Benodig—10 000 hulppioniers
Kan jy hulppionierdiens doen in Maart? April? Mei?
1 “Benodig 1000 predikers” was die titel van ’n artikel wat in die Watch Tower vir April 1881 gepubliseer is. Daarin is ’n beroep gedoen op alle toegewyde mans en vrouens, “aan wie die Here ’n kennis van Sy waarheid toevertrou het”, om enige beskikbare tyd te gebruik om Bybelwaarheid te versprei. Diegene wat die helfte of meer van hulle tyd uitsluitlik aan die Here se werk kon bestee, is aangespoor om hulle vrywillig aan te bied as kolporteurbedienaars—die voorlopers van die hedendaagse pioniers.
2 Hoewel tye sedert die 1800’s verander het, bly een ding ’n feit—God se toegewyde knegte wil aanhou om soveel tyd as moontlik te gebruik om die goeie nuus te versprei. Wanneer gemeentelike verkondigers as hulppioniers dien, help dit hulle om bekwamer te word namate hulle ekstra tyd in die Koninkryksbediening bestee.—Kol. 4:17; 2 Tim. 4:5.
3 Sedert die ontstaan van hulppionierdiens het honderdduisende broers en susters die vreugde daarvan gesmaak. Entoesiasme vir hierdie aspek van die pionierbediening het in so ’n mate toegeneem dat ’n hoogtepunt van meer as 10-000 hulppioniers in April 1990 in die gebied van die Suid-Afrikaanse takkantoor bereik is! Sedertdien was daar ’n toename in verkondigers in al die lande wat onder ons tak val, en dit sal hierdie syfer maklik bereikbaar maak. Daar is beslis die potensiaal om hierdie goeie poging gedurende die tydperk van spesiale bedrywigheid in 1997 te herhaal.
4 Ons spoor julle aan om julle dit ten doel te stel om gedurende een of meer maande in Maart, April en Mei hulppionierdiens te doen. Waarom word Maart ingesluit? Omdat die Gedenkmaal van Christus se dood vanjaar op Sondag, 23 Maart, val. Daar is geen beter manier waarop ons die weke voor die Gedenkmaal kan deurbring as om ywerig deel te neem aan die Koninkrykspredikingswerk wat ons Here en Redder, Jesus Christus, ingestel het nie. Met ’n groot hoop getuienis wat gedurende Maart gegee word, kan ons baie belangstellendes nooi om Christus se dood saam met ons te herdenk. Maart sal ook spesiaal wees omdat ons, vir die eerste keer, die nuwe boek Die geheim van gesinsgeluk gaan aanbied. Daarbenewens het Maart vyf Saterdae en vyf Sondae, wat ons in staat sal stel om oor naweke intensief bedrywig te wees in die velddiens. ’n Voortgesette ywerige poging in die bediening gedurende April en Mei sal ons natuurlik in staat stel om na belangstellendes toe terug te gaan en om nuwe tuisbybelstudies te begin deur die brosjure Wat vereis God van ons? te gebruik. Ons sal ons gebied, veral oor naweke, ook deeglik dek met die jongste, tydige nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! Onthou om intekeninge op hierdie twee uitstekende tydskrifte by elke geleentheid aan te bied om ’n onafgebroke stroom geestelike voedsel aan belangstellendes te verseker.
5 Wie kwalifiseer om hulppionierdiens te doen?: Georganiseer om ons bediening te vervul, bladsye 113-114, verduidelik: “As jy, ongeag jou persoonlike omstandighede, gedoop is, ’n goeie morele reputasie het, reëlings kan tref om die vereiste 60 uur per maand aan die veldbediening te wy en meen dat jy een of meer maande lank as ’n hulppionier kan dien, sal die gemeente se ouere manne jou aansoek om hierdie diensvoorreg met graagte oorweeg.” Kan jy vir hierdie voorreg tyd inruim gedurende Maart? April? Mei?
6 ’n Positiewe gesindheid aan die kant van die liggame van ouer manne tesame met die heelhartige ondersteuning van die res van die verkondigers behoort die reaksie op hierdie oproep om 10000 hulppioniers ’n dawerende sukses te maak (Heb. 13:7). Alle gesinshoofde word aangespoor om vas te stel hoeveel in hulle huisgesin die hulppionierdiens gedurende een of meer van die komende maande kan betree.—Ps. 148:12, 13; vergelyk Handelinge 21:8, 9.
7 Moenie vinnig die gevolgtrekking maak dat hulppionierdiens buite jou bereik is weens jou voltydse sekulêre werk, skoolrooster, gesinsverantwoordelikhede of ander skriftuurlike verpligtinge nie. Vir party sal dit dalk nie maklik wees om daaraan deel te neem nie; maar met goeie organisasie en Jehovah se seën kan hulle daarin slaag (Ps. 37:5; Spr. 16:3). Laat die begeerte om aan die pionierdiens deel te neem jou omstandighede beheer; moenie toelaat dat jou omstandighede jou begeerte om aan die pionierdiens deel te neem, beheer nie (Spr. 13:19a). Baie kan dus, met ’n sterk liefde vir Jehovah en vir hulle medemens, hulle weeklikse lewensroetine aanpas om hulle bediening ’n maand op ’n slag uit te brei (Luk. 10:27, 28). Baie seëninge wag op diegene wat hulle kragtig inspan in die Koninkryksdiens.—1 Tim. 4:10.
