Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 8/92 bl. 3-4
  • Positiewe stappe tot verdere vooruitgang

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Positiewe stappe tot verdere vooruitgang
  • Ons Koninkryksbediening—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Help nuwe verkondigers
    Ons Koninkryksbediening—1986
  • Besef jy hoe belangrik dit is om geestelike vooruitgang te maak?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Help nuwelinge om deel te hê aan Koninkryksvermeerdering
    Ons Koninkryksbediening—1985
  • Hou aan om geestelik te vorder!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1992
km 8/92 bl. 3-4

Positiewe stappe tot verdere vooruitgang

1 Die meeste van ons het nou al die jaarboek vir 1992 deurgelees. Dit het ons harte verbly om te lees van die wêreldwye hoogtepunt vir 1991 van meer as vier en ’n kwart miljoen Koninkryksverkondigers in 211 lande—’n vermeerdering van 6,5 persent! Die Koninkryksvermeerdering wat nou deur die hele wêreld plaasvind, is ongetwyfeld ’n treffende bewys van die vervulling van Jesaja 2:2-4 en Miga 4:1-4.

2 Hoewel die verslag vir die 1992-diensjaar nog nie volledig is nie, is dit duidelik dat Jehovah hierdie diensjaar met uitsonderlike vermeerdering bekroon. Mense word steeds uitgenooi om by ons reuse- internasionale broederskap aan te sluit. Die bywoningsyfer vir die Gedenkmaal en die streekbyeenkomste toon dat miljoene mense aan die Koninkryksboodskap gehoor gee. Uit alle nasies reageer hulle gunstig op die geïnspireerde uitnodiging: “Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.”

3 Wees vasbeslote om vooruitgang te maak: Jehovah se organisasie beweeg vooruit. Met soveel nuwelinge wat na die berg van Jehovah se ware aanbidding stroom, is dit noodsaaklik dat elkeen positiewe stappe doen om geestelike vooruitgang te maak en dan diegene wat minder ervaring het, te help om dieselfde te doen. Die noodsaaklikheid vir sulke vooruitgang word te kenne gegee deurdat diegene wat gunstig op die uitnodiging reageer om na die berg van Jehovah op te trek aan ander sê: “Kom.” Die apostel Johannes het van iets soortgelyks in Openbaring 22:17 gepraat: “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom!”

4 Jesus het getoon hoe hierdie uitnodiging aan ander gerig moet word. Wanneer mense gunstig op sy boodskap gereageer het, het hy hulle genooi om aan sy bediening deel te neem en hulle geleer hoe om dit te doen (Matt. 4:19; 10:5-7, 11-14). Sy dissipels het sy doeltreffende metodes aangeleer deur hom te vergesel en te kyk hoe hy dinge doen. Daarna het hulle dieselfde patroon in hulle bediening gevolg. Hulle het sy metodes só goed aangeleer dat hulle moedige getuieniswerk die aandag van teenstanders getrek het wat duidelik kon sien dat hulle Jesus se dissipels was. Handelinge 4:13 sê: “En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien . . . het hulle [hulle] as metgeselle van Jesus herken.”

5 Voordat Jesus na die hemel teruggekeer het, het hy sy dissipels beveel om die Christelike bediening voort te sit deur nuwe dissipels te maak en hulle te leer net soos hulle self geleer is. Jesus het in Mattheüs 28:19, 20 beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” En om te toon dat dit tot in ons dag moes voortgaan, het hy hierdie versekering bygevoeg: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”

6 Jesus Christus se ware dissipels het nie nagelaat om sy opdragte uit te voer om nuwe dissipels al die dinge te leer wat hy beveel het nie. Maar weens die uitsonderlike groei in die wêreldwye gemeente van Jehovah se Getuies moet ons aandag gee aan die besondere behoeftes van pasgedoopte lede van die gemeente en ongedoopte verkondigers, sowel as mense met wie ons die Bybel studeer en wat dalk begin om gemeentelike vergaderinge redelik gereeld by te woon.

7 Aan die begin van die 1992-diensjaar was ongeveer 1 uit elke 9 verkondigers maar slegs een jaar in die bediening bedrywig. Daarbenewens was 1 uit elke 6 drie jaar of minder ’n verkondiger; en 1 uit 4 was hoogstens vyf jaar in die bediening bedrywig. Hoewel baie nuwelinge goeie vordering gemaak het sedert hulle lede van die gemeente geword het, sal verdere bystand in sekere aspekte ongetwyfeld help om hulle geestelike vooruitgang te bespoedig.

8 Hebreërs 6:1 spoor almal aan om ‘tot rypheid voort te gaan’ (NW). Christelike rypheid behels baie meer as om net ’n velddiensrapport in te gee. Dit behels dat ons vooruitgang maak in persoonlike studie en gereelde vergaderingbywoning sowel as in ywerige deelname aan die veldbediening. Dit behels ook dat ons ander help om tot ’n kennis van die waarheid te kom wat tot redding lei. Ons moet ons daarop toelê om bekwamer te word in ons ‘redenering uit die Skrif’ (Hand. 17:2, NW). Dit kos tyd om tot rypheid te groei, en dit hang grootliks af van ons godvrugtige toegewydheid en hoeveel praktiese ondervinding ons in die veld opdoen. Hoewel die diepte van ons eie godvrugtige toegewydheid van ons afhang, is dit verstandig as ons toelaat dat ander ryp broers en susters ons help om praktiese ondervinding op te doen. Ons kan uit hulle ervaring, veral in die veldbediening, leer. Ons hoef nie alles uit ons eie foute te leer nie.

