Ondersteun julle gemeente se program vir Openbare Vergaderinge ten volle
1 ’n Paar jaar gelede het ’n jong man ’n strooibiljet gevind waarop die vergaderinge van die plaaslike gemeente geadverteer is. Aangesien hy na die waarheid gesoek het, het hy besluit om daardie Sondag die Openbare Vergadering by te woon, en hy het lank voor die tyd by die saal opgedaag. ’n Verkondiger het hom hartlik gegroet en hom gedurende die gesprek ’n Bybelstudie aangebied, wat hy van die hand gewys het. Hy was egter so beïndruk deur die goed voorbereide openbare toespraak dat hy van gedagte verander het en na afloop van die vergadering die studie aanvaar het. Hierdie jong man het vinnig vordering gemaak en het hom ’n paar maande later laat doop. Ons kan ten minste drie nuttige lesse uit hierdie ondervinding leer.
2 Eerstens was die Openbare Vergadering geadverteer. Gebruik julle gedrukte strooibiljette om die program vir julle gemeente se vergaderinge te adverteer? Wanneer die voorsitter die titel van die openbare toespraak aankondig wat die volgende week gehou gaan word, moet jy aan mense in julle gebied dink wat veral in die onderwerp sal belangstel, ongeag of hulle tans ons lektuur lees of nie. Party mense hou nie daarvan om te lees nie, of hulle sukkel baie om te lees, maar dalk is hulle bereid om na ’n toespraak oor ’n skriftuurlike onderwerp te luister.
3 Tweedens is die nuweling hartlik verwelkom. As jy jou dit ten doel stel om so vroeg as moontlik by die saal te wees, kan jy jou broers en susters sowel as enige belangstellendes groet (Hebr. 10:24). Wanneer ’n nuweling die vergadering vir die eerste keer bywoon, weet hy dalk nie wat om te verwag nie. Verduidelik aan hom dat ons ons vergaderinge met sang en gebed open en vertel hom hoe die vergaderinge gehou gaan word. As dit gepas is, kan jy hom nooi om langs jou te sit sodat jy jou Bybel en liedereboek met hom kan deel. Moedig hom aan om enige vrae wat hy dalk na afloop van die vergadering mag hê met jou te bespreek.
4 Derdens was die toespraak goed voorberei. Diegene wat die voorreg het om die gemeente as openbare sprekers te verteenwoordig, bestee baie ure daaraan om die materiaal voor te berei en te oefen sodat hulle die gehoor tot groter liefde en goeie werke kan aanspoor. Ons verkeer almal vandag onder druk, en die verfrissende waarhede van God se Woord is net wat ons nodig het om ons te help volhard. Al is die toespraak ook hoe insiggewend sal dit ons natuurlik van weinig nut wees as ons nie noukeurig aandag skenk aan wat gesê word nie. Vind jy dat jy soms sukkel om gedurende die toespraak te konsentreer? Dit sal dalk help om kort aantekeninge te maak, soos ons dikwels gedurende ons byeenkomste doen. Maak seker dat jy in jou Bybel volg wanneer elke teks gelees en verduidelik word.
5 Die Genootskap het openbare toesprake oor ’n groot verskeidenheid van skriftuurlike onderwerpe voorsien. Die liggaam van ouere manne werk deur die presiderende opsiener of deur ’n broer wat hy aangestel het om die gemeente se program vir Openbare Vergaderinge te koördineer. Onderwerpe waarvoor die Genootskap sketse voorsien, word gekies om huidige, plaaslike behoeftes te bespreek. Moenie enige van hierdie lewensbelangrike inligting misloop nie, en ondersteun julle gemeente se weeklikse Openbare Vergadering ten volle.