Bied die Goeie Nuus Aan—Deur goed gebruik te maak van Redenering uit die Skrif
1 “Wens jy dat jy meer effektief uit die Skrif kon redeneer? Is daar vrae wat jy tydens jou bediening teëkom wat jy moeilik vind om behoorlik te beantwoord? Sal jy hulp met hierdie vrae waardeer sodat jy opregte mense in julle gebied kan help om die waarheid in te sien?” As jy ja geantwoord het op hierdie vrae wat die spreker by die “Handhawers van onkreukbaarheid”-byeenkoms gestel het, is ons seker daarvan dat jy bly was oor die aankondiging dat die Genootskap ’n nuwe handleiding vir die veldbediening, Redenering uit die Skrif, gedruk het. Het jy, vandat dit uitgereik is, ten volle gebruik gemaak van hierdie puik instrument om ‘uit die Skrif te redeneer, die Skrif uit te lê en daaruit aan te toon’ wat jy leer?—Hand. 17:2, 3, NAV.
WANNEER OM REDENERING-BOEK TE GEBRUIK
2 Wanneer jy vir die huis-tot-huis-bediening voorberei, is dit veral gepas om na party van die uitstekende inleidings in die inleidende deel te kyk. Kan jy een daarvan gebruik of een by jou plaaslike omstandighede aanpas? Dit sal jou ongetwyfeld help om ’n nuwe benadering te hê as jy aan hierdie wenke aandag skenk. Terwyl jy velddiens doen, kom jy dalk ook agter dat jou inleiding nie belangstelling wek nie. Raadpleeg gerus tussen besoeke die Redenering-boek vir gedagtes. Of ’n aantal huisbewoners het dalk die gesprek gedemp met dieselfde antwoord. As jy die deel raadpleeg wat op bladsy 15 begin, kan dit jou help om ’n skynbaar onoorkoomlike muur in ’n oop deur vir verdere bespreking te verander.
3 Wanneer jy ’n herbesoek doen of ’n Bybelstudie hou, vind jy dalk dat die persoon ’n gedagte moeilik verstaan of waardeer. Hy kan nog vrae hê. Die Redenering-boek bevat honderde spesifieke vrae en talle woordbeelde wat jou kan help om die hart van die vraer te bereik. Let byvoorbeeld op die illustrasie op bladsy 169 wat toon waarom Jehovah goddeloosheid toelaat.
4 Die Redenering-boek kan jou ook help om te verduidelik watter veranderinge ’n Bybelstudent in sy lewe moet aanbring ten einde Jehovah te behaag. ’n Paartjie woon dalk saam hoewel hulle nie wettiglik getroud is nie. Skriftuurlike redenering hieroor verskyn op bladsy 201 en 202. Of ’n Bybelstudent sukkel dalk om die gebruik van tabak of dwelms te staak. Ons nuwe handleiding bespreek talle feite oor hierdie skadelike gewoontes onder die hoofopskrif “Dwelms” en wys op goeie Skriftuurlike redes waarom Christene dit moet vermy.
5 In ons geestelike oorlog kan die Redenering-boek ons help om “die swaard van die Gees” kragtig te gebruik om gevangenes van diepgewortelde Babiloniese leerstelling en redenasies te bevry (Ef. 6:17; 2 Kor. 10:4, 5, vgl. NAV). Maar selfs die kragtigste wapen is nutteloos as die soldaat nie weet hoe om dit te gebruik of dit nie byderhand het nie. Soos in die dae van Moses moet ons, as soldate van Christus, ons dus “voor die aangesig van die Here vir die oorlog wapen” (Num. 32:20, 21; 2 Tim. 2:3). Laat ons almal Redenering uit die Skrif ten volle gebruik en dus altyd toegerus wees om die goeie nuus te verdedig en te bevorder.