Stel persoonlike doelwitte vir die nuwe diensjaar
1 Is jy tevrede met jou geestelike vordering? Dit is goed om voortdurend geestelik vooruitgang te maak, maar dit verg inspanning. Dit help as ons doelwitte vir onsself en vir ons gesinne stel. ’n Doelwit is ’n oogmerk waarvoor jy jou inspan. Om Jehovah te behaag, moet ons doelwitte in ooreenstemming met sy wil wees. Daarom maak ons Jehovah se denke ons eie en jaag ons teokratiese doelwitte na, net soos Jesus gedoen het (Joh. 17:4). Ons sal sodoende groot vreugde en tevredenheid uit ons lewe van diens aan Jehovah put.—Joh. 15: 10, 11.
2 Watter doelwitte het jy gedurende die afgelope diensjaar ter bevordering van Koninkryksbelange bereik? Die feit dat talle die doelwitte bereik het wat hulle vir hulself gestel het, kan gesien word in die getal mense wat gedoop is. Tienduisende het ook om hulp- en gewone pionierdiens aansoek gedoen. ’n Hele aantal het gereël om te dien waar daar hulp nodig is. Sommige broers het ’n persoonlike doelwit bereik toe hulle uitgenooi is om by Bethel te dien.
DOELWITTE WAT JY KAN OORWEEG
3 Is daar gepaste doelwitte wat dalk binne jou bereik is? Goeie doelwitte vir nuwelinge sal wees om vergaderinge gereeld by te woon en by die Teokratiese Bedieningskool aan te sluit ten einde goeie geestelike vooruitgang te maak. As jy nie gereeld by die vergaderinge kommentaar lewer nie, kan jy dit gerus ’n doelwit maak. Jou studie en navorsing kan ander tot voordeel strek, en jou eie begrip van die waarheid sal toeneem.—Hebr. 10:24, 25.
4 Voldoen jy aan die vereistes om aan die bediening deel te neem? Doen jy dit gereeld? Lees jy die nuwe publikasies wanneer hulle verskyn ten einde by te bly met die puik onderrig van die getroue dienskneg? As jy reeds hierdie doelwitte bereik het, sal toewyding en doop gepaste doelwitte vir jou wees om te oorweeg.
5 Hou jy ’n Bybelstudie? Bid jy om hulp om een te begin? Gaan jy ywerig terug na mense en bied jy aan om met die belangstellendes wat jy ontmoet te studeer? Lei jy ’n persoon met wie jy studeer in die bediening op as hy aan die vereistes voldoen om aan die velddiens deel te neem?
6 Het jy ’n uurmikpunt vir elke maand gestel? Of het jy probeer om hulppionierdiens te doen? Miskienkan jy selfs as ’n gewone pionier begin dien en elke maand 90 uur daaraan bestee om die goeie nuus aan ander te verkondig. Jy sal dalk mettertyd die vreugde smaak om die voordele te ontvang van die spesiale opleiding wat in die Pionierdiensskool voorsien word. Broers moet die voorreg om as bedieningsknegte en ouere manne te dien nastreef.—1 Tim. 3:1.
7 Die persoonlike doelwitte wat ons vir onsself stel, moet ons nader aan Jehovah bring en ons in staat stel om sy wil in groter mate te doen. Paulus het gesê: “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is.” Hy het ons aangespoor om ’n po-sitiewe gesindheid ten opsigte van teokratiese strewes te hê sodat ons “in die mate waarin ons vordering gemaak het”, sal “voortgaan om in dieselfde roetine ordelik te wandel”.—Filip. 3:13, 14, 16, vgl. NW.