Bied die Goeie Nuus Aan—Opvolgwerk met Intekening verval-strokies
1 Wanneer ons mense besoek wie se intekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! binnekort gaan verval, bied dit ’n uitstekende geleentheid om ’n verdere getuienis te gee. Die grondslag is reeds gelê, en die huisbewoner het geruime tyd lank een of albei tydskrifte gereeld ontvang. Hoewel party nie alles in elke nommer gelees het nie, het hulle gereeld geestelike voedsel in hulle huis gekry om hulle aan Jehovah en sy Koninkrykseëninge te herinner.
2 Intekening verval-strokies moet gegee word aan die persoon wat die oorspronklike intekening gekry het. Maar omdat verkondigers verhuis of iemand van ’n ander gemeente intekeninge instuur, kan jy ook die geleentheid kry om opvolgwerk met ’n Intekening verval-strokie te doen. Hoe moet ons sulke herbesoeke beskou?
DIE REGTE BESKOUING
3 Ons gaan met die positiewe gedagte om ’n verdere getuienis te gee en die persoon natuurlik aan te spoor om weer in te teken. Die huisbewoner was moontlik nie gereed om te studeer toe hy aanvanklik ingeteken het nie, maar nou, nadat hy die tydskrif ’n jaar lank ontvang het, het sy beskouing dalk verander. Ons wil beslis nie ’n negatiewe beskouing hê en die gevolgtrekking maak dat daar geen belangstelling is nie aangesien die intekenaar nie studeer nie.
4 Wat kan gedoen word om aan intekenaars die beste diens moontlik te lewer en die Genootskap te help om hernuwings vinnig te verwerk? Sommige sake wat aandag moet kry, is: (1) Diegene wat intekeninge behartig, moet die Intekening verval-strokie dadelik in die hande van die broers kry sodat ’n herbesoek gedoen kan word om die intekening te hernieu. (2) Verkondigers moet die strokie by hulle hê wanneer die herbesoek gedoen word en dit gebruik as die persoon weer inteken, pleks van ’n blanko intekeningstrokie te gebruik. Dan hoef die adresgedeelte op die tydskrifomslag nie teruggestuur te word nie. (3) Alle intekeninge moet by die eerste vergadering ingegee word, indien moontlik. Dit moet ELKE WEEK aan die Genootskap gestuur word, selfs as daar net een intekening is.
WAT KAN ONS SÊ?
5 Gestel ons besoek iemand wie se intekening weldra gaan verval. Wat kan ons sê om belangstelling in die lees van die tydskrifte te wek? Sal ’n direkte benadering die beste wees deur net vir die persoon te sê dat die intekening binnekort gaan verval en hom te nooi om dit te hernieu? In sommige gevalle kan dit resultate oplewer. Maar daar word dikwels gevind dat die intekenaar se belangstelling vervaag het as iemand hom nie gereeld besoek het nie. Dit sal dalk nodig wees om weer die aanvanklike belangstelling aan te wakker.
6 Nadat jy jouself voorgestel het, kan jy dalk sê: “Ek wend ’n spesiale poging aan om mense in die omgewing te besoek wat Die Wagtoring (of Ontwaak!) die afgelope jaar deur die pos ontvang het. Ek hoop u het dit net so baie geniet soos ek.” Pouseer kortliks sodat die huisbewoner kan sê of hy baie van die artikels kon lees of nie. Jy kan dan voortgaan deur te sê: “In die jongste nommer is daar ’n artikel wat ek veral geniet het. [Verstrek onderwerp of titel van artikel. ’n Paar bykomende kommentare oor die artikel kan gepas wees.] Ons het so pas kennisgewing ontvang dat u intekening binnekort gaan verval (of verval het) en ons wil nie hê dat u ’n enkele nommer moet misloop nie. Ek sal graag die hernuwing vir u wil instuur. Dit kos slegs R6.50 vir die hele jaar.” Die huisbewoner sal dalk nie op daardie tydstip die intekening wil hernieu nie, maar as jy sien dat daar nog steeds ’n mate van belangstelling is, kan reëlings getref word om weer oor ’n week of twee besoek af te lê.
7 Hou in gedagte dat ons doel is om mense die waarheid te leer en om ’n deel te hê aan die regverdiging van Jehovah se groot en heilige naam. Benewens Die Wagtoring en Ontwaak! is daar geen tydskrifte ter wêreld wat aan die goddelike doel beantwoord nie. Hoe geseënd is die huis tog wat hierdie tydskrifte gereeld ontvang en lees! Laat ons ons deel doen deur die Intekening verval-strokies goed te benut.