9 Hulp vir die onervarenes: Die patroon waarvolgens ander gehelp word, is met die begin van die Christengemeente neergelê. Jesus het sy dissipels onderrig (Mark. 3:14; Luk. 9:1; 10:1). Hulle het op hulle beurt ander geleer. Timotheüs het spesiale aanmoediging en hulp van die apostel Paulus ontvang, en die dissipel Apollos het met die persoonlike hulp van die bewamer Aquila en Priscilla vooruitgang gemaak (Hand. 18:24-27; 1 Kor. 4:17). Bekwame lede van die Christengemeente volg vandag daardie voorbeelde deur diegene met minder ervaring, veral nuwelinge en jongmense, te onderrig en aan te moedig. Soos Romeine 15:1, 2 sê: “Op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie.”

10 Dit is ouers se verantwoordelikheid om positiewe stappe te doen om hulle kinders te help sodat hulle geestelike vooruitgang maak. Dit behels dat hulle ’n gesinstudie hou, die kinders leer hoe om persoonlike studie te doen, die vergaderinge gereeld bywoon en daaraan deelneem en dat hulle gereeld toepas wat hulle leer (Ef. 6:4; 1 Tim. 5:8). Gemeentelike Boekstudiehouers moet veral die leiding neem en reëlings tref sodat almal in hulle boekstudie- en velddiensgroepe gehelp word om geestelike vooruitgang te maak. Die diensopsiener en ander ouere manne, sowel as bedieningsknegte en ander gemeentelede, kan ook help.

11 Voorsien wat nodig is: Persone het dalk net hulp nodig in ’n sekere aspek van Christelike bedrywighede, soos persoonlike studie. Iemand het miskien wenke nodig om ’n praktiese studierooster op te stel. Iemand anders het dalk hulp nodig om kommentare of toewysings voor te berei. Ander moet dalk leer hoe om navorsing oor Bybelonderwerpe te doen.

12 Baie nuwelinge het hulp in die veldbediening nodig. ’n Verkondiger wil moontlik bekwamer word in die huis-tot-huis-werk, met herbesoeke of om ’n Bybelstudie te begin en te hou. ’n Paar oefensessies waartydens die voorgestelde inleidings en aanbiedings in die Redenering-boek of in Ons Koninkryksbediening gebruik word, sal moontlik genoeg wees. In ander gevalle is wenke vir ’n praktiese velddiensrooster en hulp om dit te volg miskien al wat nodig is. As ’n mens definitiewe reëlings tref om saam met iemand te werk wat hulp nodig het, sal dit hom of haar help om spesifieke doelwitte na te streef.

13 God se Woord moedig ons aan om ons geestelike vooruitgang vir ander duidelik te laat wees. Dit was die raad wat Paulus in sy brief aan sy medewerker Timotheüs gegee het (1 Tim. 4:15). In ooreenstemming met daardie aanmoediging het die apostel beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat ons oefen asof ons aan ’n wedloop gaan deelneem of sodat ons die geestelike stryd met welslae kan voer (1 Kor. 9:24-27; 2 Kor. 10:5, 6). Ons moet alles wat ons omtrent God se wil leer sonder versuim toepas sodat diegene wat ons sien in ons ’n sprekende voorbeeld van ware Christelike geloof sal sien. Ons moet eweneens vooruitgang maak in die kuns om ander te leer om toegewyde dissipels van Jesus Christus te word.—Jak. 1:22-25; 1 Tim. 4:12-16.

14 Vooruitgang behels dat ons beproewinge verduur: Selfs Jesus Christus het waardevolle lesse geleer uit wat hy gely het (Hebr. 5:8). Ons kan ook. Ons maak derhalwe groter geestelike vooruitgang wanneer ons die positiewe beskouing het wat in Jakobus 1:2, 3 aangemoedig word: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.” Of ons dus te kampe het met die uitdaging van chroniese siekte, ekonomiese probleme, ’n verdeelde huisgesin, teenstand in die gebied of enige van die talle ander ongunstige omstandighede, ons het Jehovah se versekering dat ons met sy hulp kan seëvier en kan voortgaan om in ons aanbidding van hom vooruitgang te maak (1 Kor. 10:13; 2 Kor. 12:9; 1 Pet. 5:8-11). ’n Mens behaal welslae deur onder alle omstandighede standvastig te bly en ‘die woorde van God te spreek en te dien uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus’.—1 Pet. 4:11.

15 Aanvaar hulp vir verdere vooruitgang: As jy hulp nodig het om verdere geestelike vooruitgang te maak, moet jy gewillig wees om hulp van ’n meer ervare lid van die gemeente te aanvaar. Selfs al het iemand nog nie aangebied om jou te help nie, is dit nie nodig dat skuheid jou verhinder om hulp te verkry nie. Vra hulp. Vra gerus die hulp van enige van die ervare gemeentelede. Of jy kan jou Gemeentelike Boekstudiehouer, die diensopsiener of enige van die ander ouere manne die nodige hulp vra.—Vergelyk Genesis 32:26; Mattheüs 7:7, 8.

16 Dit is inderdaad ’n wonderlike voorreg om deel uit te maak van die toenemende internasionale “groot menigte” wat na Jehovah se berg van ware aanbidding stroom (Openb. 7:9). Dit is ook ’n voorreg om ander te nooi om saam met ons daarheen op te gaan. Mag ons met hartgrondige waardering voortdurend positiewe stappe doen om verdere vooruitgang te maak, ons geestelikheid op te bou en te doen wat ons kan om ander te help om saam met ons in Jehovah se diens vooruitgang te maak.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel