Die skool en Jehovah se Getuies —Die doel van die brosjure
1 Die Skool-brosjure is ’n jaar gelede by Gemeentelike Boekstudies bestudeer. Talle het waardering uitgespreek oor die tydige leiding van Jehovah se sigbare organisasie. Onthou jy nog die beginsels wat in die brosjure uiteengesit word?
2 Die doel van die brosjure word op bladsy 3 verduidelik, naamlik, dat dit ‘uitgegee word vir die persoonlike gebruik van Jehovah se Getuies en hulle kinders’. Ons wil dit derhalwe beklemtoon dat die brosjure nie vryelik onder onderwysers versprei moet word nie, soos gemeld in Ons Koninkryksbediening vir September 1985. Dit is uitgegee om ouers en kinders te help om duidelik te sien watter Bybelbeginsels daarby betrokke is om onkreukbaarheid by die skool te handhaaf en om ’n gees van samewerking tussen ons en die skoolowerheid teweeg te bring. Ouers kan gerus weer die inhoud van die brosjure met hulle kinders hersien voordat hulle volgende jaar skool toe gaan. Maak dit ’n deel van julle gesinstudie vir twee of drie opeenvolgende weke. As jy deeglik vertroud is met die inhoud van die brosjure sal dit jou baie help wanneer jy volgende jaar die onderwysers nader voordat jou kinders skool toe gaan.
3 Talle kinders sal nuwe onderwysers hê of na ’n nuwe skool gaan, en ouers moet goed voorbereid wees vir ’n vriendelike bespreking met die skoolowerheid. Dit sal goed wees as ouere manne gedurende die volgende twee maande tyd kan af staan om ouers te help om voor te berei vir ’n bespreking met die onderwysers wanneer die skole vroeg aanstaande jaar weer open. Waar ouers besprekings gehad het oor dele van die brosjure, het dit tot wedersydse begrip en samewerking tussen hulle en hul kinders se onderwysers gelei. Ons wil ouers af raai om net ’n brief aan die onderwyser te skryf om hulle standpunt oor sekere geskille te verduidelik. Persoonlike kontak met die onderwysers is noodsaaklik, en dit het ’n vriendelike verhouding met hulle tot gevolg.
4 Ons hoop van harte dat ouere manne, ouers sowel as hulle kinders hard sal werk om vir sulke vriendelike besoeke aan onderwysers in die nuwe jaar voor te berei. Dit sal ryk seëninge en voordele meebring as almal ’n ywerige poging aanwend om die goeie leiding in die Skool-brosjure toe te pas en derhalwe hulle onkreukbaarheid gedurende die laaste dae van hierdie goddelose stelsel handhaaf.—2 Thess. 2:15.