Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 4/92 bl. 5-6
  • Gooi julle nette uit vir ’n vangs

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gooi julle nette uit vir ’n vangs
  • Ons Koninkryksbediening—1992
Ons Koninkryksbediening—1992
km 4/92 bl. 5-6

Gooi julle nette uit vir ’n vangs

1 Die simposium “Wees vissers van mense” by ons onlangse “Liefhebbers van Vryheid”-Streekbyeenkomste het ons almal baie aangemoedig. Hierdie driedelige simposium wat Sondagoggend gehou is, het ons gehelp om opnuut te kyk na ons werk om, in navolging van ons Heer, Jesus, die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak.—Matt. 24:14, NW; 28:19.

2 Ná ’n wonderdadige vangs het Jesus vir Petrus gesê: “Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense [“lewend”, NW] vang” (Luk. 5:10). Jesus het mense dus met visse vergelyk, en hy het nederige vissers genooi om hulle sekulêre beroep te laat vaar vir ’n baie edeler vorm van visvangs—om mense lewend te vang.

3 Wat beteken dit alles vir ons as individue? Toe Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes genooi is om vissers van mense te word, het hulle, volgens die teks, “alles verlaat en Hom gevolg” (Luk. 5:11). Wat ’n goeie voorbeeld! Kan ons dieselfde gees van selfopoffering aankweek, dieselfde bereidwilligheid om Jehovah te dien, ongeag wat dit ons kos?

4 Maar sê nou dit lyk tans of julle gebied onproduktief is? Moenie mismoedig word nie. Onthou, Jesus het die dissipels se nette gevul nadat hulle die hele nag tevergeefs vis probeer vang het. Dit kan ook in geestelike sin gebeur. Baie broers en susters was al bereid om na ander gebiede en lande te verhuis om hulle bediening uit te brei. Dit kan vergelyk word met vissers wat vind dat daar baie in hulle plaaslike waters visgevang word en dan na ander dele van die oseaan gaan.—Luk. 5:4-10.

5 In talle stedelike gemeentes is daar groot liggame van ouere manne, bedieningsknegte en ander bekwame broers. Het jy dit al oorweeg om na ’n gebied te verhuis waar daar ’n groter behoefte aan vissers van mense is? Kan jy help om kleiner gemeentes op te bou en om groot gebiede te dek wat nie gereeld gewerk word nie? Gee dan asseblief biddend oorweging aan die volgende lys gemeentes en gebiede waar jou dienste as geestelike visser dringend benodig word.

Beaufort-Wes: Nog blanke verkondigers word benodig om die dorpsgebied te dek. Daar is genoeg gebied vir etlike pioniers. Afgetrede egpare word ook aangemoedig om hulle visvangbedrywighede na hierdie gebied uit te brei. Die gemeente met 26 verkondigers, een ouere man en 2 bedieningsknegte het hulle eie Koninkryksaal.

Bethlehem: ’n Klein gemeente met 21 verkondigers. In hierdie gebied is daar ’n groot dorp en talle kleiner dorpies wat gedek moet word. Sterk gesinne word benodig.

Calvinia, Klawer, Van Rhynsdorp, Vredendal: Hierdie groot gebied het die hulp van verkondigers dringend nodig. Sterk gesinne en pioniers word aangemoedig om na hierdie gebied te verhuis. Die naaste gemeentes is in Nababeep en Saldanhabaai.

Cradock: Die pioniers en verkondigers in Graaff-Reinet sien nou na hierdie dorp om. Dit is ’n groot gebied wat etlike pioniers besig kan hou. Gesinne word aangemoedig om na hierdie gebied te verhuis om die werk hier behoorlik op dreef te kry en die grondslag vir ’n nuwe gemeente te vorm.

De Aar: Hierdie groot dorp in die Karoo het die hulp van bekwame verkondigers nodig om die blanke gebied te dek. Die gemeente met 26 verkondigers sien ook om na etlike kleiner dorpies in die omgewing.

Grabouw: ’n Groot landbougebied waar daar baie belangstelling getoon word. ’n Klein gemeente kan gestig word as bekwame broers hulleself beskikbaar stel. Die gemeente in Somerset-Wes sien op die oomblik na die belangstelling om. Daar is ongeveer 20 verkondigers in die gebied en sommige van die vergaderinge word daar gehou.

