Vraebus
● Is dit geoorloof om in die gebied van een gemeente te woon maar vergaderinge elders by te woon?
Die Genootskap het ’n aantal briewe aangaande die voorgenoemde vraag ontvang. Ons het derhalwe besluit om van die informasie te herhaal wat in Ons Koninkryksdiens vir April 1976 gepubliseer is.
Kortom: ons moedig verkondigers aan om die vergaderinge by te woon van die gemeente in wie se gebied hulle woon. In die meeste gevalle is dit in die beste belang van die gesin, aangesien dit gewoonlik geriefliker is om vergaderinge by te woon, in nabygeleë gebied velddiens te doen en baat te vind by die hulp wat die ouere manne verleen.
Daar is dalk goeie redes waarom ’n verkondiger of gesin nie die voorgenoemde riglyn kan nakom nie. Elke gesinshoof dra die verantwoordelikheid vir sy eie gesin. Dit sal goed wees as hy die saak met die ouere manne bespreek om die voordeel van hulle raad te kry voordat hy ’n besluit neem. Nadat hy al die betrokke faktore oorweeg het, sal hy moet besluit wat die beste is. Dit is nie nodig om sy besluit te kritiseer nie.
In stedelike gebiede is daar dikwels ’n groot aantal gemeentes in ’n digbewoonde gebied. Daar is moontlik etlike redes waarom die ouere manne sal meen dat dit die belange van die werk sal bevorder as verkondigers na ’n ander gemeente gaan. Dit kan byvoorbeeld nodig wees om ’n gemeente met min verkondigers te versterk. Die ouere manne in elke gemeente kan verduidelik wat na hulle mening die raadsaamste is en elke betrokke gesin versoek om dit te oorweeg. Dieselfde geld vir ouere manne, bedieningsknegte of pioniers wat gevra word of hulle na ’n ander plek kan gaan om ’n gemeente wat hulp nodig het te help. Soms sien die kringopsiener dat een gemeente baie ouere manne het, terwyl ’n nabygeleë gemeente slegs ’n paar ouere manne het en dus hulp nodig het. Die kringopsiener kan die behoefte meld aan die gemeente waar daar baie ouere manne is. Nadat hulle hul eie behoeftes oorweeg het, besluit hulle dalk dat een of twee ouere manne, saam met hulle gesinne, na so ’n gemeente kan gaan om te help. (Sien Koninkryksbediening vir April 1973.) As ons die voorgenoemde riglyne so streng moontlik volg, sal ons “alle dinge betaamlik en volgens reëling [laat] geskied”.—1 Kor. 14:40, NW.