Kan jy hulppionierdiens doen?
1 Jesus het sy volgelinge aangemoedig om vrylik van hulself vir die bediening te gee, en hy het hulle daarvan verseker dat hulle gelukkig sal wees en talle geestelike seëninge sal ontvang as hulle hierdie weg volg (Matt. 10:8b; Hand. 20:35). Verlede April het meer as 6000 mense eerstehands die vreugdes gesmaak wat groter bedrywigheid as hulppioniers meebring. Kan jy vanjaar ook hierdie seëninge geniet deur vir Maart of April of miskien vir albei maande as ’n hulppionier in te skryf?—Ps. 34:9.
2 Ondersoek jou omstandighede: Vra jou die volgende vrae af terwyl jy die ondervindinge hieronder lees: ‘Sien ek myself in een van hierdie voorbeelde? Hoe kan ek die nodige aanpassings maak sodat ek hulppionierdiens kan doen?’
3 Een suster kon hulppionierdiens doen ondanks die feit dat sy vyf kinders en ’n sekulêre werk het. Hoe is sy beloon? Haar man en kinders het haar uitstekend ondersteun, en as gevolg van die suster se goeie voorbeeld is die man beweeg om die daaropvolgende maand ’n ongedoopte verkondiger te word.
4 In een gemeente het al die ouere manne en bedieningsknegte gedurende dieselfde maand as hulppioniers gedien. Die meeste van hulle het ’n sekulêre werk, maar hulle was oor naweke ywerig besig met geestelike bedrywighede. Die goeie leiding wat hulle in die predikingswerk en in die velddiensreëlings gegee het, het die hele gemeente tot voordeel gestrek. Van die 77 verkondigers het 73 daardie maand aan die een of ander vorm van pionierdiens deelgeneem.
5 ’n Vyftienjarige skoolmeisie het haar vakansie van twee weke gebruik om aan die hulppionierdiens deel te neem, en sy sê: “Ek kan beslis die verskil sien, veral ’n verbetering in die manier waarop ek gesprekke voer. Ek kon met baie meer mense by die deur gesels.”
6 Diegene wat afgetree het, het dikwels uitstekende geleenthede om Koninkryksbelange na te streef. Na haar man se dood het ’n 84-jarige suster geskryf: “Al my kinders was groot en getroud en het gesinne gehad. Hulle het my nie verwaarloos nie, maar hulle besoeke het my nie gehelp om die gevoelens van verlies en eensaamheid te bowe te kom nie. Toe het een van die ouere manne in ons gemeente voorgestel dat ek hulppionierdiens probeer. Ek het gehuiwer, maar het uiteindelik besluit om dit te probeer. Wat ’n vreugde! Ek het gevoel dat Jehovah my toegelaat het om so oud te word sodat ek aan die hulppionierdiens kon deelneem. Ek doen sedertdien elke maand hulppionierdiens.”
7 ’n Broer wat vaste eiendomme verkoop, het sy rooster om huise te vertoon so aangepas dat hy tyd aan die pionierdiens kon afstaan. Ander het hulle werk insgelyks aangepas om tyd in te ruim vir sulke groter bedrywigheid.
8 Tref nou reëlings: Waarom tref jy nie nou positiewe reëlings om in Maart en April hulppionierdiens te doen nie? As jy sukses wil behaal, is sorgvuldige beplanning nodig. Dit blyk duidelik uit die ondervindinge van diegene wat hulppionierdiens kon doen ondanks die feit dat hulle gesinsverantwoordelikhede, voltydse sekulêre werk en ander skriftuurlike pligte het. Gesels met ander wat welslae behaal het as pioniers en vind baat by hulle ervaring. Nader Jehovah ook in gebed en vra hom om jou te help.—Jes. 40:29-31; Jak. 1:5.
9 Dit ly geen twyfel nie, diegene wat hulle sake so reël dat hulle as hulppioniers kan dien, geniet baie seëninge. As jy nog nie in die voltydse diens is nie, kan jy hierdie voorreg geniet? As jy die poging aanwend om ’n groter aandeel te hê aan die voorreg om die goeie nuus aan ander te verkondig, sal Jehovah beslis ’n oorvloedige seën op jou uitstort.—Mal. 3:10.