek dat ‘die koninkryk van die hemele naby gekom het’ (Matt. 3:2). Toe Jesus deur Johannes gedoop is, het Jehovah Jesus as die beloofde Messias en die toekomstige Koning van God se Koninkryk gesalf. Jehovah het sy vaderlike geneentheid vir Jesus uitgespreek met die woorde: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het.”—Matt. 3:17.
16 Gedurende sy bediening het Jesus sy Vader altyd verheerlik (Joh. 17:4). Hy het dit gedoen deur die Koninkryk van God te verkondig (Luk. 4:43). Hy het sy volgelinge selfs geleer om te bid dat daardie Koninkryk moet kom (Matt. 6:10). As die aangewese Koning kon Jesus vir sy teenstanders sê: “Die koninkryk van God is in julle midde” (Luk. 17:21). Later, op die aand voor sy dood, het Jesus ‘’n verbond vir ’n koninkryk’ met sy volgelinge gesluit. Sodoende het hy party van sy getroue dissipels die vooruitsig gegee om saam met hom as konings in God se Koninkryk te regeer.—Lees Lukas 22:28-30.
17. Op watter beperkte manier het Jesus sy koningskap in die eerste eeu begin uitoefen, maar waarvoor moes hy wag?
17 Wanneer sou Jesus as Koning van God se Koninkryk begin heers? Hy kon dit nie onmiddellik doen nie. Jesus is die volgende middag tereggestel, en sy volgelinge is verstrooi (Joh. 16:32). Maar soos in die verlede het Jehovah in beheer gebly. Hy het sy Seun op die derde dag opgewek, en op Pinkster 33 HJ het Jesus ’n geestelike koninkryk oor die Christengemeente van sy gesalfde broers opgerig (Kol. 1:13). Maar Jesus sou nog moes wag voordat hy as die beloofde “saad” volle koninklike mag oor die aarde sou ontvang. Jehovah het vir sy Seun gesê: “Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande ’n voetbank vir jou voete maak.”—Ps. 110:1.
AANBID DIE KONING VAN DIE EWIGHEID
18, 19. Wat word ons beweeg om te doen, en wat sal ons in die volgende artikel leer?
18 Jehovah se koningskap is duisende jare lank in die hemel en op aarde teëgestaan. Jehovah het nooit sy soewereiniteit prysgegee nie; hy het in beheer gebly. As ’n liefdevolle Vader het hy lojale onderdane soos Noag, Abraham en Dawid beskerm en vir hulle gesorg. Beweeg dit ons nie om ons aan ons Koning te onderwerp en nader aan hom te kom nie?
19 Maar nou vra ons dalk: Hoe het Jehovah in ons dag Koning geword? Hoe kan ons lojale onderdane van Jehovah se Koninkryk wees en volmaakte seuns in sy universele gesin word? Wat beteken dit wanneer ons bid dat God se Koninkryk moet kom? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.