8 Wat hulppionierdiens bereik: Die heelhartige poging wat duisende van God se knegte aanwend om aan die hulppionierdiens deel te neem, lei tot ’n groot lofuitroep tot Jehovah. Namate hierdie Koninkryksverkondigers hulle inspan om die goeie nuus aan meer mense uit te dra, kom hulle self nader aan Jehovah omdat hulle leer om meer op hom staat te maak vir sy gees en seën.
9 As daar hulp-, gewone en spesiale pioniers in ons midde bedrywig is, bring dit ’n hernieude gees van lewenskrag in die gemeente voort. Hulle entoesiasme is aansteeklik terwyl hulle oor hulle velddiensondervindinge praat. Dit motiveer ander om hulle eie prioriteite en potensiaal om ’n uitgebreide deelname aan die allerbelangrikste bediening te hê in heroorweging te neem. ’n Suster wat op die ouderdom van 70 gedoop is, het onmiddellik op ’n voortgesette grondslag aan die hulppionierdiens begin deelneem. Toe sy ’n paar jaar later gevra is waarom sy haar, op haar ouderdom, nog elke maand so inspan in die bediening as ’n hulppionier, het sy gesê dat dit vir haar voel asof sy die eerste 70 jaar van haar lewe vermors het en dat sy nie enige van haar oorblywende lewensjare wou vermors nie!
10 Elkeen wat aan die hulppionierdiens deelneem, ontwikkel ’n verbeterde vaardigheid in die bediening. Een jong Getuie het erken: ‘Gedurende my vroeë kinderjare het ek my ouers in hulle predikingsbedrywighede vergesel. Velddiens was regtig pret. Maar mettertyd het dit tot my deurgedring dat ek by die skool anders was as die res. Dit het toe vir my ongemaklik geword om met die ander leerlinge oor die waarheid te praat. Wanneer ek die predikingswerk van huis tot huis gedoen het, wou ek nie eers daaraan dink dat ek dalk iemand wat ek van die skool ken, sou ontmoet nie. Ek dink in my geval was die probleem mensevrees [Spr. 29:25]. Ná ek skool verlaat het, het ek besluit om tydelik pionierdiens te probeer doen. Gevolglik het die predikingswerk ’n aantrekkingskrag gehad wat dit nooit voorheen gehad het nie. Ek het dit nie meer as ’n prettige bedrywigheid beskou nie, en dit was ook nie ’n swaar las nie. Toe ek sien hoe my Bybelstudente in die waarheid vorder, het ek ’n gevoel van diepe bevrediging ervaar weens die bewys dat Jehovah God my pogings gesteun het.’ Hierdie jongmens het toe as ’n gewone pionier begin dien.
11 Uit ’n praktiese oogpunt word die gebied deeglik gedek wanneer baie in die gemeente as hulppioniers dien. Die broer wat die gebied toewys, kan die hulppioniers vra om die dele wat selde gewerk word te help dek. As julle middagete inpak en ’n hele dag in die bediening bestee, sal dit moontlik wees om selfs die afgeleë hoeke van die gebied te dek.
12 Ouer manne moet voor die tyd reëlings tref: Reëlings moet gedurende die volgende drie maande getref word vir verskillende soorte getuieniswerk op verskillende tye van die week, met inbegrip van laat in die middag en vroeg in die aand, sodat soveel verkondigers as moontlik daaraan kan deelneem. Buiten die gewone huis-tot-huis-werk moet tye ingesluit word vir straatgetuieniswerk, om sakegebied te werk en om terug te gaan na diegene wat nie tuis was nie. Sodoende help ouer manne diegene wat aan die pionierdiens deelneem om saam met die gemeente velddiens te doen op ’n tyd wat vir die pioniers die praktiesste en gerieflikste sal wees. Die gemeente moet goed ingelig wees oor alle velddiensreëlings. Die behartiging van velddiensvergaderinge moet goed georganiseer wees en behoorlik gehou word selfs wanneer gemeentes ’n Sondagoggendvergadering het. Daarbenewens moet voldoende gebied beskikbaar gestel word, en genoeg tydskrifte en ander lektuurvoorraad moet stiptelik bestel word.
13 Beplan jou eie velddiensrooster: ’n Broer, wat aanvanklik skrikkerig was vir hulppionierdiens, het gesê: “Dit is werklik baie makliker as wat ek gedink het dit gaan wees. Dit verg net ’n goeie rooster.” Sien jy op die agterste bladsy van hierdie byvoegsel ’n voorbeeld van ’n hulppionierdiensrooster wat vir jou prakties sal wees? Vyftien uur elke week vir die bediening is al tyd wat van hulppioniers vereis word.
