Vergaderingbywoning—’n ernstige verantwoordelikheid
1 Hoe ernstig beskou jy vergaderingbywoning? Dit is ’n indringende vraag, nie waar nie? Die meeste van ons meen ongetwyfeld dat ons die vergaderinge waardeer. Verslae toon egter dat vergaderingbywoning onlangs in baie gemeentes afgeneem het. Wat kan die oorsaak wees? Laat party van ons toe dat onnodige sekulêre werk, moegheid, huiswerk, ’n effense fisiese ongesteldheid of ’n bietjie slegte weer inmeng met ons verpligting om vergaderinge gereeld by te woon? (Deut. 31:12). Aangesien dit ’n skriftuurlike vereiste is, moet ons elkeen die volgende vraag biddend oorweeg: “Hoe ernstig beskou ek vergaderingbywoning?”
2 Van ons broers loop ure lank langs stowwerige paaie en steek riviere vol krokodille oor sodat hulle vergaderinge kan bywoon. Daar is dalk getroues in julle eie gemeente wat ‘nooit wegbly nie’ ondanks ernstige gesondheidsprobleme, fisiese gebreke, druk by die werk of tydrowende projekte by die skool (Luk. 2:37). Waarom wend hulle die poging aan om by die vergadering te wees? Omdat hulle weet dat hulle die uitdagings van hierdie wêreld met al sy druk nie op hulle eie krag die hoof kan bied nie. Hulle moet op die krag vertrou wat God voorsien.—2 Kor. 12:9, 10.
3 Ons volg vandag die voorbeeld van die vroeë Christene wat gereeld gebid, ondervindinge gedeel en God se Woord bestudeer het (Hand. 4:23-30; 11:4-18; Kol. 4:16). Ons ontvang onderrigting oor Bybelprofesieë en -leerstellings, asook godvrugtige gedrag en Christelike sedes, tesame met tydige vermanings oor hoe ons nou ons lewens kan verbeter deur nougeset skriftuurlike beginsels toe te pas (1 Tim. 4:8). Daarbenewens word ons herinner aan die hoop wat ons koester dat probleme en lyding eendag tot ’n einde sal kom. Dit is noodsaaklik dat hierdie hoop lewend gehou word.—Hebr. 6:19, NW.
4 Hoe ernstig beskou jou gesin vergaderingbywoning? Is dit nét so ’n belangrike deel van jou rooster soos maaltye of sekulêre werk? Vind jy dat jy op vergaderingaande wik en weeg of jy sal gaan of nie, of is gereelde omgang met jou broers nie opsioneel in jou huisgesin nie? Baie verkondigers onthou die voorbeeld wat hulle toegewyde ouers gestel het toe hulle nog kinders was. “Een ding van my pa”, onthou ’n ouere man met ’n glimlag, “was dat hy altyd seker gemaak het die gesin gaan vergaderinge toe. As iemand siek was, het een van ons tuis by hom gebly, maar die res het vergadering toe gegaan!”
5 In toekomstige nommers van Ons Koninkryksbediening sal ons die waarde van elke gemeentelike vergadering bespreek met die doel om waardering vir hierdie geestelike voorsienings te help opbou. As jy vergaderinge meer gereeld kan bywoon, is ons seker die artikels sal jou help om te besef wat jy misloop. Hulle sal nuttige herinnerings insluit vir diegene wat die leiding by die vergaderinge neem, asook voorstelle wat ons almal kan toepas wanneer ons vir vergaderinge voorberei en daaraan deelneem. Waarom kom julle nie as ’n gesin bymekaar en bespreek julle vergaderingbywoning biddend nie? Bring dan enige nodige veranderinge in julle rooster aan. Gereelde vergaderingbywoning is ’n noodsaaklike deel van ons teokratiese opleiding en moet inderdaad as iets baie ernstigs beskou word.