Bied die goeie nuus aan—Gedurende jou vakansie
1 Ons het gedurende Desember en aan die begin van Januarie gewoonlik meer tyd vir persoonlike bedrywighede. Ons moet vooruit beplan as ons wil voel dat ons iets bereik het met die manier waarop ons ons tyd gebruik het. Watter planne kan ons nou maak om te verseker dat ons ons tyd teokraties gesproke op die beste wyse moontlik gebruik?
2 ’n Groot aantal belangstellendes geniet elke week die geestelike voordele van ons tuisbybelstudiereëling. Daar word tans meer as 50 000 tuisbybelstudies gehou! Hulle geestelike vooruitgang hang grootliks af van die hulp wat ons hulle gee. Dit sal vir hulle ’n seën wees om die streekbyeenkoms by te woon. Ons kan hulle bewus maak van die baie geestelike voordele en hulle met hulle vervoerreëlings help deur hulle miskien te nooi om saam met ons te gaan of saam met ander wat plek in hulle motors het.
3 As ons die byeenkoms bywoon, verskaf dit nog geleenthede om informele getuieniswerk te doen. As deel van ons beplanning moet ons ’n voorraad van ons jongste publikasies inpak, onder andere ’n voorraad van My boek met Bybelverhale. Ons kan vir mense getuig wat by vulstasies, hotelle en restaurante werk, asook vir diegene wat van openbare vervoer gebruik maak. Dit is ’n goeie manier om baie ondervindinge te geniet.
4 Jongmense assosieer Desember en die begin van Januarie sonder uitsondering met vakansie. ’n Mate van opbouende ontspanning is wel nuttig. Maar kan van hierdie vrye tyd nie gebruik word om ’n groter aandeel in die getuieniswerk, soos die hulppionierdiens, te hê nie? Ouers kan hulle kinders nou help om daarvoor te beplan. Kinders uit verskillende gesinne kan moontlik aansoek doen om as hulppioniers te dien en as ’n groep saam werk. Ander wat dit nie kan doen nie, kan daarna strewe om meer te doen, veral tydens groepgetuieniswerk gedurende die week.
5 Baie sal ’n bietjie tyd vry hê van hulle werk en sal na ander plekke reis. As julle beplan om die vergaderinge by die plaaslike gemeente by te woon en saam met hulle velddiens te doen, kan dit goeie onderlinge aanmoediging tot gevolg hê. Julle gaan moontlik na ’n plek waar daar baie gebied is wat selde gedek word, wat julle in staat sal stel om vir mense te getuig wat die Koninkryksboodskap baie min hoor.
6 Baie jongmense het onlangs hulle skoolloopbaan voltooi. Hulle moet dus ernstig oor hulle doelwitte in die lewe nadink. Jongmense wat teokratiese doelwitte die belangrikste deel van hulle toekomsplanne maak, sal beslis geseën word (1 Joh. 2:15-17). ’n Besluit om die gewone pionierdiens te betree, kan tot ’n bevredigende lewenswyse lei wat baie spesiale voorregte insluit. Planne wat ons verdiep hou in Jehovah se diens sal blywende voordele vir ons en vir ander bring.—1 Tim. 4:15, 16.