14 Huisvrouens en middagskofwerkers kan dikwels beplan om in die oggend hulle velddiens te doen sodat hulle as hulppioniers kan dien. Skoolkinders en nagskofwerkers kan oor die algemeen die laatmiddag aan die predikingswerk bestee. Diegene wat voltyds sekulêre werk doen, het gevind dat dit moontlik is om óf een dag per week van die werk af te neem óf volle naweke aan die bediening te bestee, buiten die aandgetuieniswerk wat hulle doen. Baie wie se velddiens meestal tot naweekbedrywighede beperk is, kies maande wat vyf volle naweke het. Vanjaar is dit die geval met Maart, sowel as Augustus en November. Gebruik die oningevulde rooster op bladsy 6 wat as ’n gids gegee word en dink versigtig en biddend na oor wat vir jou individuele omstandighede ’n praktiese persoonlike velddiensrooster sal wees.
15 Een voordeel van die voorsiening van hulppionierdiens is dat dit so buigsaam is. Jy kan die maande kies wanneer jy aan die pionierdiens wil deelneem, en jy kan dien so dikwels as wat jy wil. As jy graag op ’n voortgesette grondslag hulppionierdiens wil doen, maar nie kan nie, kan jy daaraan dink om elke tweede maand gedurende die jaar in te skryf. Aan die ander kant kan party vir lang tydperke deurlopend as hulppioniers dien.
16 Voorbereiding vir voltydse pionierdiens: Baie wat die pioniergees het, sal graag as gewone pioniers wil dien, maar hulle wonder of hulle die tyd, die omstandighede of die stamina daarvoor het. Die meeste van diegene wat tans gewone pionierdiens doen, het ongetwyfeld eers hulppionierdiens gebruik as voorbereiding vir die voltydse werk. Deur een uur per dag, of een vol dag per week, by ’n mens se hulppionierdiensrooster te voeg, is dit moontlik om die uurvereiste vir gewone pionierdiens te bereik. Om te sien of dit vir jou moontlik is, kan jy gerus gedurende een of meer maande van hulppionierdiens probeer om 90 uur in die bediening te bestee. Terselfdertyd sal jy herbesoeke en Bybelstudies opbou, wat jou in staat sal stel om ’n goed afgeronde pionierbediening te geniet.
17 Een suster het ses jaar lank ononderbroke hulppionierdiens gedoen. Dit was gedurende al daardie tyd haar doelwit om die gewone pionierdiens te betree. Met daardie doel voor oë het sy vier verskillende sekulêre betrekkings probeer in die hoop dat sy ’n situasie kon skep wat die vereiste van 90 uur binne haar bereik sou stel. Sy het elke maand een of twee roosters opgestel om te bereken of dit moontlik sou wees. Maar wanneer sy dit nagegaan het, het sy gevoel dat die voltydse diens buite haar bereik was. Sy het nogtans voortgegaan om Jehovah vir sy leiding te vra. Toe het sy, eendag terwyl sy vir die Diensvergadering voorberei het, ’n artikel in Ons Koninkryksbediening vir September 1991 gelees wat gesê het: “Pleks van onnodige klem op die uurvereiste te lê, kan ons gerus aandag skenk aan die groter geleentheid wat ons het om aan die insamelingswerk deel te neem (Joh. 4:35, 36).” Sy sê: “Ek het hierdie sin vyf of ses keer oorgelees, en ek was baie seker dat dit Jehovah se antwoord was. Op daardie oomblik het ek die besluit geneem om die gewone pionierdiens te betree.” Hoewel die rooster vir haar deeltydse sekulêre werk alles behalwe ideaal was, het sy haar aansoek vir gewone pionierdiens ingegee. ’n Week later is haar rooster verander en is sy sekulêre werksure gegee wat vir haar net reg was. Sy het afgesluit: “’n Mens kan Jehovah se hand hierin sien, nie waar nie?” en bygevoeg: “Wanneer jy Jehovah leiding vra en dit ontvang, moet jy nie daarvan weghardloop nie—aanvaar dit.” As dit jou opregte begeerte is om gewone pionierdiens te doen, sal jy dalk aan die einde van drie maande van hulppionierdiens hierdie Maart, April en Mei oortuig wees dat jy ook in die voltydse bediening sukses kan behaal.
18 Ons is seker dat Jehovah die ywer van sy volk sal seën en hulle pogings sal ondersteun terwyl hulle die goeie nuus van redding gedurende hierdie tydperk van spesiale bedrywigheid verkondig (Jes. 52:7, NW; Rom. 10:15). Sal jy die oproep om 10 000 hulppioniers beantwoord deur deel te neem gedurende Maart? April? Mei?
[Venster op bladsy 3]
Hoe Om Sukses Te Behaal As ’n Hulppionier
■ Wees positief oor jou verwagtinge
■ Bid tot Jehovah om jou pogings te seën
■ Nooi ’n ander verkondiger om saam met jou pionierdiens te doen
■ Stel ’n praktiese velddiensrooster op
■ Bestel genoeg tydskrifte
■ Ondersteun gemeentelike velddiensreëlings
■ Soek na geleenthede om informeel te getuig