“Wees vurig van gees”
1 As ons iets goeds het om met ander te deel, dra dit tot geesdriftige bedrywigheid by. Ons het dus goeie rede om gedurende April entoesiasties te wees wanneer ons die pragtig geillustreerde, bygewerkte boek Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind? aanbied. As gevolg van wêreldtoestande is vrede en veiligheid ’n baie tydige onderwerp. Na duisende jare van menslike mislukking sien talle die feit onder die oë dat die mens nie die oplossing vir sy dringendste behoeftes het nie. Maar ons weet dat God se Koninkryk die oplossing is. Die feit dat ons deur middel van God se Woord die aandag hierop kan vestig en hierdie uitstekende publikasie het om aan te bied, behoort ons te help om in April “vurig van gees” in ons bediening te wees.—Rom. 12:11.
2 Maar die verspreiding van die Ware vrede-boek is slegs die eerste stap tot die vervulling van ons doel om waarheidsoekers te help om hulle aan die kant van God se Koninkryk te skaar. Ons moet gou teruggaan en belangstellendes help om ’n beter begrip te kry van wat ons aanvanklik met hulle gedeel het. Anders bestaan die gevaar dat die Bose tussenbei sal tree en sal roof wat in hulle hart gesaai is.—Matt. 13:19.
OPVOLGWERK NA GEDENKMAALBEDRYWIGHEDE
3 Ons moet ook verdere aandag skenk aan diegene wat die Gedenkmaal bygewoon het. Elke jaar is die opkoms by die Gedenkmaal in Suid-Afrika en wêreldwyd meer as dubbel die gemiddelde aantal verkondigers. Watter potensiaal is daar tog nie vir meer dissipels nie! In plaas daarvan om toe te laat dat die bedrywigheid wat gepaard gaan met die Gedenkmaalviering verflou, moet ons eerder aanhou om diegene te help wat dit bygewoon het sodat hulle geestelik verder kan groei. Word daar Bybelstudies gehou met almal wat jy persoonlik uitgenooi het? Kan ’n openhartige Bybelbespreking op hierdie tydstip met iemand wat in die verlede gestudeer het die weg baan vir ’n vrugbare Bybelstudie?
BENUT KOMENDE MAANDE GOED
4 ’n Gees van ywer het 5,700 in hierdie land verlede April beweeg om as hulppioniers te dien. Dit het alle vorige rekords vir enige maand oortref. Het jy al reëlings getref om hierdie April by die pioniergeledere aan te sluit? Party wat dit doen, kan moontlik voortgaan om ’n paar maande lank hulppionierdiens te doen, of selfs die gewone pionierdiens te betree.
5 Gedurende die 1985-diensjaar het 323 gemeentes wat vurig van gees is in ontoegekende gebied gewerk. Die 8,447 verkondigers het 109,048 uur in velddiens deurgebring en 29,159 boeke. 37,557 boekies en 42,429 tydskrifte versprei, 56 intekeninge gekry, 12,012 herbesoeke gedoen en 1,283 studies gehou. Julle sal ook bly wees om te verneem dat die tak van Maart tot November 1985 112,810 ouer publikasies uitgestuur het. Ons wil julle almal prys vir die uitstekende manier waarop julle gereageer het om die ouer publikasies te versprei.
6 Julie tot September word weer eens opsy gesit vir ontoegekende gebied. Kan jy jou reëlings vir vanjaar so tref dat jy ook in ontoegekende gebied sal kan werk? As jy op Jehovah vertrou, definitiewe reëlings tref en elke maand ’n bietjie geld opsy sit, sal jy ook die vreugde smaak om die Koninkryk van God aan persone in afgeleë gebiede te verkondig. Is jy ’n pionier? Dan kan jy gerus aansoek doen om twee of drie maande lank in ongedekte gebiede te gaan werk as jy jouself kan onderhou. Bespreek dit met die ouere manne, wat die Genootskap dan van jou begeerte in kennis kan stel.
7 Koninkryksbedrywigheid kan ook uitgebrei word deur in die aand te getuig. Dit lyk of huisbewoners vroegaand ontspanne en meer geneig is om te luister. Talle verkondigers sal ongetwyfeld die vroeë aandure wil benut om mense te bereik wat gewoonlik nie bedags tuis gevind word nie.
‘WEES NIE TRAAG NIE’
8 Dit is nie nou die tyd om traag te wees nie, maar eerder “vurig van gees”. Laat ons almal toon dat ons ywerige en gewillige werkers is (Hebr. 6:11, 12). As ons nou deurdagte reëlings tref, kan ons April en die komende maande ’n geestelik onvergeetlike tyd maak. As ons “vurig van gees” is, sal dit positiewe resultate binne en buite die gemeente oplewer.