Kimberley: Die Sentraal-gemeente het 49 verkondigers, 5 ouere manne en 2 bedieningsknegte. Nog ouere manne met sterk gesinne word benodig. Daar is ook meer pioniers nodig.

Florianville-gemeente het ’n groot gebied. Daar is 35 verkondigers, 4 ouere manne en 2 bedieningsknegte, en hulle sal die bykomende hulp van bekwame ouere manne en bedieningsknegte waardeer.

Lichtenburg: Hierdie klein gemeente in Wes-Transvaal bestaan uit vyf verkondigers, en daar is geen broer om die leiding te neem nie. Gesinne word aangemoedig om hierheen te verhuis.

Lydenburg: ’n Klein gemeente met 13 verkondigers, een ouere man en 2 bedieningsknegte. Hulle het grond gekoop om hulle eie Koninkryksaal te bou. Nog ouere manne en bedieningsknegte wat gesinsmanne is, word benodig.

Mmabatho (Mafikeng): Engelssprekende gemeente met 32 verkondigers, 3 ouere manne en 2 bedieningsknegte. Sterk gesinne en pioniers word benodig. Dit is ’n groot gebied, en baie reageer gunstig op die waarheid.

Paarl: Hierdie gemeente met 42 verkondigers het ’n groot gebied om te dek, waaronder die blanke bevolking van Wellington. Pioniers, wat verkieslik ervare is, ouere manne en bedieningsknegte word dringend benodig.

Riversdale: Gemeente met 25 verkondigers, een ouere man en 2 bedieningsknegte. Sterk gesinne word aangemoedig om na hierdie gebied te verhuis om die verkondigergeledere aan te vul en om saam met die plaaslike verkondigers te werk sodat daar ’n deeglike getuienis in Riversdale en omliggende gebiede gegee kan word.

Somerset-Oos: ’n Klein groepie van agt verkondigers met een ouere man en een bedieningskneg. Het dringend die hulp van ’n ouere man, verkieslik ’n gesinsman, nodig. Daar is genoeg gebied vir etlike pioniers.

Umtata-sentraal (Transkei): Engelssprekende gemeente met 32 verkondigers, 2 ouere manne, 2 bedieningsknegte en een gewone pionier. Afgetrede egpare waar die man as ouere man of bedieningskneg dien, word dringend benodig. Groot kosmopolitiese gebied vir pioniers.

Upington: Hierdie gemeente sien om na die uitgestrekte gebied langs die Oranjerivier. Daar is 50 verkondigers, 4 ouere manne en 2 bedieningsknegte. Twee egpare wat spesiale pioniers is, werk saam met hierdie gemeente. Ouere manne en bedieningsknegte met sterk gesinne word aangemoedig om na Upington te verhuis. Veral die mense in Upington en omliggende gebiede het ’n deeglike getuienis nodig. Daar is genoeg gebied vir nog baie pioniers.

Lesotho:

Maseru English-gemeente: Hierdie nuutgestigte gemeente het 32 verkondigers. Nog ouere manne, bedieningsknegte en pioniers word dringend benodig.

Namibië:

Daar is ’n behoefte aan ouere manne, bedieningsknegte, pioniers en sterk gesinne in baie gemeentes in Namibië. Voor onafhanklikheid het sommige gesinne Namibië verlaat en na Suid-Afrika verhuis. Ons wil hierdie gesinne en ander met Namibiese burgerskap aanmoedig om dit te oorweeg om, indien dit prakties moontlik is, na Namibië terug te keer om in die behoefte te voorsien. Julle kan met die Genootskap in verbinding tree as julle meer inligting verlang. Plekke waar daar baie hulp nodig is, sluit die volgende in:

Keetmanshoop: Klein gemeente met agt verkondigers en geen ouere manne of bedieningsknegte nie. Susters neem die leiding in die gemeente. Hulle sal die hulp van bekwame broers, verkieslik ouere manne en bedieningsknegte, waardeer.

Tsumeb: Gemeente met 29 verkondigers, een ouere man en 4 bedieningsknegte. Hulle sien nie net na die werk in Tsumeb om nie, maar ook na die werk in Grootfontein en ander omliggende gebiede.

6 Diegene wat bereid is om opofferings te maak om te dien waar daar meer hulp nodig is, kan verseker wees van Jehovah se seën. “Toe begin Petrus vir Hom [Jesus] sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters . . . ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel . . . en in die eeu wat kom, die ewige lewe.”—Mark. 10:28-30.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel