Preek jy met ’n doel?
1 Jehovah is ’n doelbewuste God, en sy werke is doelgerig. Dieselfde moet van ons gesê kan word, veral wat ons bediening betref. Jesus het sy dissipels opdrag gegee om die goeie nuus te verkondig met die doel om ’n getuienis te gee (Matt. 24:14). Wanneer ons help om hierdie opdrag uit te voer, moet ons ook ywerig na alle belangstellendes teruggaan. Dit is duidelik uit Jesus se woorde in Mattheüs 28:19.
2 Velddiensrapporte toon dat ons nie teruggaan na almal wat lektuur aanvaar nie. Sommige huiwer moontlik omdat hulle dink dat net ervare en spontane verkondigers bekwaam is om herbesoeke te doen. Dit is egter nie so moeilik soos wat hierdie verkondigers hulle dalk voorstel nie. Maar ons moet ons herbesoeke doelgerig maak.
DOEN DOELGERIGTE BESOEKE
3 Wanneer jy ’n belangstellende ontmoet, is dit goed om onmiddellik die grondslag vir jou herbesoek te lê. Hoe? Sommige het welslae behaal deur ’n vraag aan die huisbewoner te stel wat met die volgende besoek beantwoord kan word. Ander slaag daarin om lektuur te laat en ’n spesifieke gedagte te beklemtoon wat hulle sal bespreek wanneer hulle terugkom. Maak seker dat jy die huisbewoner se naam, die onderwerp wat bespreek is, sy reaksie en enige lektuur wat gelaat is, neerskryf. Hersien dan hierdie informasie voordat jy die herbesoek doen, en oorweeg biddend wat jy gaan sê.
4 Gedurende Oktober het ons ’n puik geleentheid om intekeninge op Ontwaak! en Die Wagtoring tydens herbesoeke aan te bied. Dit is wel so dat ons intekeninge in ons bediening van huis tot huis verkry, maar talle verkondigers het groot welslae behaal wanneer hulle intekeninge tydens herbesoeke aangebied het. Sommige wat met ons aanvanklike besoek tydskrifte aanvaar het, het dalk belowe om in te teken of andersins aangedui dat hulle miskien sal inteken. Dan is daar persone vir wie ons Intekening Verval-strokies het, persone wat op ons tydskrifroete is of mense met wie ons in die verlede gestudeer het. Intekeninge op Die Wagtoring en Ontwaak! kan help om in hulle geestelike behoefte te voorsien.—Matt. 5:3, NW.
5 As jy terugkeer na waar jy die huidige ‘Onderwerp vir gesprekke’ gebruik het, kan jy moontlik sê: “Toe ek met u gepraat het, het ons die mens se behoefte aan geestelike dinge bespreek en hoe ’n studie van God se Woord in daardie behoefte kan voorsien. Let op watter voordele diegene geniet wat God se Woord bestudeer. [Lees Johannes 17:3 en lewer kommentaar.] Die Wagtoring en Ontwaak! is goeie instrumente om ons te help om in ons geestelike behoefte te voorsien.” Dan kan jy hulle aandag vestig op ’n spesifieke gedagte in die tydskrif wat jy aanbied en voortgaan om die intekeningaanbod te verduidelik. Hou ook in gedagte dat dit die doel van ons besoek is om Bybelstudies te begin, en die studiereëling kan dus ook aan hulle verduidelik word.
REËL BESOEKE
6 Sommige doen nie herbesoeke nie omdat hulle nie ’n spesifieke tyd daarvoor reël nie. Herbesoeke kan in die aande, oor naweke, net nadat ons van huis tot huis gewerk het of op ander gerieflike tye gedoen word. Stel gerus ’n persoonlike doelwit om elke week ten minste een herbesoek te doen. Vra diegene wat meer ervare in hierdie aspek van die velddiens is om jou te help. Vra gerus jou boekstudiehouer om wenke in hierdie verband. Jy kan ook ondervinding opdoen deur ’n pionier of ’n verkondiger te vergesel wat goed vaar in hierdie werk.
7 Die apostel Paulus het gemeld dat ons in die Christenbediening moet plant en natmaak (1 Kor. 3:6, 7). Ons het dus ’n verantwoordelikheid om terug te gaan na persone met die doel om ’n Bybelstudie te begin. Ons vreugde sal gewis toeneem as ons met ’n doel preek.