Wat is jou gewoonte?
1 Christelike vergaderinge is ’n noodsaaklike deel van ons aanbidding van Jehovah. Die apostel Paulus spoor ons gepas aan om nie ons onderlinge byeenkoms te versuim, “soos sommige die gewoonte het nie”—Hebr. 10:25.
2 Is dit ook hoe jy voel oor omgang met jou broers by Christelike vergaderinge? Wat openbaar jou gewoonte in hierdie verband? Woon jy ál die vergaderinge, met inbegrip van die Gemeentelike Boekstudie, gereeld by? Of vind jy dat dit jou gewoonte is om van vergaderinge af weg te bly? Watter plek beklee vergaderinge in jou lewe? Spoor jy ander aan om vergaderinge gereeld by te woon? Het jy Gedenkmaalbywoners aangespoor om vergaderinge gereeld by te woon?
3 Al is ons daaglikse roetine ook hoe veeleisend kan Paulus se raad nie geringgeag word nie. Hoewel dit vanselfsprekend is dat ’n Christen af en toe weens swak gesondheid of ander omstandighede buite sy beheer van ’n vergadering sal wegbly, moet dit gewis nie sy gewoonte wees nie (Rom. 2:21). Omdat ’n Christen so baie verpligtinge het om na om te sien, wat ’n aantal teokratiese bedrywighede kan insluit, moet hy hom van die belangriker dinge vergewis (Filip. 1:10, NW). Vergaderinge tel onder die belangriker dinge vir ’n Christen en is noodsaaklik vir ons geestelike welsyn.
MOEDIG MEKAAR AAN
4 Toe Paulus aan die Romeine geskryf het, het hy gesê dat hy verlang om hulle te sien. Waarom? Ten einde ’n geestelike gawe aan hulle oor te dra sodat hulle “versterk” sou word (Rom. 1:11). Hy was nie tevrede om net ’n brief, geskrewe inligting wat hulle kon lees, aan hulle te stuur nie, maar het gemeen dat omgang belangrik is, ja, nodig is, aangesien hy voorts gesê het: “Dat . . . ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word.” Of soos die voetnoot in die New World Translation-naslaanuitgawe sê: “Om saam bemoedig te word” (Rom. 1:12, NAV). Selfs Paulus, ’n apostel, het sy behoefte aan bemoediging deur middel van Christelike omgang erken.
5 Ons moet mekaar op soortgelyke wyse tot liefde en goeie werke aanspoor by ons vergaderinge. ’n Vriendelike glimlag en ’n hartlike groet kan ’n positiewe uitwerking op ander hê. Opbouende kommentare, goed voorbereide dele op die program, ander se geestelike vooruitgang en om net tussen die broers daar by die vergaderinge te wees kan baie bemoedigend wees. Selfs as ons aan die einde van die dag moeg is, sal ons gewoonlik vind dat ons baie beter voel nadat ons die vergadering bygewoon het. Christelike vriendskap en die liefde wat ons broers vir ons openbaar, sal ons aanspoor om “met volharding die wedloop [te] loop wat voor ons lê” (Hebr. 12:1). Deur aandagtig na God se Woord te luister, kan ons voorbereid wees om die belydenis van die hoop onwankelbaar vas te hou. Ons sal baie seëninge smaak deur die vergaderinge by te woon.
6 Ons moet nou meer as ooit tevore aan ons geloof vashou en ander tot liefde en goeie werke aanspoor. Ons moet ’n ywerige poging aanwend om al die gemeentelike vergaderinge by te woon. Ons wil nie in die gewoonte of gebruik verval om ons onderlinge byeenkoms te versuim nie. Ons moet pligsgetrou probeer om ander, met inbegrip van die Gedenkmaalbywoners, aan te spoor en te help om gereeld by die vergaderinge te wees. Sodoende sal ons ons liefde vir ander en ons waardering vir Christelike vergaderinge toon.