Wakker belangstelling aan in God se Koninkryk van vrede
1 Gedurende Februarie gaan ons die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe aanbied. Dit moet ons doelwit wees om opregtes van hart te help om ’n waardering op te bou vir God se Koninkryk en vir wat dit tot stand gaan bring. Beskouingsvrae kan ons in hierdie opsig help.
2 Die traktaat “Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld” kan gebruik word om die aanbod in te lei. Nadat ons vriendelik gegroet het, kan ons iets sê soos:
◼ “Daar vind wêreldwyd verbasende veranderinge in regerings plaas, en vrede word dikwels as ’n doelwit gemeld. Dink jy ware vrede sal ooit bewerkstellig word? [Laat die huisbewoner antwoord.] Baie stel hulle hoop op menseheersers om vrede te bewerkstellig, maar let op hoe God in Psalm 46:10 belowe om vrede te bring. [Lees.] Watter veranderinge op aarde dink jy sal God se optrede teweegbring? [Luister na die huisbewoner se antwoord en wys hom dan die traktaat Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld.] Kan jy dít wat hier voorgestel word, visualiseer?” Bespreek die materiaal onder die tussenhofie “Die lewe in God se nuwe wêreld”. As die omstandighede dit toelaat, kan jy die huisbewoner se aandag vestig op die inligting op bladsye 156-62 in die Paradys op aarde-boek. Bied die publikasie aan teen ’n bydrae van R9,00. Laat die traktaat by die huisbewoner of hy nou die boek neem of nie. Ons kan die gesprek afsluit deur te vra: “Dink jy dat ’n regering deur God hierdie veranderinge teweeg kan bring?” Tref reëlings om terug te gaan en die gesprek voort te sit.
3 Of ons kan sê:
◼ “Daar word baie kommer uitgespreek oor ontstellende probleme waarvoor ons almal daagliks te staan kom. Dink jy daar is enige hoop dat hierdie probleme opgelos sal word? [Laat die huisbewoner antwoord.] Party meen dalk dat God onverskillig staan teenoor ons benarde situasie. Maar kyk wat hy in Openbaring 21:3,4 belowe het.” Lees die verse. Op hierdie stadium kan jy die huisbewoner se aandag op die Paradys op aarde-boek vestig. Jy kan dalk vra: “Waarom laat God lyding toe?” Wys hom hoofstuk 11 in die Paradys op aarde-boek. As die tyd dit toelaat, kan jy die huisbewoner se aandag kortliks vestig op paragrawe 1 en 2 op bladsy 99. Maak die aanbod en sê vir die huisbewoner dat jy graag hierdie bespreking tydens die volgende besoek wil voortsit.
4 As die huisbewoner reeds die publikasie het of die aanbod om die een of ander rede van die hand wys, kan jy die jongste tydskrifte aanbied deur kommentaar te lewer oor ’n spesifieke punt in ’n gekose artikel.
Jy kan die tydskrifte aanbied deur te sê:
◼ “Hierdie artikel bespreek die onderwerp in verdere besonderhede. [Lees een of twee vooraf uitgesoekte sinne.] Die artikel voorsien bykomende gedagtes wat vir jou en jou gesin bemoedigend sal wees. Aangesien dit lyk of jy in hierdie onderwerp belangstel, wil ons graag hierdie nommer en sy medetydskrif by jou laat teen ’n bydra van R1,60.”
5 Mense is vandag dikwels verward oor waar hulle oplossings kan kry vir die probleme waarmee die mensdom te kampe het. Ons het die voorreg om hulle ’n helder hoop vir die toekoms te gee (Hand. 17:27). Laat ons dus ywerig mense se aandag op God se Koninkryk vestig, die ware bron van vrede.